Wednesday, November 26, 2014

Oordenking 30 November 2014

Om tot beskikking van God te wees

"Ek is tot beskikking van die Here.” (Lukas 1:38a)

 Kom ons maak gereed vir die beste Kersfees ooit! Hoekom? Omdat dit elke Jesus-mens se eie wilsbesluit is om nie net te oorleef van jaar tot jaar nie, maar om elke dag met ‘n splinternuwe verwagting te lewe! Ja, nie net oorleef nie, maar meer intens te lewe en met baie groter invloed te lewe. Beplan ‘n spesiale Kersfees, neem nuwe besluite oor Kersfees, wees gereed vir ‘n totale ommekeer deur die Gees van God in jou! Hoe kan hierdie Kersfees die beste ooit vir jou as Jesus-mens wees?

 Kom ons gaan kuier vir ‘n tydjie by die Lukas Evangelie se vertelling rondom die geboorte van Jesus. Die engel Gabriël verskyn aan Maria om haar voor te berei op die geboorte van haar Seuntjie, Jesus. Hy vertel vir haar wie hierdie besondere Kind van haar gaan wees: Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word. Die Here God sal Hom die troon van sy voorvader Dawid gee, en Hy sal as koning oor die nageslag van Jakob heers tot in ewigheid. Aan sy koningskap sal daar geen einde wees nie.” Maar dan is sy ‘n maagd, wat nog geen seksuele omgang met haar verloofde, Josef, gehad het nie, sodat sy moet hoor: “Die Heilige Gees sal oor jou kom, en die krag van die Allerhoogste sal die lewe in jou wek. Daarom sal die een wat gebore word, heilig genoem word, die Seun van God.” Want let op wat sê die engel: “Niks is vir God onmoontlik nie.”

 Maar dan antwoord Maria met hierdie besonderse woorde: "Ek is tot beskikking van die Here.” Kersfees in hierdie wêreld het onder andere begin met Maria se gewilligheid om beskikbaar te wees vir die geboorte van die Verlosser van alle tye!

Jou en my beste Kersfees kan begin met ons elkeen se gewilligheid om beskikbaar te wees om die Verlosser van alle tye aan die wêreld bekend te maak en uit te leef. Die beste Kersfees ooit gaan oor ‘n nuwe beskikbaarheid vir Jesus self! Slaan ‘n totaal nuwe blaadjie om vir hierdie Kersfees. Laat die Gees toe om jou nuut te laat dink, oor hoe hierdie Kersfees die beste ooit vir Jesus kan wees!

Hoe gaan jy Kersfees deurbring? Waarop gaan jou hooffokus wees? Hoe en waar en vir wie gaan jy jouself beskikbaar stel?

Friday, November 21, 2014

Oordenking 23 November 2014

Om aan God eer te gee

"Is daar niemand anders wat omgedraai het om God die eer te gee ... ?” (Lukas 17:18)

 Hoe dikwels lewe ons nie tussen die twee uiterstes nie: aan die een kant aanvaar ons te veel dinge as vanselfsprekend, en aan die ander kant kan ons voel dat ons nie genoeg waardeer wat ons het nie.  Elke Jesus-mens kan verskillend reageer op die grootste genesing van alle sonde, wat ons gratis en onvoorwaardelik, ontvang het: dit maak geen verskil in ons lewenswyse nie, of ons voel ons kan net nie genoeg doen om dankie te sê vir vergifnis nie.

In Lukas 17 word tien melaatses deur Jesus genees, en net EEN draai om nadat hy genees is, om Jesus te bedank! En dan is hy nog ‘n Samaritaan, die aartsvyande van die Jode! En Jesus se vraag aan die geneesde melaatse: “Was daar nie tien wat gesond gemaak is nie? Waar is die ander nege?”

 Wat is die belangrikste genesing, waarsonder geen mens kan lewe nie? Ja, vergifnis van alle sonde is die grootste genesing wat Jesus alleen deur die gawe van geloof moontlik maak. Hierdie genesing ís reeds vir almal in plek – elkeen moet dit net hoor en aanvaar.

 Waarvoor wil ons na Jesus teruggaan, nadat ons genesing van alle sonde ontvang het?

1.       Om Hom alle eer te gee. Om 24 uur 7 dae 'n week 365 dae van die jaar bewustelik en onbewustelik erkenning aan Hom te gee vir wie Hy vir my persoonlik is. In my innerlike en intieme en unieke belewenis van Hom, groei ek in die weinig wat ek wel van Hom verstaan.

 2.       Om daadwerklik my lewe aan Hom te wy. Deel van my dankie-lewe-vir-vergifnis, is om Hom te soek, te vertrou, te laat oorneem deur sy Gees, te bemin, te ... Nooit is dit genoeg van Hom vir my, alhoewel Hy altyd sy oorvloed vir my beskikbaar het, volgens sy standaarde.

 3.       Om aan die mense in my lewe en op my pad en uit my pad te wys, wie Hy in my lewe is. Hiervoor verander die Gees my denke oor ander. Hiervoor verander my prioriteite van alles en almal in my lewe. Dit raak selfs diegene naaste aan my. Dit raak my beursie. Dit raak my sosiale lewe en vriende.

 Moenie teruggaan na Jesus met die deurbraak van volkome vergifnis om nog van jou eie selfsugtige behoeftes aan Hom oor te laat nie. Hy weet beter wat jy nodig het, sonder dat jy vra!

 86 400 sekondes elke dag omdraai na Jesus om Hom te bedank, dit is om God te eer!

