Wednesday, December 2, 2015

Oordenking 6 Desember 2015

Tyd om te fokus op die Bron van sterkte, sekuriteit en stabiliteit

“Jy is my seun, vandag het Ek jou Vader geword.” (Psalm 2: 7b)

Psalm 2 is een van die dele uit die Ou Testament wat die meeste in die Nuwe Testament aangehaal word. Hierdie Psalm wys dat die beloftes van die Ou Testament waar geword het. Daarom wys dit dan ook spesifiek vir ons op die Jode se messiaanse verwagting. Wie is die Messias wat die Jode verwag het? En terwyl ons dan vas glo, dat ons Jesus wel die Messias is, wat deur die Jode verwag word, is Hy vandag steeds die Een van wie ons leer in Psalm 2.

Hierdie Psalm het een groot doel en dit is om te wys dat God die Here is en dat Hy so raakgesien moet word. God is die belangrikste. Die groot woord wat dit mooi beskrywe, is teosentries. Hier gaan dit dus nie vandag oor die huidige regerings en owerhede met hulle vyande nie, dit gaan veel eerder oor God en sy vyande.

Om teen God in opstand te kom, is die grootste dwaasheid en domste ding om te doen. Vandag kan hierdie opstand verskillende vorme aanneem. Dit kan die openlike vyande van die kerk van Jesus wees. In ons persoonlik lewe kan dit ons geneigdheid wees om onsself, die eie-ek, bo God te stel en in die proses te weier om sy gesag in ons lewe te aanvaar.

Die Here is die Oppermagtige God. Hy heers oor alle lewensterreine. Die wêreld is deurmekaar en onstabiel en verward, maar Hy is steeds die Bron van sterkte, sekuriteit en stabiliteit. Sy heerskappy oor al die eeue, sal nooit kan wankel of omvergewerp word nie.

Vandag nog is die hele bekende wêreld met al die mense daarin, die ruimte waar sy koninkryk is. Hier gebruik Hy steeds mense as sy gevolmagtigdes om in sy krag en namens Hom op te tree. Elkeen van ons as Jesus-mense, wat vrygekoop is deur die bloed van Jesus Christus, tree daagliks met gesag op. Elkeen van ons is geroep om met selfvertroue sy koninkryk hier op aarde te bevorder – ons kan dit doen omdat Hy is Wie Hy is!

In die lig van Psalm 2 word ons opgeroep om die onverskillige wêreld waarin ons is, tot verantwoording teenoor Hom op te roep. Die mens-sonder-Hom moet hoor die opstand teenoor Hom beteken vernietiging. Deur Hom te aanbid, beteken veiligheid. Tog het hierdie waarhede steeds nie volledig waar geword nie. Weereens moet ons daaraan vashou, eendag op die nuwe aarde, sal daar werklike sterkte, sekuriteit en stabiliteit wees.

Thursday, November 26, 2015

Oordenking 29 November 2015


 
Die nuwe en finale afwagting van Hom!

“Sy heerskappy sal uitbrei, en Hy sal vir altyd vrede en voorspoed bring.” (Jesaja 9: 6a)

In die volgende weke maak almal van ons op een of ander manier gereed vir Kersfees. Daar word planne gemaak van waar ons gaan wees, saam met wie ons gaan wees en wat ons gaan doen. Daar is min tye van die jaar waarin daar soveel moeite deur so baie mense gedoen word om vir ‘n spesifieke geleentheid gereed te maak. ‘n Mooi woord wat dit beskrywe is “afwagting”.

In die Ou Testament was daar ‘n “afwagting” dat vir die volk van die Here ‘n Messias sou kom wat ‘n baie sterk leier vir hulle sou wees. ‘n Beskrywing van hierdie afwagting, kry ons in Jesaja 9: 5-6: “Vir ons is ‘n Seun gebore, aan ons is ‘n Seun gegee; Hy sal heers, en Hy sal genoem word: Wonderbare Raadsman, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors. Sy heerskappy sal uitbrei, en Hy sal vir altyd vrede en voorspoed bring ... Daarvoor sal die onverdeelde trou van die Here die Almagtige sorg.”

Met Kersfees vier ons fees dat hierdie afwagting van destyds in alle opsigte waar geword het. Om die waarheid te sê, die Een wat wel op aarde mens kom word het, is baie meer as wat verwag was. Hy het die enigste Verlosser vir alle mense van alle tye geword en sal dit altyd wees. Sy heerskappy deur sy Gees in sy kinders oortref alle fasette van afwagting. Daar is nie genoeg name of woorde om reg te laat geskied aan Wie Hy werklik is nie. Hy oortref alle verwagtinge!

Maar Hy het self gesê terwyl Hy hier was: “En as Ek gegaan het en vir julle plek gereed gemaak het, kom Ek terug en sal julle na My toe neem ...” (Johannes 14:3). Hierdie woorde van Jesus beteken dat daar steeds by ons ‘n afwagting is. Die afwagting van die Ou Testament wat waar geword het, maak plek vir ‘n totaal nuwe afwagting vir ons vandag. En Kersfees bied elke jaar die ideale geleentheid om nuwe inhoud aan hierdie nuwe afwagting te gee. Die afwagting van Jesus se eerste koms, word vervang met ‘n nuwe afwagting vir sy tweede en finale koms.

Hierdie finale afwagting dat Jesus verseker weer kom, dra direk by tot ‘n groeiende dringendheid dat Hy so gou moontlik weer moet kom. Die chaos in die wêreld, persoonlike omstandighede én veral die intense begeerte van elke Jesus-mens om Hom self te ontmoet, dryf hierdie groeiende finale afwagting.

Hy en Hy alleen sal alle verwagtinge oortref! Weereens!

Thursday, November 19, 2015

Oordenking 22 November 2015

God se oop koninkryk

“Laat staan die kindertjies en moet hulle nie verhinder om na My te kom nie, want die koninkryk van die hemel is juis vir mense soos hulle.” (Matteus 19: 14)

Jesus gebruik kinders as voorbeeld om te verduidelik dat sy koninkryk oop is vir ALMAL.

In hierdie demonstrasie kry ons die beste manier om na mekaar in die kerk en na ander buite die kerk te kyk. Ons is van nature so geneig om etikette om mense se nekke te hang. Bewustelik en onbewustelik deel ons mense in groepe: diegene van wie ons hou en met wie ons saamstem; die ander van wie ons nie hou nie en ook nie soos hulle dink, leef of praat nie. En dan maak ons selfs binne die kerk die grootste fout: ons deel mense in volgens sekere sondes; of dalk meer vroom, volgens hulle kerklike bydrae, betrokkenheid of spirituele voorkeure.

