“Soos
die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook.”
(Johannes 20:21)
Die groot uitdaging wat elkeen van ons Jesus-mense elke
dag het, is om 'n impak in God se koninkryk te maak.
Hiervoor sê die opgestane Jesus, "ontvang die
Heilige Gees"! Dit beteken elkeen van ons ontvang die beste en volledige
hulp van God self met sy Gees in ons. En dit is met een spesifieke doel, om 'n
impak in God se koninkryk te maak. Elkeen word gestuur om 'n impak te maak deur
liefde, vrede en vergifnis vir ander spontaan te leef. Hoe kan ons dit doen?
- Ons leef
tussen ander mense wat bang, onseker en/of verlore is of voel - self kan
ons ook so voel. Ons leef agter geslote deure en hekke, misdaad bedreig
ons almal op een of ander wyse. Daar is so baie wat ons leefwêreld
deurmekaar maak, dinge verander soms baie vinnig en die toekoms lyk baie
onseker. Te veel beleef ons die agteruitgang op so baie fronte in
die samelewing en dit maak ons moedeloos. Op te veel terreine is dit sigbaar
dat mense sonder Jesus leef en nie eers skaam is daaroor nie. Hiermee word
ons daagliks gekonfronteer.
- MAAR ons het
Jesus, ons volmaakte Verlosser, wat volledig vergifnis van sonde vir alle
mense is - hierdie waarheid staan op ons enigste Rots! Ons elkeen se
persoonlike redding is slegs en alleen gebou op hierdie onverdiende guns
van ons Here. Hierdie guns is vir alle mense beskikbaar, ongeag wie of wat
die omstandighede is. En die enigste wyse waarop verlore en onseker en
bang mense met die liefde van ons God in aanraking kan kom, is deur ons
lewe en deur ons woorde. Geen ander waarheid, as die waarheid van God se
liefde vir alle mense, kan groter impak hê op die omstandighede waarmee
ons elke dag gekonfronteer word nie.
- Daarom kan
elke Jesus-mens vrymoedig, met liefde en met die gawes wat elkeen het,
soos dit op ons pad kom, vrede en vergifnis leef en vertel. Ons het die
geleenthede om die allerbeste nuus van Jesus se liefdevolle opoffering vir
almal, nie net te leef nie, maar ook verder uit te dra. Waar ek en jy elke
dag besig is met ons dagtaak tussen ander mense, is elkeen van ons die
kanaal van Jesus-liefde na verwarde en verlore mense.
Ons
Here wil jou baie graag gebruik om ‘n impak te maak ter wille van sy koninkryk –
jy is reeds aan diens!
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.