Wednesday, February 12, 2014

Oordenking 16 Februarie 2014


Die Godstad: suiwer, mooi en stewig
Raak opgewonde oor wie jy in God se oë is:

·         Ander mense ervaar jou as ‘n uitsonderlik aangename persoon in alle opsigte;

·         Jy is nooit in enige meningsverskille of bakleiery of harde woorde betrokke nie;

·         Jou daaglikse lewe is stabiel, rustig en jy is in volle beheer van alles in jou lewe;

·         Alle verhoudinge waarin jy lewe, is gesond en verrykend en steeds aan die ontwikkel;

·         Jy is emosioneel gesond en ‘n inspirasie vir alle mense wat jou pad kruis;

·         Jy beskik oor die vermoë om met insig en wysheid in elke moontlike situasie op te tree; en

·         Jy straal innerlike vrede en vreugde opreg en spontaan uit.

Klink dit onmoontlik, nee, dit is presies waarmee die Gees in jou as Godstad besig is!

Hoekom wil Hy van jou so ‘n pragtige en aangename mens maak? Want:

1.       Jy is reeds volkome gereinig van alle sonde deur die bloed van die Lam;

2.       jy is vervul met die volledige werking van die Gees van God; en

3.       ter wille van die eer van Hom wat op die troon van jou hart sit, werk Hy self in jou!

As Jesus-mens is jou lewe gebou op die ewige en vaste fondament, Jesus Christus self. Jy straal die heerlikheid van God uit omdat Hy in jou woon. Jou lewe op die goue strate beteken dat jy die luukse het van ‘n onvoorwaardelike en oorvloedige lewe in Christus – wat meer wil ek en jy nog hê?
Hou op om op valse en tydelike fondamente te probeer bou. Geld, status en sukses is tydelik en uiteindelik leeg. Die genot en plesier van hierdie goddelose wêreld bevredig geen permanente behoeftes nie.

Laat die Gees jou fokus verskuif: leef in Hom, leef vir Hom, leef saam met Hom, leef ter wille van Hom!

Laat elkeen van ons eenvoudig vra: “Herbouer van my lewe, bou asseblief op die heel beste Fondament ter wille van Uself.”

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.