By ons klein kindertjies kan ons baie leer oor hoe hulle onvoorwaardelik maats maak. Hulle speel so maklik met mekaar oor grense heen. Ons sal almal kan vertel van hoe ons tot ‘n sekere ouderdom meer vriende gehad het en sonder enige vooroordele goed met ander oor die weg gekom het. Ja, ons sou wel een dag met mekaar baklei oor onbenullighede en net die volgende dag is ons weer die grootste maatjies.

In die koninkryk van die hemel waar Jesus se reëls geld, kan ons net van dag tot dag groei in die wyse waarop Hy almal as sy vriende sien. Hy kan nie kwaad bly vir sy vriende nie. Hy hou nie boek van die kwaad nie. Hy het nie witbroodjies of swartskape nie. Hy beloon nie sommiges met groter geskenke as vir ander nie. Hy het een prys, sy eie lewe, vir almal betaal. Die resultaat van hierdie liefde van Hom aan sy vriende, is die werk van sy Gees in elkeen van sy vriende.

En waar die Gees werk, word grense afgebreek en vooroordele teenoor ander mense verdwyn. Met ‘n Jesus-hart is almal altyd welkom binne die koninkryk van God. Hoe meer intens ons die Gees toelaat om ons lewens van binne nuut te maak, hoe meer ontdek ons iets van die misterie van die koninkryk van die hemel. En daar geld totaal ander norme en reëls as in ons alledaagse lewe. Hoe langer hoe meer word dit duidelik dat ons nie al die antwoorde het en alles kan verklaar nie.

Thursday, November 12, 2015

Oordenking 15 November 2015

Volkome bevryding deur God se hand

“Hoe ontsagwekkend is u werk!” (Psalm 66: 3)

Elkeen van ons wil graag vry voel, innerlik tot rus kom. Hierdie pad loop elkeen een of ander tyd. Kom ons raak bewus van een wesentlike deel van geestelike bevryding.

Die Psalm-skrywer vertel van die groot werke van die Here in die geskiedenis van Israel. Die indrukwekkende trek op droë grond deur die Rietsee. Hoe die Here met Israel se vyande afgereken het. Al die struikelblokke wat Hy uit hulle pad geneem het. Steeds is Hy vandag besig om ons almal kollektief te beïndruk met wat Hy vir ons beteken.

Ook op individuele vlak, is die Psalm-skrywer net so dankbaar oor alles wat die Here vir hom in tye van nood beteken. Hy wil graag vertel en selfs uitroep, oor hoe die Here na hom geluister het toe daar sonde in sy hart was. Dieselfde Here gee steeds rede dat elkeen van ons rus kan vind in daardie dinge wat Hy in ons lewe laat gebeur.

Volkome bevryding het dus te doen met alles wat ons kan waarneem wat God doen. Soos reeds lank gelede in die geskiedenis van Israel, is Hy steeds besig in en rondom die lewens van sy kinders vandag. Tussen die gebeure van lank gelede in die Ou Testament en vandag, weet en glo ons van Jesus. Die te-goed-om-waar-te-wees-liefde-van-God, soos wat Hy vir ons kom wys het met Jesus, is die heel belangrikste bousteen vir volkome bevryding.

Hierdie God-se-liefde-in-Jesus-daad, gee direk geleentheid vir elkeen van ons om waarlik rus in Hom te vind. Niemand kan en sal of wil iets groter vir ander ooit doen nie. Hierdie liefdesdaad van God aan ons, saamgevat in die woord “Jesus”, gee geleentheid dat elkeen van ons ook kan uitroep:

            “Hoe ontsagwekkend is u werk!”

Die woord “ontsagwekkend” is so ‘n akkurate beskrywing van God se werk in en rondom elkeen van ons. In daardie dinge wat ons wel agterkom dat dit net Hy was wat iets spesifiek kon laat gebeur, en selfs dan soms ons asem wegslaan in verwondering daaroor, ontwikkel elke Jesus-mens respek en ontsag vir Hom. Innerlike bevryding het te make met die bewustelike gewaarwording van God-aan-die-werk.

Innerlike vryheid en rus kom deur jou oë oop te maak vir God se hand aan die werk, en dan met jou hart teenoor Hom te reageer.

Thursday, November 5, 2015

Oordenking 8 November 2015


Die nuwe mens in wording

“Die genade van God wat verlossing bring, het immers aan alle mense verskyn.” (Titus 2: 11)

Die oorgang van die ou lewe na ‘n nuwe lewe, is ‘n lewenslange stryd waarmee elke Jesus-mens elke dag besig is. Die ou sondige natuur moet gedurig en stelselmatig sterwe om ruimte te maak vir die nuwe mens. Ou verkeerde gewoontes is later nie meer lekker nie. Met nuwe gedagtes en ‘n ander manier van kyk, gaan God se kinders groeiend vorentoe op pad na sy doel met elkeen van ons.

Hierdie geestelike groei en heiligmaking, wat deur die Heilige Gees in ons aan die gang is, is baie ingewikkeld maar tegelyk baie eenvoudig. Dit is ingewikkeld omdat ons van nature makliker terug neig na ons ou lewenswyse voor ons bekering. Dit kom meer outomaties om net vir jouself te lewe, in plaas daarvan om selfloos God en ander eerste te stel. Dit voel aanvanklik net baie lekkerder om eerste vir jouself te sorg, voordat jy vir ander iets hoef te doen.

Tog is dit tegelyk ook baie eenvoudig. Die beste Spesialis in vernuwing, is binne in elke Jesus-mens. Niks is vir Hom ‘n probleem nie. Niks staan in sy pad nie. Niemand kan sy werk keer of ongedaan maak nie. Geen struikelblok of hardkoppigheid of verharde hart, kan Hom keer nie. Elke bekeerde kind van God het geleentheid om net eenvoudig en met erns, sonder skuldgevoelens of enige verdienste, oor te gee aan Hom.

Maar hoe? Soos Paulus vir Titus sê: “... God (dit is die Gees in ons) ... voed ons op om die goddelose leefwyse en wêreldse begeerlikhede te laat vaar en met selfbeheersing, opregtheid en godsvrug in die teenswoordige wêreld te lewe ...” (Titus 2:12)

Alle mense kan nou reeds voorberei word vir die hemel, maar sonder rede stel almal nie belang nie.

Vrywillig, sonder dwang, openhartig, opreg, eerlik, liefdevol, soekend, sonder skuldgevoel, toegewyd, gefokus ... almal woorde wat iets beskryf van elke Jesus-mens se daaglikse geleentheid om meer en meer die nuwe mens in wording te wees. Hierdie nuwe mens in wording, is 100% God se Gees se verantwoordelikheid in ons. Ons kan self niks doen om “... met selfbeheersing, opregtheid en godsvrug ... te lewe” nie. Moenie eers probeer nie. Elke probeerslag, vertraag God se genadewerk in jou.
 
Gee God se genadewerk ‘n volledige kans in jou lewe ...

