Jesus
se geheime tot geluk
Geheim
6: Gelukkig met ‘n rein hart
“Geseënd
is dié wat rein van hart is, want hulle sal God sien.”
(Matteus
5:8)
Ek wonder hoeveel mense wil God regtig graag
sien? Moontlik is baie mense nog bang om God regtig te sien? Of Hy is net so
ver en vreemd en onbekend, dat hulle glad nie belangstel om Hom te sien nie? Of
moet die vraag anders wees: hoekom is dit belangrik om God te wil sien?
Die Woord van God leer ons dat alles en almal
is op pad na die hemel waar God alles vir alles sal wees (1 Korintiërs 15:28).
Dit kom moontlik daarop neer dat ons eers in die lewe hierna, werklik sal sien
wie God en hoe God is. Alles is onder weg na ‘n toestand of bestaanswyse of
dimensie waar God se heerlikheid en teenwoordigheid alles sal oorheers. Nie
almal is ewe opgewonde oor hierdie gedagte nie, waarom nie?
Die ervaring van ons eie onrein hart, maak dat
ons bang is vir God. Ons eie tekortkominge laat ons gedurig skuldig voel in die
teenwoordigheid van die volmaakte God. Ons valse tevredenheid met ons eie
pogings om ‘n beter mens te wees, maak dat ons traag is om God beter te leer
ken. Ons eie beheptheid met betekenislose wêreldse geluk, briek ons soeke na
ware geluk wat by God alleen te vind is.
Dit bring ons terug by die enigste regte
oorsprong van ware geluk: God self. En onverstaanbaar en onverklaarbaar, soek
alle mense Hom nie, wil hulle Hom nie sien nie. Hulle is doodtevrede met net
die “self”, die “eie ek”, in hulle. Hulle harte het geen plek vir God nie, en
so mis hulle uit op ware geluk.
‘n Rein hart, is elke Jesus-mens wat gestroop
word van die “self” en “eie ek”, om werklik plek te maak vir God in jou. Ja,
natuurlik, sy Gees in jou. ‘n Rein hart beteken nie ‘n sondelose hart, of ‘n
volmaakte hart, of reeds volledig heilige hart nie. In die Bybel is die hart
elke mens se innerlike, vanwaar jy self besluit wie jy is en hoe jy lewe. ‘n
Rein hart is elke Jesus-mens wat aan God oorgegee lewe en deeglik besef dat ek
nie sonder Hom kan of wil lewe nie.
Hoekom is dit belangrik om God te wil sien?
Geen mens kan sonder Hom gelukkig lewe nie! Maak dus baie seker dat jy werklik
plek maak vir Hom in jou hart! Dit is ware geluk!
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.