Wednesday, February 26, 2014

Oordenking 2 Maart 2014

Die Godstad: gevul met dié Lig en dié Skat

Die stad se “... tempel is die Here God, die Almagtige, en die Lam.” (Openbaring 21:22)

Die moontlikheid bestaan dat die simboliek van die Godstad se boodskap vir sommige mense te goed kan wees om waar te wees. Hoe kan gesê word dat God nie in die hemel bly soos ons al die jare gehoor het nie, maar in elke Jesus-mens? Hoe is dit moontlik dat inwoners van die Godstad reeds volledig vergewe is? Hoekom is dit so maklik om in die Godstad te wees, daar is geen vereiste en lang lyste van wette wat gehoorsaam moet word nie?

Wel, dit is waar op grond van die Bybel se boodskap, die geloof wat ons bely en die Heilige Gees wat in ons getuig.

Die waarheid van die Godstad het met God self te doen, en meer spesifiek met die betekenis van sy teenwoordigheid. Hy is in die stad, Hy is die belangrikste Een in die stad, sy teenwoordigheid maak die stad vol, Hy kies hoe en waar en wanneer Hy in die stad is, Hy kies die inwoners met sy eie hand uit, Hy bepaal die ervaring om in die stad te wees vir die inwoners, Hy is die Alles in die Godstad!

Wat kan die inwoners verwag omdat Hy die Alles in die Godstad is? Elke Jesus-mens kan ontdek dat Hy is:

·         Teenwoordig ... want sonder Hom kan ons nie ‘n sekonde van ons lewe nie;

·         Omgee ... want sonder Hom kan daar nie liefde in ons wees nie;

·         Slimheid ... want Hy gee ons gesonde verstand om ons lewe mee te lewe;

·         Versorger ... want Hy weet wat ons elkeen regtig nodig het;

·         Trooster ... want Hy ken ons diepste hartseer;

·         Toekoms ... want Hy sal daar wees in die onsekerheid oor wat wag;

·         Alles ... want Hy laat ons nooit in die steek nie.

 
Daarom kan ons elkeen net vashou, vashou aan ... die sterkste, slimste, beste, liefste, mooiste, grootste, nabyste EEN, ware EEN, lewende EEN!!!

Kom ons sê net opreg: “Enigste Lig in my lewe, dankie dat gereinigde ek U in alles kan aanbid.”

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.