“Het
nie een van hulle die oordeel oor jou voltrek nie? ... Ek doen dit ook nie.” (Johannes 8:10 en
11)
Aan almal wat dieper wil dink oor God en graag wil groei in jou lewende verhouding met Hom, bied ek die volgende Oordenking:
Thursday, November 6, 2014
Oordenking 9 November 2014
Ek is vergewe!
Die resultaat van die Gees van God se werk in elke
Jesus-mens, is net onbeskryflik bevrydend. Soos wat ons die Gees toelaat om al
hoe meer ons gedrag te bepaal, kyk ons met totaal ander oë na elke mens op
hierdie aarde. Ja, ons kyk deur Jesus se genade-gevulde oë, nie-veroordelend na
elke sondaar en elke skuldenaar en elke boef. Die vrug van die Gees is, om met ‘n
nuwe hart onvoorwaardelike vergewensgesindheid teenoor alle mense te openbaar!
‘n Vrou, wat die groot sonde van seksuele ontrou in haar
huwelik gepleeg het, en in amper alle mense se oë sleg en verdoem is, word na
Jesus gebring. Dis juis die oënskynlike onskuldige kerkleiers wat met ‘n
gesindheid van veroordeling, Jesus self probeer plaas in die beskuldigde bank.
In Jesus se tyd was owerspel met die doodgooi van klippe strafbaar - vandag nog
word hierdie tipe oortreding steeds figuurlik met steniging gestraf.
Dan skryf Jesus iets op die grond. Vir eeue sedertdien,
word bespiegel wat Jesus geskryf het. Hy het eintlik twee keer iets geskrywe op
die grond. Moontlik die eerste keer ‘n boodskap aan die aanklaers, wie Jesus
uitnooi om die eerste klip te gooi. Dalk was die tweede boodskap aan die
veroordeelde vrou gerig. Ons weet nie. Maar nadat Jesus op die grond geskrywe
het, is niemand bereid om ‘n klip te gooi nie en vertrek die aanklaers een vir
een. Ek raai Jesus kon vir die vrou geskrywe het: “Jy is vergewe!”
Sonder enige teenprestasie van die oortreder, sonder
enige skuldbelydenis, sonder enige verduideliking deur die sondaar, spreek
Jesus haar vry. Net die positiewe aanmoediging om nie meer te sondig nie. Die
nie-veroordelende optrede van Jesus, het ‘n nuwe lewe vir ‘n verworpene tot
gevolg. Sonde-oorwinning volg op vergifnis en vryspraak.
Die vermoë om mekaar nie te veroordeel nie, is die werking
van die Gees in ons. Net so is dieselfde Gees in ons besig om ons lewensbenadering
te herprogrammeer, sodat sonde al hoe minder ‘n rol in ons lewe speel. Soos wat
elke Jesus-mens ontdek: “Ek is vergewe!”, net so groei ons daarin om vir elke ander
mens op aarde te kan sê: “Jy is vergewe!” Vergifnis maak vry: dit bevry myself
én is bevrydend teenoor ander mense.
Labels:
oordenking
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.