Thursday, January 16, 2014

Oordenking 19 Januarie 2014

Die Godstad: erken die Troon

“Toe sê Hy wat op die troon sit: “Kyk, Ek maak alles nuut.”” (Openbaring 21:5a)

‘n Nuwe jaar gee geleentheid vir ‘n nuwe begin. Elkeen van ons kry geleenthede om ‘n nuwe begin te maak. Moontlik ‘n nuwe werk, of nuwe kollegas, of nuwe skooljaar, of nuwe projek, of nuwe huis, of nuwe fase in jou huwelik, of wat ook al vir jou nuut mag wees.

In jou geloofsverhouding met God as Jesus-mens, wil Hy ook vir jou nuwe ervaringe en nuwe ontdekkings gee om jou te laat groei. En juis in die simboliek van die nuwe Jerusalem kan elkeen van ons nuwe groei ervaar en ontdek. In die volgende weke wil ek fokus op verskillende simbole in die nuwe Jerusalem se betekenis, en veral in die praktiese toepassing vir ons. Ek gaan kies om eerder van die “Godstad” te praat omdat Jerusalem vir meeste van ons ‘n ver en vreemde plek is.

Die Godstad verwys na die plek waar God woon. Vir ons as Jesus-mense woon Hy nie op ‘n ver en vreemde plek nie. Hy is nie onbereikbaar verwyderd in die hoë hemel nie. Nee, God is volledig deur sy Gees woonagtig en werksaam in elke mens wat sy hart vir Jesus oopgemaak het. Jý is die Godstad waarin Hy gekies het om in te trek met sy Gees. En waarmee is Hy nie besig in jou lewe nie ...

... Hy sit op die troon van jou hart. Ja, die troon as simbool van heerskappy en in beheer wees. Hy wil so baie graag jou lewe liefdevol en sonder dwang help beheer. Hy wil jou help met jou gedagtes, keuses, besluite, emosies, verhoudings, behoeftes, en wat jy ook al nodig het. Hy is nie die oorneem-tipe nie, Hy wil net dáár wees vir jou, Hy wil net déél wees van alles in jou lewe. Sy manier van in beheer wees, is gerieflik en met wysheid. Dit is sonder twyfel die moeite werd om Hom op die troon van jou hart te verwelkom. Hoe?

Hy wil ‘n nuwe geleentheid vir jou gee om sy heerskappy in jou lewe te erken:

• Dink gedurig aan Hom;
• Praat soveel as moontlik met Hom;
• Maak tyd in jou lewe vir Hom;
• Soek maniere wat vir jou werk om Hom beter te ken;
• Raak bewus in jou alledaagse dat HY IS!

Doom Charl

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.