Thursday, October 15, 2015

Oordenking 18 Oktober 2015

Die teenstrydigheid van ons geloof
... as mense wat niks het nie, en tog besit ons alles.” (2 Korintiërs 6: 10c)

Daar is net soveel sake in ons geloofslewe wat nie sin maak nie ...

Eerstens is daar in die kern van ons Christen-geloof reeds ‘n drastiese teenstrydigheid: hoe is dit moontlik dat ‘n liefdevolle Vader sy enigste Seun, wat 100% sondeloos is, die wreedste en mees vervloekte dood aan ‘n kruis laat sterwe, sodat diegene wat in Hom glo, gered kan word? Wie van ons begryp werklik dat die Heilige Gees volledig God is wat teenwoordig is in elke Jesus-mens? Hoe werk dit dat God niks van ons nodig het nie omdat Hy die Almagtige is, maar tog ons alles wil hê in ons toewyding aan Hom? So baie van ons geloofwat ons nie regtig kan verduidelik nie!

MAAR tog kan ons God ken in ‘n intieme persoonlike liefdevolle verhouding, sonder dat ons alles van Hom verstaan!

Tweedens, hoe teenstrydig is die verskille en selfs die liefdeloosheid tussen Jesus-mense in die kerk nie? Hoekom stem ons nie oor alles saam in die kerk nie? Hoekom hou ons nie ewe veel van ons mede-gemeentelede nie? Hoekom is daar so baie verskillende kerke? Hoekom verstaan gelowiges in dieselfde kerk die Bybel verskillend? 

MAAR tog verander die inwonende Gees se onvoorwaardelike liefde ons, dat ons met nuwe oë mekaar met liefde aanvaar!

Derdens is daar met tye verwarring en twyfel binne-in ons oor wat ons presies glo en waarvan ons seker is. Ons skram weg om dit te erken, ons praat nie graag daaroor nie, of baie mense vermy hierdie teenstrydigheid in hulle geloofslewe. Daar is die werklikheid van onbeantwoorde gebede. Daar is die vrae in tye van swaarkry vir Jesus-mense. En die onregverdigheid wat opregte kinders van die Here baie keer moet verduur. 

MAAR tog kan elkeen van ons innerlike vrede, geluk en liefde in Hom vind!

Ja, dit is botsende waarhede: ons is Jesus-mense “wat niks het nie, en tog besit ons alles.”

Friday, October 2, 2015

Oordenking 4 Oktober 2015

Die enigste Pad ...

“Dit gaan goed met die mens ... wat in die woord van die Here sy vreugde vind ...”

(Psalm 1: 1a en 2a)

Sê nou maar net ek kan iets sê, wat maak dat elkeen wat dit hoor, die Bybel vat en net wil lees en lees ...

Dieper geestelike groei, nader en meer intiem met God elke dag lewe, regtig innerlik vry en gelukkig wees ... dis waar elkeen van ons bewustelik en onbewustelik wil wees, maar hoe?

Daar is volgens ons gereformeerde geloofsleer twee maniere om God raak te leef en veral beter in ons eie lewe te ken: deur die Bybel en deur die natuur. Let wel, albei is nodig. En dit is juis ons probleem: of ons is te besig om Bybel te lees, en/of ons bly in die stad en is min in die natuur.

Weer het elkeen van ons ‘n keuse: wil ek geestelik arm bly, of wil ek dieper groei?

Kom ons staan eers vir ‘n oomblik stil by die natuur, God in sy skepping. Indien jy nie gereeld geleentheid het om iewers net stil en bewus te raak van die grootsheid van God as Skeppergod nie, dan het elkeen van ons ander geleenthede. Beplan jou wegbreke uit die stad se gewoel om spesifiek in die bos te wees. Raak innoverend op jou rekenaar en “google” die onbeskryfbaarheid van God in die natuurwetenskap raak. Kyk meer gereeld natuurprogramme op TV met die doel om God daarin raak te sien. Die keuse is joune!

Elkeen van ons kan elke dag iets doen om met die Bybel besig te wees. Daar is soveel vertalings en soveel hulpmiddele wat help dat ons die Bybel kan verstaan, en veral God beter kan ken in ons eie lewe. Gratis kan ons “You Version” op ons slimfone aflaai en toegang kry tot feitlik al die Bybelvertalings. Hoe meer ek ‘n seker gedeelte in die Bybel lees in verskillende vertalings, hoe beter kan ek moontlik verstaan wat die boodskap is wat ek vir my persoonlik kan vat.

Daar is sekere dele van die Bybel wat moeilik is om te begryp hoekom dit deel van ons Bybel is. Dit is baie lank gelede geskrywe en die omstandighede waarin dit ontstaan het, is nie voor die hand liggend nie. Daarom gaan ek uit van die standpunt dat ons met groot vrymoedigheid sekere dele oor en oor kan lees, omdat dit meer verstaanbaar is. Lees die vier Evangelies: Matteus, Markus, Lukas en Johannes. Lees Romeine. Lees die 150 Psalms. En as jy voel dit sê niks nuut vir jou nie (wat nie veronderstel is om te gebeur nie), dan is daar nog baie ander verrykende Woord van God om te lees.
 
Sê nou maar net elkeen van ons kan so dieper groei ... daar is net EEN Pad!

Tuesday, September 22, 2015

Oordenking 27 September 2015


Volledige oorgawe, die ENIGSTE manier!

“Wees julle dan volmaak soos julle hemelse Vader volmaak is.” (Matteus 5:48)

Ek stoei steeds met die eenwording van die tydelike en die ewige in Jesus-mense. Die feit dat ons kan sê die Gees van die Lewende God is permanent binne in elke bekeerde sondaar, beteken dat die menslike en die goddelike konnekteer. Die geestelike en die fisiese lewe is nie vreemd vir mekaar nie, maar groei al hoe meer na volmaakte eenwording. MAAR, hoe gebeur dit?

Vir hierdie geheimenis het ek gaan kers opsteek by een van die grootste Christelike skrywers van alle tye, CS Lewis (1898-1963). In Mere Christianity skryf hy: “As ek koring wil produseer en nie gras nie, moet die verandering dieper gaan as die oppervlak. Ek moet omgeploeg en oorgesaai word.” Die nuwe lewe in Christus, is werklik ‘n totaal anderse manier van lewe. Ek kan nie maar net my ou gewoontes probeer afleer nie. Sekere dinge stop volledig. Ek kan nie dat die tydelike dinge van hierdie wêreld my lewe beheer en te gelyker tyd die ware innerlike geluk by God vind nie.

“Die Bybel sê dat alles vir Christus gemaak is en dat alles in Hom saamgevoeg gaan word.” (CS Lewis) Hiervoor vra Jesus volledige oorgawe, dat ek myself sal kruisig, my eie wil 100% ondergeskik aan sy wil sal maak. My “eie ding” word volledig vervang met “sy ding”.

