Wednesday, March 12, 2014

Oordenking 16 Maart 2014


Die Godstad: waar Hy alles gee en oor alles tevrede is

“... die boom van die lewe. Hy dra twaalf keer per jaar vrugte ...” (Openbaring 22:2)

In ʼn mindere of ʼn meerdere mate, sien elkeen van ons uit na ʼn lewe waar alles volkome in plek is: alle gebroke verhoudings is herstel, elke siekte is genees, alle oortrokke rekeninge is betaal, daar is geen toetse wat geslaag hoef te word nie, daar is glad nie ʼn probleem sonder ʼn oplossing nie, daar is geen bekommernis oor enige moeilike situasie wat hanteer hoef te word nie. Klink dit alles net te goed om waar te wees? Wel, vir inwoners van die Godstad, is alles in die lewe volkome in plek! En wel om die volgende redes en op die volgende wyse:

·         God se volmaakte teenwoordigheid is in plek in elke Jesus-mens. Deur “die sewe Geeste voor sy troon” (Openbaring 1:4) is Hy volledig die Een wat altyd by ons is, al gebeur wat ook al.

·         En omdat Hy nooit weggaan of verdwyn, al loop dinge hoe erg verkeerd in ons lewens, is Hy self die Antwoord en die Voorsiening in alles in ons lewens.

·         Daar is nie meer seisoene in die Godstad nie: “... die boom van die lewe. Hy dra twaalf keer per jaar vrugte ...” (Openbaring 22:2) Die betekenis vir ons is dat die Een op die troon van ons lewe, oorvloedig voorsien.

·         “Die blare van die boom bring genesing vir die nasies.” (Openbaring 22:2) Hy voorsien in elke vorm van fisiese genesing wat Jesus-mense die nodigste het, dit is alle vorme van honger of dors of siekte. Maar Hy voorsien by uitnemendheid in elke vorm van geestelike genesing, dit is die voortdurende herstel en opbou van ons intieme verhouding met Hom in ons.

·         Binne die nuut-wordende verhouding wat elke inwoner van die Godstad het, word alle grense wat skade veroorsaak finaal verwyder en alle vooroordele teenoor alle partye betrokke, word verwyder. “Daar sal nie ʼn enkele ding oorbly waarmee God ontevrede is nie.” (Die Boodskap)

Wat is jou grootste honger of siekte in jou geestelike lewe? Waarmee is jy nog ontevrede in jou eie lewe? Of waarmee dink jy is God nog ontevrede met jou? Wat dit ook al mag wees wat die vrug in jou lewe steel, Hy wil dit herstel omdat Hy alles gee en oor alles tevrede is.

Laat ons leef met die volgende in ons harte: “Oorvloed-Gewer, so opreg waardering dat U tevrede is met my!”

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.