Monday, December 9, 2013

Oordenking 15 Desember 2013

Johannes 1 Advent: Sy heerlikheid “IS”!

“Ons het sy heerlikheid gesien ... vol genade en waarheid.” (Johannes 1:14)

Feitlik elke Kersfees dink ek hoe gelukkig was al die mense wat Jesus persoonlik gesien het terwyl Hy fisies hier op aarde was. Gewone mense soos ek en jy: Maria, Josef, sy dissipels, almal wat Hom hoor praat het by die Bergpredikasie, die geestelike leiers van daardie tyd, die politieke leier Pilatus, en nog honderde ander mense by verskeie geleenthede. Ja, Jesus wás ‘n gewone mens wat tussen die mense rondbeweeg het. En ongelukkig dink die meerderheid mense dat ons Hom eers in die hemel weer sal sien, en intussen ...

Intussen is dit glad nie so sleg nie, daarom het Hy juis destyds mens geword: dat ons God reeds vandag kan síén! Én die ongelooflike waarheid is dat Hy in elke Jesus-mens gesien kan word. Ons moet net mooi kyk in onsself en in die Jesus-mense rondom ons. Niemand van ons kan en sal ooit soos Hy lyk nie, maar Hy kom gee deur sy Gees sý karaktereienskappe ín ons.

In Johannes 1 word na twee uitsonderlike sigbare Jesus-waarhede ín ons verwys. Ín hierdie waarhede sien ons “sy heerlikheid”, sien ons wie Jesus in ons is en word. Én Hy maak ons “vol” van sy heerlikheid, tot oorlopens toe vol van Homself. Hy maak ons “vol van God”, want Jesus is ons enigste toegang tot wie God sigbaar is. Gee Hom net die volle kans ...

• Gee Jesus die volle kans om jou vol te maak met sy genade: sonder verdienste ís jy sy kind; sonder inspanning kán jy waarlik lewe; gratis ontvang jy ál die rykdom van sy koninkryk; jy ís reeds vir al jou sonde vergewe; Jesus ís besig om Homself meer sigbaar in jou te maak; Hý IS Jesus-mens ín jou!

• Gee Jesus die volle kans om jou vol te maak met sy waarheid: Hy hét mens geword; Hy ís jou unieke Redder; Hy wíl jou laat lewe vol van sý Gees; Hy wíl Geluk ín jou wees; Hý is jou enigste troos in lewe en in sterwe; Hý maak van jou ‘n nuwe mens; Hý IS Jesus-mens ín jou!
Die baie goeie nuus oor die waarheid van Jesus wat mens geword het en mens is, is dat Hy vandag dié Sigbare Een ín ons “IS. Die werklikheid is dat Hy teenwoordig “IS”.

Sien Hom in Advent 2013 vir Wie Hy werklik “IS”!

Jesus ís ín óns! Jesus ís ín jóú!

Doom Charl

Tuesday, December 3, 2013

Oordenking 8 Desember 2013

Johannes 1 Advent: Die Lewe “IS”!

“In Hom was daar lewe ...” (Johannes 1:4a)

Kom ons fokus vir ‘n oomblik op die waarhede ten opsigte van die Lewe/lewe wat direk te doen het met Jesus se menswording:

• Jesus het nodig gehad om die hemelse heerlikheid as ware God te verlaat, steeds volledig God te wees en ter wille van ons sonde-verdoemenheid op aarde mens te word vir ons, sodat Hy die Lewe/lewe vir ons kan wees: Hy IS Lewe, ter wille van óns! Hierdie eerste waarheid oor “lewe” het vir my met tyd te doen: Jesus lewe as Beginlose van ewigheid af; as Lewende Een kom Hy as mens aarde toe vir die dood-veroordeelde mens; SLEGS deur Jesus se sterwe aan die kruis én direk gekoppelde opstaan uit die dood, IS Hy Lewe in elke Jesus-mens vandag; én Hy sál alleen Lewe bly tot in ewigheid!

• Die tweede evangeliese waarheid oor die “lewe” het te doen met sterwe: sonder Jesus is alle sondaars verdoem tot die ewige dood, waar daar geen Lewe (geen God), sal wees nie. Nadat die mens van nature, dit is uit eie vrye wil waarmee elke mens gebore word, van die boom van die lewe in die tuin van Eden geëet het, sal elke mens fisies sterwe: “Stof is jy, en jy sal weer stof word.” (Genesis 3:19c) Om hierdie gegewe waarheid wat vir alle mense van alle tye op aarde geld, om te keer, was dit nodig dat ons Jesus eers ter wille van ons Lewe, sterwe aan die kruis: Hy IS daarom weer en enigste Lewe/lewe.

• ‘n Ander waarheid oor “lewe” wat direk met Jesus te doen het, is elke mens se posisie ten opsigte van Lewe/lewe: Hy het vir alle dood-veroordeeldes redding uit die dood kom bewerk met sy reddingsdaad van sterf en opstaan uit die dood. Maar alle mense stel nie belang in die Lewe/lewe nie. Die Lewe/lewe is vir ALMAL beskikbaar, maar almal erken nie die Lewe/lewe nie. Mense kies om te lewe sonder die Lewe. Slegs dié mens (en almal van hulle) “... wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word.” (Johannes 1:12)

• Die laaste waarheid gaan oor die keuse om te skryf “Lewe/lewe”: Niemand kan lewe sonder die Lewe, dis is sonder die Gees van Jesus, nie! “Lewe” met ‘n hoofletter en “lewe” met ‘n kleinletter, is EEN vir Jesus-mense!

Jesus lewe vandag hier op aarde waar Hy mens geword het en gesterwe het; Jesus lewe vandag deur sy Gees in elke Jesus-mens vir wie Hy aan die kruis gesterwe het; Jesus IS LEWE vir jou en vir my!

Doom Charl