Hierdie werking van die Heilige Gees in ons, is tegelyk baie eenvoudig én baie ingewikkeld: solank ek nog self probeer om te verbeter en nader aan volmaak te kom, sal dit onmoontlik en baie swaar wees vir my; MAAR as ek volledig oorgee en 100% geleentheid gee dat God se Gees in my, doen wat Hy graag doen, dan is ek verander en is dit baie maklik. Lewis haal Jesus so aan: “Gee jou gewone self vir My, met al jou begeertes – dié wat jy dink goed of onskuldig is, saam met dié wat jy as sondig beskou, die hele spul. Ek sal jou ‘n nuwe self gee. Om die waarheid te sê, gee Ek vir jou Myself. My eie wil sal nou jou wil word.”

Hiervoor staan ek en jy daagliks in ons gewone lewe voor baie keuses:

·         Wie of wat beheer my tyd?
·         Wie of wat is my dryfkrag?
·         Wie of wat maak my gelukkig?
·         Wie of wat beïnvloed my?

Wil jy ‘n “halwe Christen” wees, as daar so iets is? Of wil jy volledig aan Christus behoort?

Volledige oorgawe is die ENIGSTE manier!

Thursday, September 17, 2015

Oordenking 20 September 2015

Gee uit jou hart en nie uit jou beursie nie

“Waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees.” (Matteus 6:21)

Ons kan so baie by Jesus leer, en in Matteus 5 tot 7 is Hy tydens die bergpredikasie besig om vir sy volgelinge belangrike praktiese lewenslesse te gee. Kom ons waag dit om ‘n slag oor die sensitiewe saak van geld en besittings eerstehands by Jesus te hoor hoe ons dit behoort te hanteer.

Kom ons fokus op ‘n paar toepaslike riglyne vir Jesus-mense as dit by geld kom:

·         Jesus sê: “Moenie dink dat Ek gekom het om die wet ... ongeldig te maak nie ...” (Matteus 5:17) Die beginsel wat ons hier kry, is dat ons met dissipline en verantwoordelikheid ons geldsake sal hanteer – ook as dit gaan oor daardie gedeelte van ons inkomste wat ons uitdeel.

·         “As julle byvoorbeeld armes help, moet dit nie uitbasuin nie.” (Matteus 6:2) Maak dit regtig ‘n saak tussen jou en die Here as jy gee. Net jy sal self weet of jy met ‘n ruim hart en skoon gewete onvoorwaardelik gee waar daar nood is.

·         Dan ons sleutelteks:  “Waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees.” (Matteus 6:21) Jesus-mense is in die groeiproses om al hoe meer los te kom van die tydelike en aardse lewe se beheptheid met besittings, en al hoe meer na binne ingestel op die ewige en blywende waarde van die geestelike lewe.

·         “Julle kan nie God én Mammon dien nie.” (Matteus 6:24) Geld is nie jou baas nie. Laat die Gees jou lewe beheer, ook jou daaglikse besluite van hoe jy graag ander wil help, selfs ten koste van jouself.

·         Totale vryheid en regte lewenskwaliteit gewaarborg in Jesus se woorde: “... beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sy Hy julle ook al hierdie dinge gee.” (Matteus 6:33) 

Gee.....                                                                         Want....

daarom met jou hart wat aan Jesus behoort,            dis nodig.

in liefde sonder om iets terug te verwag,                  dis lekker.

met ‘n mooi gesindheid,                                             dis bevredigend.

sonder om somme te maak,                                       dis die regte ding om te doen.

sodat dit ‘n verskil maak,                                            ander het dit nodig.

meer as wat gevra word,                                           meeste van ons kan gee.

iets van jouself,                                                           ons ALLES behoort aan Hom!

Thursday, September 10, 2015

Oordenking 13 September 2015


Jesus se geheime tot geluk

Geheim 8:       Gelukkig om vervolg te word

“Geseënd is dié wat vervolg word omdat hulle doen wat reg is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.”
(Matteus 5:10)

Dit is baie onwaarskynlik dat enige een van ons al ooit vervolg is omdat ons Jesus-mense is. Nie een van ons het al ons werk verloor omdat ons Jesus bely as die belangrikste Een in ons lewe nie. Nie een van ons se lewe was al in gevaar omdat ons onsself Christene noem nie. Dit bring ons by die vraag: van watter vervolging is hier ter sprake?

Teen die agtergrond van Jesus se geheime tot geluk in Matteus 5, gaan dit oor ‘n vorm van geluk wat vreemd is in ons daaglikse leefwêreld. Jesus se geluk gaan oor ‘n totaal ander lewenswyse. Hemelse en aardse, sienlike en onsienlike kom hier bymekaar. Dis asof die hemel op die aarde neergedaal het, sodat mense ware geluk op aarde kan ontdek, beleef en geniet. Daarom word ons “geseëndes” genoem, “drie maal gelukkiges”, “welgeluksaliges”. Jesus se koms deur sy Gees in jou, keer jou hele lewe om: jou “eie ek” sterf om te kan lewe, jy gee om te kan ontvang, jy verloor om te kan wen ...

Geheim 8 se geluk in vervolging het dan te doen met ‘n ervaring dat jy as Jesus-mens al hoe meer soos ‘n vreemdeling voel in die wêreld van vandag. Jy voel net nie meer tuis tussen mense wat geluk in verkeerde goed soek nie. Jou dieper dimensie wat God raak leef, beteken dat jy ander standaarde het vir reg en verkeerd. Die geestelike word belangriker as die materiële, die ewige word belangriker as die tydelike, die innerlike word belangriker as die uiterlike, wat God wil hê word belangriker as wat mense vereis ...

... en so word “vervolg” ‘n ervaring van “ek is in die minderheid, die meerderheid voel nie soos ek nie”, “ek wil liewer minder besit, as om nog bymekaar te maak”, “aardse pret is leeg en sonder betekenis”.

En op hierdie ewigheidspad na God se volmaakte heerlikheid, leef ek as Jesus-mens al hoe meer binne die ervaring van God se wil. Vanuit ‘n diep innerlike geluk, vind ek ‘n kalmte binne in my wat na buite sigbaar word vir ander. Al hoe meer word God alles in my en word my eie dinge minder belangrik. So word ek al hoe meer eg deel van “die koninkryk van die hemel.”

Jesus se geheim tot geluk is SLEGS in God!!!

Thursday, September 3, 2015

Oordenking 6 September 2015

Jesus se geheime tot geluk

Geheim 7:       Gelukkige vredemakers

“Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word.”
(Matteus 5:9)

Permanent innerlik opreg waarlik gelukkig wees – waar en hoe? IN GOD ALLEEN !!!

