“Sal God dan nie aan sy uitverkorenes, wat dag en nag tot Hom roep, reg doen nie?”
(Lukas 18:7)
Jesus vertel gelykenisse dat ons beter kan
verstaan wat belangrik is vir God en sy koninkryk. In Lukas 18 leer ons meer by
Hom oor gebed, ons heel belangrikste kontak wat ons met Hom het.
‘n Weduwee kom smeek by ‘n regter vir hulp met
iemand wat haar erge skade aandoen. Dit moes ‘n baie ernstige saak gewees het,
want sy hou eenvoudig net nie op om die regter lastig te val om hulp nie. Die
regter is egter ‘n baie harde en gewetenlose mens – hy het geen ontsag vir God
of vir enige ander mens nie. Die weduwee se herhaaldelike lastig val en sy
vrese dat sy hom kan klap, maak dat die regter ingee.
Wat het dit presies met gebed te doen? Die
agtergrond van hierdie vertelling van Jesus, is Jesus se dissipels wat Hom
uitvra oor die wederkoms waarvan Hy hulle vertel het. Dit help ons om te
verstaan, dat al voel dit asof die Here uitstel om weer te kom en ons in die
proses moedeloos kan word, is dit nie nodig om moedeloos te word nie.
As hierdie ongenadige regter uiteindelik tog
ingee, is hy geensins te vergelyk met ons hemelse Regter nie. Ons hemelse Vader
is die genadige Een by uitnemendheid. Hy hoor as ons in gebed by Hom pleit vir
hulp. Hy weet die heel beste wat sy uitverkorenes die nodigste het. Hy ken ons
behoeftes beter as wat ons dit self besef. Hy hoor wel as ons aanhoudend vra,
al ervaar ons baie keer dat Hy nie gee wat ons vra nie. Sonder dat ons dit
dadelik of soms enigsins agterkom, gee Hy wel. Baie keer gee Hy beter as wat
ons vra, ons kom dit nie noodwendig altyd agter nie.
Ek weet nie waarmee jy op die oomblik stoei in
jou lewe nie? Maar daar is ‘n Vader in die hemel wat weet! Ek weet nie wat maak
jou moedeloos in jou gebedslewe nie? Daar is Iemand baie besonders, wat jou wel
duidelik raaksien op moed-verloor-se-vlakte!
Glo met jou hele mens-wees: jy is ‘n
uitverkorene van God! Hou aan om dag en nag tot Hom te roep, Hy sal reg doen in
jou lewe! Want, Hy is Wie Hy is!!!
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.