Wednesday, January 29, 2014

Oordenking 2 Februarie 2014


Die Godstad: gebou met Aantrekkingskrag
“Die stad het die heerlikheid van God ...” (Openbaring 21:11a)

Wat sou jy graag wil hê dat die Gees in jou lewe moet verander? Wat laat jou minderwaardig voel? Hoe kan jy verander dat jy meer geliefd voel?
Hierdie vrae klink moontlik ydel of selfgerig. Tog dink ek dat dit die vrae is wat gedurig iewers in ons elkeen leef. Dis tog lekker om mooi dinge oor jouself te hoor. Dis tog sinvol om goed met ander mense oor die weg te kom omdat hulle jou aangenaam belewe. Dit is lekker om goed oor jouself te voel. En dit is alles werklik moontlik vir elke inwoner van die Godstad, want ...

“Ons lewe deur die Gees; laat die Gees nou ook ons gedrag bepaal.” (Galasiërs 5:25) Die Een wat in elke Jesus-mens is, is besig met die bouwerk in jou. En doel met sy Gees-werk in jou, is sy eie eer. En wanneer ons in Openbaring 21 lees hoe beeldskoon en pragtig en luuks die stad beskrywe word, dan is dit simbolies God se doel met elkeen van ons: beeldskoon van binne en buite, pragtige unieke persoonlikheid en al die mooiste eienskappe om almal rondom ons se lewens te verryk. Hy herbou jou lewe sodat jy al hoe meer “na Hom lyk”, bedoelende al hoe meer lewe soos wat Hy wil hê jy behoort te lewe.
Hierdie Gees-gedrewe bouwerk hou nooit op nie. Tog is dit ons geleentheid om net al hoe meer in Hom te ontdek waarmee Hy in ons besig is, naamlik om ons totaal en al oor te maak en volledig nuut te laat lewe. “... sal die Gees julle op ‘n splinternuwe manier laat leef.” (Romeine 8:10, Die Boodskap) En hoe langer en hoe meer word elke Jesus-mens so aantreklik en aanloklik dat ander ook soos ons wil wees. Die mooi en die goeie in ons, wat slegs deur die Gees se werk sigbaar word, lok ander vreemdelinge nader aan die Godstad om ook inwoners te word.

Hiervoor is die baie poorte van die Godstad nóú oop in alle windrigtings vir enige een om in te kom. Die aanskoulikheid van die Godstad lok alle verlorenes om nader te kom en te keuse te maak om in te kom. Hier is geen sprake van lang lyste vereistes om ‘n inwoner van die stad te word nie. Die engele by die poorte is daar om diegene wat reeds inwoners is, te beskerm. Dis al die pad die moeite werd om binne die Godstad te kom lewe ... is jy in, of is jy nog op pad?
Inwoner van die Godstad, jy kan meer geliefd wees wanneer jy bly sê:
Herbouer in my lewe, dankie vir U puik Gees-werk in my!”

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.