Hierdie is die kernwaarheid regdeur ons reeks oor Jesus se geheime tot geluk. Maar soos ons ontdek het: hierdie geluk begin deur die Gees binne-in elkeen van ons én vloei deur ons na ander. Om saam met ander hartseer te beleef, om met ‘n sagte gesindheid en liefdevolle omgee daagliks in kontak met ander te wees, is die Géés in elke Jesus-mens. En dit gaan verder ...

Kinders van God hou nie van baklei of enige spanning in verhoudings met ander nie. Self wil ek en jy nie in onvrede leef met enige ander persoon nie. En waar daar ongelukkigheid tussen ander mense is, wil ons graag sien dat dit uitgesorteer word. Elke dag word ons gekonfronteer met mense van wie ons nie hou nie, of met wie ons nie saamstem nie. Ons leefwêreld bestaan uit selfsugtige belange, botsende idees en uiteenlopende opinies. Selfs binne ons eie kerke is daar spanning tussen die oulikste Jesus-mense. Wat is Jesus se geheim om hierdie werklike probleem te hanteer?

Te maklik, en amper onrealisties gereeld hoor ons, dat ons net met Jesus se gesindheid konflik moet hanteer. Ja, dit is waar, maar dit sê nie vir ons hoe ons presies Jesus se gesindheid verkry nie. Hoe kry ons ‘n “Jesus-hart”?

Weer terug na ons besluit-neem-sentrum-van-die-lewe, ons eie persoonlike nugter keuses wat ons maak, in die Bybel verteenwoordig met die woordjie “hart”. Waar die Gees van God jou “hart” beheer, het jy GEEN behoefte om met enige persoon vas te sit nie, jou diepste hartsverlange is om in vrede met alle mense te lewe. As Gees-beheerde vredemaker, vind jy maniere wat by jou persoonlikheid pas om vrede tussen ander mense te maak.

Deurdat ons die Heilige Gees volledig geleentheid gee dat ons afstand doen van ons eie selfsugtige belange en onsself oopstel vir ander se idees en opinies, leef ons in harmonie met die mense in ons lewe.

Daar is drie keuses vir elke Jesus-mens-vredemaker, wat al drie altyd geld:

1.      Kies voortdurend om Jesus, die Vredemaker, se Gees in beheer te maak van jou hele lewe;

2.      Kies om met sý vrede teenoor ander te lewe; en

3.      Kies om sý vrede tussen ander aktief te help maak.

So lewe Jesus-mense, so word ons kinders van God genoem. Ja, geseënde kinders van God!

Thursday, August 27, 2015

Oordenking 30 Augustus 2015


Jesus se geheime tot geluk

Geheim 6:       Gelukkig met ‘n rein hart

“Geseënd is dié wat rein van hart is, want hulle sal God sien.”
(Matteus 5:8)

Ek wonder hoeveel mense wil God regtig graag sien? Moontlik is baie mense nog bang om God regtig te sien? Of Hy is net so ver en vreemd en onbekend, dat hulle glad nie belangstel om Hom te sien nie? Of moet die vraag anders wees: hoekom is dit belangrik om God te wil sien?

Die Woord van God leer ons dat alles en almal is op pad na die hemel waar God alles vir alles sal wees (1 Korintiërs 15:28). Dit kom moontlik daarop neer dat ons eers in die lewe hierna, werklik sal sien wie God en hoe God is. Alles is onder weg na ‘n toestand of bestaanswyse of dimensie waar God se heerlikheid en teenwoordigheid alles sal oorheers. Nie almal is ewe opgewonde oor hierdie gedagte nie, waarom nie?

Die ervaring van ons eie onrein hart, maak dat ons bang is vir God. Ons eie tekortkominge laat ons gedurig skuldig voel in die teenwoordigheid van die volmaakte God. Ons valse tevredenheid met ons eie pogings om ‘n beter mens te wees, maak dat ons traag is om God beter te leer ken. Ons eie beheptheid met betekenislose wêreldse geluk, briek ons soeke na ware geluk wat by God alleen te vind is.

Dit bring ons terug by die enigste regte oorsprong van ware geluk: God self. En onverstaanbaar en onverklaarbaar, soek alle mense Hom nie, wil hulle Hom nie sien nie. Hulle is doodtevrede met net die “self”, die “eie ek”, in hulle. Hulle harte het geen plek vir God nie, en so mis hulle uit op ware geluk.

‘n Rein hart, is elke Jesus-mens wat gestroop word van die “self” en “eie ek”, om werklik plek te maak vir God in jou. Ja, natuurlik, sy Gees in jou. ‘n Rein hart beteken nie ‘n sondelose hart, of ‘n volmaakte hart, of reeds volledig heilige hart nie. In die Bybel is die hart elke mens se innerlike, vanwaar jy self besluit wie jy is en hoe jy lewe. ‘n Rein hart is elke Jesus-mens wat aan God oorgegee lewe en deeglik besef dat ek nie sonder Hom kan of wil lewe nie.

Hoekom is dit belangrik om God te wil sien? Geen mens kan sonder Hom gelukkig lewe nie! Maak dus baie seker dat jy werklik plek maak vir Hom in jou hart! Dit is ware geluk!

Thursday, August 20, 2015

Oordenking 23 Augustus 2015

Jesus se geheime tot geluk

Geheim 5:       Gelukkig in ‘n barmhartige lewenswyse

“Geseënd is dié wat barmhartig is, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word.”
(Matteus 5:7)

Hoe lekker sal dit nie wees as ek iets nuuts kan sê oor ‘n barmhartige lewenswyse waaraan niemand van ons nog ooit gedink het nie! Of nog beter, as ek iets kan sê, wat regtig die direkte oorsaak is vir ‘n totaal veranderde lewenswyse vir elkeen van ons! Wel, dit moet ons aanvaar: slegs die Gees van God in elke Jesus-mens kan ou bekende waarhede gebruik om ons lewens te verander – laat ons Hom dan presies daarvoor vertrou!

‘n Veranderde lewenswyse begin by ‘n veranderde hart. ‘n Nuwe lewenswyse kan slegs blywend en tot werklike voordeel van ander wees, waar die Heilige Gees in ons aktief werksaam is. Binnekant, innerlik, wie jy werklik is as mens soos jy is, word gevorm en verander om millimeter vir millimeter meer te groei om met God se hart te lewe. Spontaan en vrywillig, maar ook soekend en met inspanning, kry elkeen van ons geleentheid om met ‘n sagte hart soos God se hart te lewe.

Die gevolg van ‘n meer en meer Gees-beheerde hart: hardheid word met sagtheid vervang; haat word met liefde vervang; selfgerigtheid word met selfloosheid vervang; jou ego maak plek vir God self in jou; jou eie belange skuif uit die pad om ruimte te gee vir ander; jou beheptheid met besittings word eerder ‘n gesindheid van weggee wat jy kan; jou blindheid vir ander se seer word genees en jy kry oë en hande wat ander se pyn sien en verlig; jou traagheid om te loop na ander se nood word met energie gevul om te hardloop om verligting te bring. Ja, ‘n totaal nuwe lewenswyse vol barmhartigheid!

