Wednesday, February 5, 2014

Oordenking 9 Februarie 2014

Die Godstad: perfekte ewige blyplek

“Die engel ... het ‘n goue meetstok gehad om daarmee die stad self, sy poorte en sy muur te meet.” (Openbaring 21:15)

Jy is verseker “ok” in God se oë, as jy nog gewonder het. Daar is geen fout met jou nie. Hy is nie kwaad vir jou nie. Om die waarheid te sê, Hy het jou na sy beeld gemaak en jou as sy verteenwoordiger op aarde geplaas. Hy het jou so verskriklik baie lief, dat Hy die hoogste prys betaal het vir jou redding, sy eie geliefde Seun het vir jou gesterf. En toe stop dit nie daar nie, Hy kom woon sommer self in jou deur sy Heilige Gees, sodat jy eerstehands die heel beste hulp in die hele wêreld in jou kan hê – WOW!!!

Jy is God se perfekte ewige blyplek!!!

Gemeet met ‘n goue meetstok, só kosbaar is jy! Simbolies beteken dit dat jy aan God behoort en dat Hy sy eiendom sal beskerm. Die Godstad, jy as Jesus-mens, word ewig die mees beskutte blyplek vir God self! Hy kom maak jou sy eiendom om in te woon deur sy volledige Gees en dan beskerm Hy op hierdie manier self sy verhouding met jou.

Die stad se lengte, breedte en hoogte is dieselfde, dit is ‘n kubus-vorm soos Salomo se tempel se allerheiligste: “Die binneste heiligdom was tien meter lank, tien meter breed en tien meter hoog.” (1 Konings 6:20). ‘n Volmaakte vorm van letterlik 2 220 km in elke rigting om die volmaakte woonplek vir die Inwonende Een te wees en waarin daar geen beperkte ruimte is nie. Simbolies die allerbeste en gerieflikste en luuksste blyplek vir Hom, wat sy heerlikheid in jou aan die verlore wêreld wil wys.

Die getal 12 000 is die 12 stamme van Israel, die volk van God, in die volkomendheid (1000 maal) daarvan. Die volle getal van Jesus-mense van alle tye, sal die volkomendheid ervaar binne hulle inwoning in en deur die volheid van die Gees van God.

Die dik muur (144 x 22cm) wys simbolies na die beskerming vir die inwoners, veral om die bose uit te hou. Die see, as blyplek van die bose, het reeds verdwyn (Openbaring 21:1), maar nou is die inwoners ook beskut teen enige moontlike aanslag van die bose en watter slegte invloede daar ook mag wees.

Jesus-mense het genoeg veilige blyplek vir altyd, naamlik in Hom self!

Laat ons soekend lewe met die woorde: “Meester-Bouer, dankie vir die volmaakte huis wat ek vir U is.”

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.