Sunday, January 5, 2014

Oordenking 12 Januarie 2014

Geliefd in God se oë

“Jy is my geliefde Seun. Oor Jou verheug Ek My.” (Markus 1:11b)

Kom ons lê ʼn fondament om 2014 op te bou: Sien raak wie jy in God se oë is. Kyk na jouself deur sy oë: Wat sien Hy as Hy na jou kyk? Wie sien Hy as Hy na jou kyk?
Hier is die sleutel om 2014 mee te leef, te oorleef en te groei: God sien sy geliefde Seun as Hy na jou kyk. Hy sien Jesus in jou.

Wie is hierdie Jesus in jou? God self in jou ... Liefde in jou ... Sagtheid in jou ... Goedheid in jou ... Blydskap in jou ... Geesvervuldheid in jou ... Egte lewe in jou ...

Elke keer, elke sekonde, as God na jou kyk, sien Hy eerste vir Jesus: Jesus in jou en jy in Hom ...

... én Jesus is “ok”, wat beteken jý is “ok”. Só ...

Hy sien jou seer ... Hy sien jou kommer ... Hy sien jou hart ...
Hy sien jou waar jy nou is, want Hy is in jou ... wat ook al?

Hy kyk nie heeldag teen jou foute en sonde vas nie. Hy is nie heeldag besig om die lewe vir jou moeilik te maak, net omdat jy nie gehoorsaam genoeg is nie. Hy skryf nie nuwe wette om ‘n lewe wat reeds ingewikkeld is, nog strenger te maak nie.

Die kern van ons bestaan is in Hom, wat in jou is, en God is voldoende en volledig en volmaak volgens wie Hy wil wees, in jou.

Só gebeur dit:
1. God gee sy geliefde Seun om ons te verlos;
2. God gee sy geliefde Gees om ons te beheer;
3. God gee sy liefde in ons;
4. Óns IS liefde in sy se oë ... Hy spesialiseer by uitnemendheid presies hierin!

Dit ís net so! Dit staan vas! Niemand kan dit verander nie! Dit ís die waarheid!

• Jy ís geliefd in sy oë, want Hy ís!!
• Én Hy is bly oor jou!! Hy jubel oor jou!!
• Hy spring van blydskap oor jou as sy geliefde!! Hy geniet jou vir wie jy is!!
• Hy is 100% tevrede met wie jy is!!

Die sleutel om 2014 en vir altyd, mee te lewe:
God sien ons geliefde Jesus in jou ... en Hy is bly oor jou!

Doom Charl

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.