Monday, December 9, 2013

Oordenking 15 Desember 2013

Johannes 1 Advent: Sy heerlikheid “IS”!

“Ons het sy heerlikheid gesien ... vol genade en waarheid.” (Johannes 1:14)

Feitlik elke Kersfees dink ek hoe gelukkig was al die mense wat Jesus persoonlik gesien het terwyl Hy fisies hier op aarde was. Gewone mense soos ek en jy: Maria, Josef, sy dissipels, almal wat Hom hoor praat het by die Bergpredikasie, die geestelike leiers van daardie tyd, die politieke leier Pilatus, en nog honderde ander mense by verskeie geleenthede. Ja, Jesus wás ‘n gewone mens wat tussen die mense rondbeweeg het. En ongelukkig dink die meerderheid mense dat ons Hom eers in die hemel weer sal sien, en intussen ...

Intussen is dit glad nie so sleg nie, daarom het Hy juis destyds mens geword: dat ons God reeds vandag kan síén! Én die ongelooflike waarheid is dat Hy in elke Jesus-mens gesien kan word. Ons moet net mooi kyk in onsself en in die Jesus-mense rondom ons. Niemand van ons kan en sal ooit soos Hy lyk nie, maar Hy kom gee deur sy Gees sý karaktereienskappe ín ons.

In Johannes 1 word na twee uitsonderlike sigbare Jesus-waarhede ín ons verwys. Ín hierdie waarhede sien ons “sy heerlikheid”, sien ons wie Jesus in ons is en word. Én Hy maak ons “vol” van sy heerlikheid, tot oorlopens toe vol van Homself. Hy maak ons “vol van God”, want Jesus is ons enigste toegang tot wie God sigbaar is. Gee Hom net die volle kans ...

• Gee Jesus die volle kans om jou vol te maak met sy genade: sonder verdienste ís jy sy kind; sonder inspanning kán jy waarlik lewe; gratis ontvang jy ál die rykdom van sy koninkryk; jy ís reeds vir al jou sonde vergewe; Jesus ís besig om Homself meer sigbaar in jou te maak; Hý IS Jesus-mens ín jou!

• Gee Jesus die volle kans om jou vol te maak met sy waarheid: Hy hét mens geword; Hy ís jou unieke Redder; Hy wíl jou laat lewe vol van sý Gees; Hy wíl Geluk ín jou wees; Hý is jou enigste troos in lewe en in sterwe; Hý maak van jou ‘n nuwe mens; Hý IS Jesus-mens ín jou!
Die baie goeie nuus oor die waarheid van Jesus wat mens geword het en mens is, is dat Hy vandag dié Sigbare Een ín ons “IS. Die werklikheid is dat Hy teenwoordig “IS”.

Sien Hom in Advent 2013 vir Wie Hy werklik “IS”!

Jesus ís ín óns! Jesus ís ín jóú!

Doom Charl

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.