Om vrugte te dra
“Maar
die tuinier antwoord: Meneer, laat hom nog hierdie jaar staan. Ek sal die grond
rondom hom omspit en bemes.” (Lukas 13:8)
So maklik dink ons Jesus-mense dat dit met ons eie
inspanning is dat ons vrugte dra wat by ons bekering pas. So maklik word die
dinge wat ons vir die Here doen 'n las en plig. Die wonderlike dinge wat ons
vir die Here doen, word maklik iets om mee te spog. Ons het dan tyd en geld
opgeoffer. Bewustelik en onbewustelik verdien ons krediete agter ons goeie
naam!
In die gelykenis van onvrugbare vyeboom leer ons egter
iets totaal anders. Hierdie vyeboom staan in die eienaar se wingerd geplant.
Vir drie jaar soek hy elke jaar in vyetyd vrugte aan die boom en dan is daar
niks. Nou gee die eienaar opdrag aan die tuinier om die vyeboom sonder vrugte
uit te kap, want dit put net die grond uit. Die tuinier vra grasie, ja, nog 'n
kans om iets aan die vrugtelose boom te doen. Die tuinier neem
verantwoordelikheid, vra nog 'n jaar kans om, om te spit en te bemes.
Ons enigste God is die eienaar van die wingerd en die
vyeboom daarin. Die vyeboom is simbool vir ons as Jesus-mense. Ons staan in God
se wingerd geplant. Jesus is die tuinier wat deur die Gees van God
verantwoordelikheid neem vir die wingerd met die vyeboom in. Die Tuinier met 'n
hoofletter werk in die wingerd van God. Hy sorg dat dit omgespit en bemes word,
sodat die vrugtebome vrugte kan dra. Geen vrugteboom is in staat om sonder die
Tuinier se ingryping vrugte te dra nie.
Wat beteken dit vir ons? Ons kan net seker maak ons staan
geplant in God se wingerd, daar wil ons wees met alles in ons. En binne die
kragveld van die Gees se werk, sal daar vrug wees! Soms gaan die "omspit
en bemes" met pyn en seerkry gepaard. Ander kere is dit pure plesier om te
ervaar dat daar net die wonderlikste dinge deur ons gebeur, sonder enige inspanning
deur ons.
Die verrassing is dus, dat vrug dra in God se koninkryk
'n Gees-werking is, solank ons net in die wingerd is.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.