Anders gesê: ‘n barmhartige lewenswyse is ‘n Goddelike werking met doelbewuste samewerking van elke Jesus-mens!

Wie van ons wil nie baie graag met sagte liefdevolle woorde en dade behandel word nie?
Wie van ons wil nie graag in volkome vrede met ander lewe nie?
Wie van ons wil nie ontspan in al my verhoudinge sonder eise wat gestel word nie?

Soek dringend daarna om meer volledig van God afhanklik te wees.
Soek met groter toewyding na opregte innerlike geluk by Hom.
Soek maniere om werklik te hoor en te doen wat vir Hom reg is.

Die gevolg van hierdie soeke:  ware geluk!

Thursday, August 13, 2015

Oordenking 16 Augustus 2015

Jesus se geheime tot geluk

Geheim 4:       Gelukkig! Want jy honger en dors na wat reg is

“Geseënd is dié wat honger en dors na wat reg is, want hulle sal versadig word.”

(Matteus 5:6)

Vreemde geluk: jy kan gelukkig wees deur afhanklikheid, tevrede wees as daar hartseer is, sag wees wanneer jy eintlik hard wil wees ... en nou nog ook: jy kan seën ervaar wanneer jy honger en dors is!

Waarna dors jy?  Watter diep begeertes sit daar in jou hart?

Dié nommer EEN dors: om reg met God te wees.  Elke Jesus-mens se diepste behoefte is om te weet dat my verhouding met die Here in orde is. Moontlik voel jy nog dat jou goeie en toegewyde lewe vir God aanvaarbaar is. Die Bybel roep dit uit: “Jy kan nie self nie!”  Dis onmoontlik vir ‘n besoedelde sondaar om toegewyd genoeg te kan wees om in die teenwoordigheid van die heilige God te kan verskyn.  Jou kleed is vuil, jou gedrag stink...

Daarom het God self die mooiste plan gemaak om hierdie verhouding tussen jou en Hom te herstel.  Hy het sy eie Seun gestuur om al die vieslike sondigheid wat aan jou kleef op Hom te neem.  Toe het Hy daardie skuld aan die kruis van Golgota gestraf met Jesus se marteldood. Wil jy in die regte verhouding met God staan?  Gee jou oor aan Hom.  Hy kom woon in jou lewe, Hy was jou helder skoon met sy bloed, Hy vernuwe jou deur sy Heilige Gees.  Al jou sonde is reeds vergewe!

Die nommer TWEE dors: dat die onreg in hierdie wêreld sal stop!  Al die uitbuiting van mense, die mishandeling van kinders en diere, bejaardes en armes, rassisme, die vernietiging en besoedeling van die natuur, korrupsie en verdraaiing van die reg. Hierdie tweede honger en dors vloei voort uit die eerste.  Omdat jy ‘n kind van God is, wil jy graag soos God wees.  Dié dinge wat Hom pla, wat sy hart seermaak, wat Hom laat huil, hinder jou.  En jy kry ‘n passie om daardie dinge reg te stel.

Het jy diep in jou hart ‘n ernstige hunkering daarna dat jou verhouding met die Here heel sal wees?  Kom beleef die vervulling van daardie honger, daardie dors by Hom alleen.

Pla onreg jou?  Doen iets!  God is aan jou kant.  Jy sal versadig word.

Friday, July 31, 2015

Oordenking 2 Augustus 2015


Jesus se geheime tot geluk

Geheim 2: Gelukkig as jy treur

“Geseënd is dié wat treur, want hulle sal vertroos word.” (Matteus 5: 4)

Hoe vreemd klink dit nie om gelukkig te wees wanneer jy eintlik hartseer is nie?

Ja, en daar is so baie redes vir baie trane stort: die dood van iemand naby aan jou; ‘n liefdesverhouding wat verbreek word; fisiese pyn tydens ongelukke, swak gesondheid of operasies; iets van sentimentele waarde wat ons verloor. Enige iemand naby aan ons of enige iets baie kosbaar vir ons, kan baie trane veroorsaak. Tog gaan hierdie tweede saligspreking nie werklik oor ons gewone hartseer in ons daaglikse lewe nie, dit gaan oor ‘n baie dieper saak: God se hartseer!

Waaroor treur Hy en watter troos is hier van sprake dat dit iets met geluk te doen het?

Eerstens treur Hy oor elke Jesus-mens se traagheid om Hom toe te laat om sy/haar ALLES te wees. En omdat geheim een vir geluk gegaan het oor ons totale oorgawe aan Hom alleen as enigste fondament vir ware geluk, beleef ons iets van sy hartseer oor ons eie geestelike traagheid. Dit is nie langer ons sonde waaroor ons treur nie, daarvoor is ons reeds volledig deur Jesus se kruisdood vergewe. Ons het elkeen nodig om saam met Hom te treur oor ons eie selfsugtige gebrek aan geloofsdissiplines. Treur oor jou besige of nuttelose lewe wat nie genoeg tyd maak om stil te raak by Hom nie. Treur oor jou oppervlakkige soeke na meer van Hom in en deur jou ... MAAR laat dan die Gees toe dat jy vrywillig en spontaan ALLEEN by Hom troos vind vir hiérdie hartseer, daarin ALLEEN is ware geluk te vind.

Tweedens treur ons dan saam met Hom oor die verlorenheid van en gebrokenheid in ons daaglikse leefwêreld. Al die pyn, seer, haat, plesiersug, selfsug, magsug en ander stukkendheid van hierdie lewe, kan nie anders as om onder ‘n Jesus-mens se vel in te kruip nie. Hoe nader en dieper ons groei in Hom in ons, hoe meer word sy hartklop oor hierdie stukkende wêreld ook ons hartseer. MAAR dan kom sy Gees so aktief werksaam in ons, dat ons sy ware troos uitdra en uitleef daar waar Hy dit die nodigste vind. Ware geluk vir Jesus-kinders is ALLEEN te vind in die troos en Troos wat ons aan ons stukkende wêreld gee.

Jesus-mense is aktief besig om vertroosting te bring vir ander en God se skepping deur byvoorbeeld te luister na ander se seer, lyding te verlig waar jy kan, brood te gee waar nodig, siekes by te staan, bewaring van ons aarde se hulpbronne – die lysie van vertroosting wat ware geluk vir ander bring, is oneindig – besluit om aan te meld vir geluk in jóú lewe!

Thursday, July 23, 2015

Oordenking 26 Julie 2015

Jesus se geheime tot geluk

Geheim 1: Gelukkig in nederige afhanklikheid

“Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.” (Matteus 5: 3)

Elkeen van ons soek op een of ander manier na geluk ... maar voel daar kort iets.

