Wednesday, March 5, 2014

Oordenking 9 Maart 2014

Die Godstad: gratis oorvloed lewe

“... water van die lewe ...” (Openbaring 22:1)

Sien die prentjie van die bejaarde man Johannes wat as banneling op die eiland Patmos die brief Openbaring skryf aan Christene wat so erg vervolg word dat hulle lewens in gevaar is en hulle van hongerte dood gaan. Of dink aan jou eie onsekerhede van tekort aan liefde, of geld, of goeie gesondheid, of innerlike kalmte, of waaraan jy ook al tekort mag hê.

Dan word daar vir die oorspronklike lesers van Openbaring en vir jou oorvloed belowe. En dit alles nog gratis en verniet ook: “... elkeen wat dors het ... moet dit kom kry, verniet!” (Openbaring 22:17) Jy hoef NIE met jou lewe te betaal om ‘n Jesus-mens te wees NIE, Jesus het klaar sy lewe aan die kruis daarvoor gegee. Jy hoef NIE te betaal vir jou plekkie eendag by Jesus se voete in die hemel NIE, Hy bied dit sonder enige verdienste aan. Jy hoef NIE God se guns te soek NIE, Hy bederf jou met al sy goedheid onvoorwaardelik, omdat Hy is wie Hy is.

Hoor hoe mooi het Jesus dit self gesê toe Hy nog as mens hier op aarde was: “Strome lewende water sal uit sy binneste vloei. ... na die Gees verwys.” (Johannes 7:38-39) Ons as Jesus-mense word vol gemaak met die Gees van God, sodat Hy ons kan gebruik as kanale van oorvloed lewe, die lewe waarna die verlorenes smag. Ons is God se antwoord op elke tekort, elke pyn, elke hartseer – so het Hy besluit om te wys wie Hy regtig is. Hy is besig om die wêreld ‘n beter plek te maak vir elkeen wat vir Hom plek in sy lewe maak. Dit alles gebeur in die Godstad: in ons bekeerde verhouding met Hom, in ons band met die geloofsgemeenskap waarin ons Hom aanbid.

As inwoners van die Godstad deel ons gesamentlik in al die voordele wat dit vir ons bied, want “... dit stroom uit die troon van God en van die Lam uit.” (Openbaring 22:1) Alles wat mooi is, alles wat goed is, alles wat met liefde te doen het, alles wat opbouend en vernuwend is, kom van ons Inwonende-Skepper-Gees-God!

Dit is die maklikste en allerbeste om ‘n inwoner van die Godstad te wees! Geen druk, geen tekort, geen prestasie, geen boosheid, geen ekkigheid vir elke geliefde en elke soekende een van ons.

Kom ons sê net opreg: “1000 dankies, Oorvloed-gewer, vir die verniet-lewe!”

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.