Geheim
4: Gelukkig! Want jy honger en dors
na wat reg is
“Geseënd
is dié wat honger en dors na wat reg is, want hulle sal versadig word.”
(Matteus
5:6)
Vreemde geluk: jy kan gelukkig wees deur
afhanklikheid, tevrede wees as daar hartseer is, sag wees wanneer jy eintlik
hard wil wees ... en nou nog ook: jy kan seën ervaar wanneer jy honger en dors
is!
Waarna dors jy? Watter diep begeertes sit daar in jou hart?
Dié nommer EEN dors: om reg met God te
wees. Elke Jesus-mens se diepste
behoefte is om te weet dat my verhouding met die Here in orde is. Moontlik voel
jy nog dat jou goeie en toegewyde lewe vir God aanvaarbaar is. Die Bybel roep
dit uit: “Jy kan nie self nie!” Dis
onmoontlik vir ‘n besoedelde sondaar om toegewyd genoeg te kan wees om in die
teenwoordigheid van die heilige God te kan verskyn. Jou kleed is vuil, jou gedrag stink...
Daarom het God self die mooiste plan gemaak om
hierdie verhouding tussen jou en Hom te herstel. Hy het sy eie Seun gestuur om al die vieslike
sondigheid wat aan jou kleef op Hom te neem.
Toe het Hy daardie skuld aan die kruis van Golgota gestraf met Jesus se
marteldood. Wil jy in die regte verhouding met God staan? Gee jou oor aan Hom. Hy kom woon in jou lewe, Hy was jou helder
skoon met sy bloed, Hy vernuwe jou deur sy Heilige Gees. Al jou sonde is reeds vergewe!
Die nommer TWEE dors: dat die onreg in hierdie
wêreld sal stop! Al die uitbuiting van
mense, die mishandeling van kinders en diere, bejaardes en armes, rassisme, die
vernietiging en besoedeling van die natuur, korrupsie en verdraaiing van die
reg. Hierdie tweede honger en dors vloei voort uit die eerste. Omdat jy ‘n kind van God is, wil jy graag
soos God wees. Dié dinge wat Hom pla,
wat sy hart seermaak, wat Hom laat huil, hinder jou. En jy kry ‘n passie om daardie dinge reg te
stel.
Het jy diep in jou hart ‘n ernstige hunkering
daarna dat jou verhouding met die Here heel sal wees? Kom beleef die vervulling van daardie honger,
daardie dors by Hom alleen.
Pla onreg jou?
Doen iets! God is aan jou
kant. Jy sal versadig word.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.