Jesus klim op die berg en kom leer ook vir ons vandag ‘n paar Goddelike geheime vir ware geluk. Kom ons gaan sit by Hom in die volgende klompie weke en leer om Jesus-waarhede oor geluk raak te leef.

Ongelukkig kan ek nie anders as om net kortliks te noem van die verkeerde maniere om na geluk te soek nie: moet nie geluk in die genot van die goddelose wêreld se pret en plesier soek nie; geld gee nie blywende geluk nie; moenie daarna streef om geseën te word net ter wille van jouself en jou eie behoeftes nie; wees gewaarsku teen die teleurstelling wat mense en tydelike goed hier op aarde aan jou belowe; daar is geen waarborg vir ewige seëninge tydens jou aardse lewe nie.

Die kern van ware seën en opregte geluk, is slegs in God self te vind. En wat met God te doen het tydens ons aardse lewe, het alles te doen met sy koninkryk. En sy koninkryk is reeds hierdie kant van die graf ‘n leefbare werklikheid vir elkeen wat in ‘n lewende verhouding met Hom lewe. En ‘n lewende verhouding met Hom beteken, my hele aardse (en hemelse) bestaan het ALLES met Hom te make. En sy ALLES in my, beteken my enigste geluk is in Hom te vind, in belang van wat Hy deur my in ander wil bereik.

Geluk opgesom: God leef binne-in my, in belang van wat Hy in ánder wil bereik!

Hoe word hierdie Jesus-geheim vir geluk deel van my lewe? Hy gee vir my maniere om te ontdek hoe ek dit met doelbewuste vrywillige keuses voortdurend kan maak. Opregte geluk en innerlike blydskap, val nie in my skoot nie, dit word ‘n lewenswyse waarin ek leer om te groei. Met ‘n Gees-beheerde lewe in werklike neerbuigende toewyding, ontdek ek maniere om meer weg van myself, bewus van Hom in my, gedring deur sy liefde, my daaglikse lewe meer en meer vol te maak met aktiwiteite wat sy koninkryk en sy eer dien.

Thursday, June 25, 2015

Oordenking 28 Junie 2015


Leef om weg te gee

“Julle het dit verniet ontvang, gee dit ook verniet.” (Matteus 10: 8b)

Ons het almal iets om weg te gee, iets wat ons verniet ontvang het. Ons het almal iets om weg te gee, iets wat iemand anders nodig het. Een van die bevredigendste groei-ontdekkings wat ‘n Gees-gedrewe diens-gerigte Jesus-mens kan maak, is dat dit baie lekkerder is om te gee as om te ontvang.

Jesus is in Matteus 10 besig om sy naby-volgelinge opdragte te gee vir ‘n lewe van gee. Kom ons fokus net op vier van hierdie riglyne vir ‘n “gee-lewe”:

 1.      Gee eers aandag aan jou eie mense: “Gaan liewer na die verlore skape van Israel toe.” (vers 6):

Vir ons sal dit beteken om eers te kyk wie is die mense naby aan ons. Dit kan jou eie gesin- of familielede, eie kerkmense, jou bure, jou werksmense of skoolmaats wees. Begin gee aan die mense naaste aan jou – hulle is die “WIE” om aan te gee.

2.      Gee aandag waar daar nood is: “Maak siekes gesond, wek dooies op, reinig melaatses en dryf duiwels uit.” (vers 8):

“WAT” jy kan gee, gaan oor die nood van iemand naaste aan jou. Dit kan ‘n wye verskeidenheid van behoeftes wees: siekte, hartseer, gemoedsversteurings, verhoudingsprobleme, geldnood, werksomstandighede ... ja, noem maar op. Die geheim is om naby genoeg aan die iemand naby aan jou te kom, dat hy of sy jou kan vertrou en jy so presies weet wat daardie persoon se nood is. Gee dan iets van jouself vir die ander een – jou tyd, hulp, raad, teenwoordigheid, wysheid, liefde – dit hoef jou nie geld te kos nie.
 
3.      Gee om ook te kan ontvang: “Moenie vir goud ... in julle beursies sorg nie ...” (vers 9):

Daar is ‘n groot geheim in ‘n gee-lewe. Hoe meer jy net vir jouself opgaar en vir jouself leef, hoe minder lewensvreugde sal jy hê. Sonder dat enige een van ons dit kan verwag wanneer ons onvoorwaardelik gee waar daar nood is, ontvang ons meer terug as wat ons weggegee het. Baie keer kry ons op heeltemal ander maniere terug as wat ons weggegee het. Hierdie is die geheim van die “HOE” van gee.

4.      Gee met die regte gesindheid: “As die huismense se gesindheid goed is, handhaaf die vredeswens vir die huis.” (vers 13):

Vir my as Jesus-mens, gee die Gees van God in my ‘n nuwe gesindheid wat vanuit my binneste kom. Ek gee nie om raakgesien te word of om erkenning daarvoor te kry nie. Ek gee selfloos suiwer in belang van die behoefte van iemand anders, dis “HOEKOM” ek gee.

Geniet jou lewe van gee – jy ontvang so baie verniet!

Thursday, June 18, 2015

Oordenking 21 Junie 2015


Leef gereed, anders ...

“Dié wat gereed was, het saam met hom ingegaan na die bruilof toe, en die deur is gesluit.” (Matteus 25:10b)

Hoe gemotiveerd is jy om Gees-gedrewe diensbaar te wees? Hoe ernstig is jy om die Gees van God geleentheid te gee om sy liefde deur jóú ten toon stel? Hoeveel moeite doen jy om regtig iets baie spesifiek vir die Here te doen?

Onthou tog net die hele tyd, Hy bied sy ALLES vir jou en my: liefde, genade en vergifnis! Die vraag is: met hoeveel erns, toewyding en dringendheid reageer ons op sy ALLES?

Soms voel dit vir my so gebrekkig binne die kerk: die onderlinge liefdesgesindheid skiet ver tekort; daar is nie altyd enige haas om aan sekere belangrike sake aandag te gee nie; almal is nie ewe getrou in hulle verantwoordelikheid van bywoning en gee nie; sommige verdwyn net en ons hoor nooit weer van hulle nie; debatte en energie word op onbenullighede gemors.

In Jesus se gelykenis oor die tien meisies, wat hulle lampe vol olie moes maak vir die bruidegom se koms, gaan dit spesifiek oor ons elkeen se diensbaarheid binne die kerk. Ja, die verstandiges en onverstandiges is vandag binne in die kerk. Elke Sondag sit daar mense binne in die kerk wat verstandig of onverstandig is, gereed of nie gereed vir die bruidegom se koms.