Thursday, November 13, 2014

Oordenking 16 November 2014

Om te gee sonder om te ...

"Jy kan jou gelukkig ag dat hulle niks het om jou mee te vergoed nie, want God sal jou vergoed ...” (Lukas 14:14)

 Ons is besig om as Jesus-mense na te dink oor die praktiese effek van ons tweede bekering. Wat  kan ons verwag van hoe die Gees in ons, ons manier van dink en ons leefwyse verander?

 Jesus eet en kuier saam die belangrike mense van sy tyd, iets wat nie juis sy gewoonte was nie. Hy het baie eerder saam met die sukkelaars en siekes tyd deurgebring. Moontlik besef ons nie hoe groot die kloof tussen ryk en arm, tussen die gesienes en die agtergeblewenes in die Bybelse tyd was nie. Amper soos die verskil tussen die omstandighede in Woodhill Golflandgoed in die ooste van Pretoria en Refilwe nedersetting by Cullinan.

Die vooraanstaandes was baie eisend om die heel beste sitplekke in te neem by die samekoms van belangrike mense. Daar was 'n vasgestelde protokol waarvolgens die kerkleiers en die geleerdes posisie ingeneem het aan tafel en by ander geleenthede, onder andere soos by troues. Nou vertel Jesus hoe ons juis by sulke geleenthede iets kan ervaar van beskeidenheid en gasvryheid. Maar dit gaan oor baie meer as net die beste plekke by 'n bruilof - dit gaan oor 'n permanente, totaal ander lewensingesteldheid, teenoor alle ander mense, in alle omstandighede.

 Ons redeneer so maklik ons werk hard vir al die voorregte en luukshede wat ons geniet – daarom hoef ons nie daaroor skuldig te voel nie. Of ons redeneer dat, as ons darem net ook uitdeel vir ander wat nie so baie soos ons het nie, dan is ons mos oukei. Moontlik kry meeste van ons dit reg om nie openlik neer te sien op ander nie, solank hulle net nie te veel van ons verwag nie. Dit is darem gerieflik om nie bekommerd te wees oor môre se kos of die volgende vakansie se petrolgeld nie. Meer as 90% ander mense op aarde kan nie dieselfde sê nie.

 Te maklik gee ons voorwaardelik. Te maklik gee ons met die bedoeling om iets terug te kry. Ons nooi julle vir ete sodat julle ons kan terug nooi, of ons nooi net mense wat kan terug nooi. Nog erger, ek gee en doen vir die Here, want Hy kan so baie terug doen en Hy kan so baie vir ons gee.

 Mag die Gees ons omvorm om te gee sonder om te ... só gee Jesus!

Thursday, November 6, 2014

Oordenking 9 November 2014

Ek is vergewe!

“Het nie een van hulle die oordeel oor jou voltrek nie?  ... Ek doen dit ook nie.” (Johannes 8:10 en 11)

 Die resultaat van die Gees van God se werk in elke Jesus-mens, is net onbeskryflik bevrydend. Soos wat ons die Gees toelaat om al hoe meer ons gedrag te bepaal, kyk ons met totaal ander oë na elke mens op hierdie aarde. Ja, ons kyk deur Jesus se genade-gevulde oë, nie-veroordelend na elke sondaar en elke skuldenaar en elke boef. Die vrug van die Gees is, om met ‘n nuwe hart onvoorwaardelike vergewensgesindheid teenoor alle mense te openbaar!

 ‘n Vrou, wat die groot sonde van seksuele ontrou in haar huwelik gepleeg het, en in amper alle mense se oë sleg en verdoem is, word na Jesus gebring. Dis juis die oënskynlike onskuldige kerkleiers wat met ‘n gesindheid van veroordeling, Jesus self probeer plaas in die beskuldigde bank. In Jesus se tyd was owerspel met die doodgooi van klippe strafbaar - vandag nog word hierdie tipe oortreding steeds figuurlik met steniging gestraf.

 Dan skryf Jesus iets op die grond. Vir eeue sedertdien, word bespiegel wat Jesus geskryf het. Hy het eintlik twee keer iets geskrywe op die grond. Moontlik die eerste keer ‘n boodskap aan die aanklaers, wie Jesus uitnooi om die eerste klip te gooi. Dalk was die tweede boodskap aan die veroordeelde vrou gerig. Ons weet nie. Maar nadat Jesus op die grond geskrywe het, is niemand bereid om ‘n klip te gooi nie en vertrek die aanklaers een vir een. Ek raai Jesus kon vir die vrou geskrywe het: “Jy is vergewe!”

 Sonder enige teenprestasie van die oortreder, sonder enige skuldbelydenis, sonder enige verduideliking deur die sondaar, spreek Jesus haar vry. Net die positiewe aanmoediging om nie meer te sondig nie. Die nie-veroordelende optrede van Jesus, het ‘n nuwe lewe vir ‘n verworpene tot gevolg. Sonde-oorwinning volg op vergifnis en vryspraak.

 Die vermoë om mekaar nie te veroordeel nie, is die werking van die Gees in ons. Net so is dieselfde Gees in ons besig om ons lewensbenadering te herprogrammeer, sodat sonde al hoe minder ‘n rol in ons lewe speel. Soos wat elke Jesus-mens ontdek: “Ek is vergewe!”, net so groei ons daarin om vir elke ander mens op aarde te kan sê: “Jy is vergewe!” Vergifnis maak vry: dit bevry myself én is bevrydend teenoor ander mense.