Die GROOT waarskuwing: daar sal ‘n spesifieke moment wees, wat dit vir altyd te laat sal wees om gereed te maak, en niemand van ons weet wanneer dit gaan wees nie! Hier is die enigste antwoord, hoe om gereed te lewe vir daardie finale laaste moment: Ken God self persoonlik en maak baie seker dat Hy jou ken! Maak sy onvoorwaardelike liefde deur oorgawe aan sy Gees, verseker deel van jou hele lewe. Leef gereed soos ‘n verstandige deur jou talente, tyd en energie heelhartig in diens te stel van sy koninkrykswerk hier op aarde.

Waaruit bestaan ‘n lewe wat gereed en verstandig is?

·         Vertel vir ander van Jesus;

·         Wys deur jou lewe wat sy liefde is;

·         Gee jou tyd, geld en energie;

·         Gee vir die armes;

·         Versorg die siekes;

·         Vertroos diegene wat hartseer is;

·         Hef die sukkelaars op;

·         Vermaan die onverskilliges;

·         Praat moed in vir die moedeloses; en

·         Wees Jesus se hande en voete.

Leef vandag gereed deur ... (soos die Gees jou lei), môre kan vir altyd te laat wees!

Thursday, June 4, 2015

Oordenking 7 Junie 2015


Jou uitverkore plek in God se werk

“Elkeen van hulle vervul sy funksie, en so bou die liggaam homself op in liefde.” (Efesiërs 4:16c)

 Ontdek jou gawes, lidmaatbemagtiging, betrokkenheid, inskakeling, meelewing, groei in getalle en geestelike diepte, geloofsgemeenskap, liefdesgemeenskap - almal uitdrukkings en woorde wat iets beskrywe van die kerk van Jesus Christus hier op aarde.

Ons het reeds die punt bereik dat niemand skuldig hoef te voel wat nie betrokke is nie; niemand hoef uit dwang of plig sy of haar deel te doen nie; oor geld wil ons glad nie met mekaar praat nie; niemand het ‘n belangriker verantwoordelikheid as ‘n ander nie; die speelveld in God se koninkryk is gelyk. Ek en jy het elkeen ons plekkie in God se span, en elkeen is ewe nodig en belangrik.

 Ons verskil van mekaar ten opsigte van persoonlikhede, talente, gawes van die Gees, spiritualiteit, omstandighede, en nog baie meer. Ons hoef ook nie van mekaar te hou nie, bedoelende ons kom van nature nie ewe goed met almal oor die weg nie. Daar is as gevolg verskillende redes, uiteenlopende standpunte oor dieselfde sake. Ons voel nie altyd ewe tuis in almal se geselskap nie. Daar is ‘n verstaanbare én onverklaarbare diversiteit tussen Jesus-mense.

 Om by Paulus se beeldspraak aan te sluit, daar is verskillende liggaamdele in die menslike liggaam wat radikaal van mekaar verskil, maar tog het elke liggaamsdeel die ander liggaamsdeel krities nodig. Een liggaamsdeel kan nie en hoef nie alle liggaamsfunksies te hanteer nie. Maar een liggaamsdeel wat nie sy of haar funksie verrig nie, het ‘n direkte en drastiese effek op ‘n spesifieke gedeelte of op die hele liggaam. Sekere liggaamsdele is onvervangbaar, maar nie onafhanklik van die minder belangrike liggaamsdele nie.

 Binne die liefdesband van Jesus-mense in elke geloofsgemeenskap of gemeente of kerk, geld hierdie onderskeiding en tegelyk spesialisering van funksies en take. Elke Jesus-mens se plek in God se werk is onvervangbaar en in baie opsigte interafhanklik. Eenvoudig gesê: God het ons verskillende gawes en persoonlikhede nodig om ‘n gesonde geheel te vorm. Tog is niemand vir Hom onmisbaar nie, Hy kan sonder my en jou regkom deur net ‘n ander plan te maak.

 Kom ons maak dit persoonlik: wat is jou spesifieke funksie in die opbou en uitbou van die kerk? Sit jy en wag om bedien te word, of is jy Gees-gedrewe diensbaar? Kan jy met eerlikheid sê dat jy vrywilliglik ‘n vertoonvenster van Jesus-liefde in elke moontlike situasie elke dag is? Die Gees van God wil só graag sy liefde deur jóú ten toon stel!

Thursday, May 21, 2015

Oordenking 24 Mei 2015


PINKSTERFEES

Leef deur die Gees:    Eintlike Eindresultaat.           

“... wie op die akker van die Gees saai, sal van die Gees die ewige lewe oes.” (Galasiërs 6:8)

 Pinkster is vir ons dié tyd van jaar om spesiaal te fokus op die Gees van God in elke Jesus-mens. Tog kan ons elke liewe sekonde van elke liewe dag weet Wie Hy reeds in ons is.

In die brief aan die gemeentes in Galasië, is daar ‘n rykdom van waarhede oor die Heilige Gees: God stuur sy eie Gees tot in ons, sodat Hy altyd in ons is (4:6a); niemand kan glo in Jesus, sonder die Heilige Gees nie (5:5); God se Gees is die enigste Hulp teen ons sondige natuur (5:16); slegs die Gees maak ons werklik vry van die swaar las van reg en verkeerd (5:18); Hy in ons, is volledig verantwoordelik vir die uitnemende kwaliteite wat reeds in ons is (5:22); slegs deur die leiding van die Gees, kan ons radikaal liefdevol teenoor ander wees (6:1).

Hierdie samevatting uit Galasiërs van die Heilige Gees se werk in ons, is allesbehalwe volledig – Hy is nog tot baie meer en groter dinge in staat in elkeen van ons!

Maar dit bly belangrik om reg te dink en korrek te glo, oor presies waarheen God deur sy Gees met elkeen van ons op pad is: Wat wil Hý uiteindelik in en deur elkeen van ons bereik? Wat is die einddoel van die Heilige Gees se werk in ons? En hier is dit dan natuurlik ongelooflik belangrik dat Sý einddoel en mý einddoel uiteindelik presies dieselfde sal wees!

Ons fokusteks gee die antwoord:

 “... wie op die akker van die Gees saai, sal van die Gees die ewige lewe oes.” (Galasiërs 6:8)

Die Gees van die Drie-enige God is die eintlike Eindresultaat in elke Jesus-mens se bestaan! Net in ander woorde: God self is die einddoel van elke Jesus-mens se lewe. En die enigste manier waarop ons elkeen se einddoel 100% kan sinkroniseer met God se einddoel vir ons, is deur die voortgaande werk van God se Gees in ons.

Prakties sal dit onder andere kan beteken: Maak meer tyd om op ‘n manier wat vir jou werk, in God se teenwoordigheid te wees. Soek en vind jou innerlike rus by Hom alleen, veral in moeilike tye. Kom vry van enige laste en selfopgelegde pligte in jou verhouding met Hom. Wees oplettend in jou daaglikse lewe om Hom in die klein en groot dinge raak te leef.

Leef dus deur die Gees !!!