Thursday, April 21, 2016

Oordenking 24 April 2016

Die groot geskenk van nuwe lewe!
“In sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood.” (1 Petrus 1:3)

Ons is besig om beter te verstaan wat die “nuwe lewe in Christus” vir elke Jesus-mens is. Mag elkeen besef: ek ís die nuwe mens in wording!

Hoor die ongelooflike woorde wat Petrus aan die begin van sy brief gebruik: “uitverkorenes van God; vreemdelinge in die wêreld; deur die Gees afgesonder om aan Hom gehoorsaam te wees en besprinkel met die bloed van Jesus Christus; lewende hoop op die onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis ...”

Ons daaglikse uitdaging en geleentheid is om beter te ontdek wat ons reeds as nuwe mense is. Deur die bloed van Jesus aan die kruis en die oorwinning deur die opstanding, ontvang elke Jesus-mens die geskenk van nuwe lewe. Hierdie nuwe lewe is gewaarborg deur Iets en Iemand buite die mens self, en juis daarom is dit permanent en onaantasbaar. God self is die volledige en volmaakte waarborg. Die opoffering en prys wat sy eie Seun vir hierdie nuwe lewe betaal het, is net te groot dat daar enige gebrek of tekort daarin kan wees.

Op pad na die finale voltooiing van God se werk in elke Jesus-mens, vind daar ‘n proses van suiwering plaas. Petrus skryf baie realisties oor hierdie pad. Hy noem dit “beproewings”, wat onder andere verwys na die moontlike pyn en teenspoed op ons pad. Ons elkeen se lewenspad het opdraandes en afdraandes, en deur elke ervaring van die negatiewe en die positiewe, het ons geleentheid om te groei of nie. Hoe beter ons besef wie ons reeds in Jesus Christus is, hoe beter groei ons deur hierdie ervaringe. Anders gestel, eers met die ontdekking van die groot geskenk van nuwe lewe, kan ek en jy die uitdagings van die lewe hanteer.

Hierdie nuwe lewe begin en eindig by God, wat van ewigheid tot ewigheid is Wie Hy is. In sy onveranderlike en onvoorwaardelike liefde, het Hy elkeen van sy Jesus-mense geskep en uitverkies om deel te vorm van sy ewige plan met alles. Nou is dit vir ons as Jesus-mense om gedurig meer van God in ons, en sy plan met ons, te ontdek.

Kom ek nooi jou uit om vandag bietjie vooruit te dink. Waar wil jy graag oor ‘n jaar wees in jou verhouding met Hom in jou? Waarmee sukkel jy die meeste in jou geestelike groei? Hoe sal jy die graagste hierdie nuwe lewe wil belewe? Weet dan: Hy is jou antwoord!

Thursday, April 14, 2016

Oordenking 17 April 2016


Die nuwe mens in wording
“... en leef nou die lewe van die nuwe mens, wat al hoe meer vernuwe word na die beeld van sy Skepper en tot volle kennis van God.” (Kolossense 3: 10)

Ons is besig om beter te verstaan wat die “nuwe lewe in Christus” vir elke Jesus-mens is. Hoe wil die Gees van God van jou lewe ‘n getuie maak van hierdie nuwe lewe?

In Kolossense 3 gee Paulus ‘n baie mooi beskrywing van wat ons kan verwag wanneer ons toelaat dat die Heilige Gees ons lewens vernuwe. Sonder om by sy lysie van moontlike veranderinge stil te staan (gaan lees dit maar self as jy wil), kom dit min of meer op die volgende neer:

Sekere gewoontes of optredes in jou lewe, begin om te verander: sommige drasties en onmiddellik, ander moeilik en baie stadig; sommige bewustelik en ander onbewustelik; sommige is spesifieke besluite wat jy neem en ander is jy nie gereed om oor te besluit nie. Soos wat jy deur verskillende lewenservaringe gaan en met jare se ondervinding, groei jy in kennis en beter gewoontes. Ongelukkig vind die mees drastiese veranderinge plaas wanneer jy deur krisisse moet gaan.

In hierdie geloofsreis van lewensvernuwing, gebeur dit dat jy in sekere opsigte al hoe meer ontuis en vreemd voel teenoor sekere goed in jou verlede en sekere goed wat deel is van hierdie goddelose wêreld. Nuwe gewoontes en ‘n nuwe gesindheid in jou eie unieke persoonlike lewe, word die vertrekpunt om meer vir ander te beteken. Jou eie behoeftes word minder belangrik in belang van ander se behoeftes. Oppervlakkigheid maak plek vir diepte. Godsdienstigheid word vervang met ‘n verhoudings-gerigte lewenswyse.

En die grootste wonder van dit alles is, daar is nie ‘n vaste patroon of een resep wat vir almal geld nie. Hier is nie voorskrifte of vaste reëls wat gevolg word nie. Elkeen se lewensreis en lewenservaringe verskil, en het gevolglik ‘n unieke vernuwing tot gevolg. Met respek gesê, natuurlik is dit God se manier om dit vir Homself interessant te hou. Ons kan wel by mekaar leer en dit geniet om in mekaar se lewens die vernuwing raak te sien waarmee die Gees besig is.

Die enigste voorwaarde vir hierdie “nuwe mens in wording”, is dat dit alles oor God gaan. Hierdie vernuwing is nie in ons eie belang en tot ons eie voordeel nie. Om “al hoe meer vernuwe (te) word na die beeld van sy Skepper en tot volle kennis van God” (Kolossense 3: 10), is sodat “... Christus alles en in almal is.” (Kolossense 3:11c).

Let net op: jy ís die nuwe mens in wording!

Thursday, April 7, 2016

Oordenking 10 April 2016

Die nuwe opstandingslewe in Christus
“Gaan ... verkondig ... die volle boodskap van hierdie nuwe lewe.” (Handelinge 5: 20)

Nadat ons so naby aan Jesus gestap het, dat die stof van sy voete ook op ons gekom het en ons mooi kon luister na wat Hy vir ons geleer het, wil ons nou verder stap. Hy is gekruisig, maar het uit die dood opgestaan. Die Heilige Gees is in volle krag uitgestort om in elke Jesus-mens lewensveranderend teenwoordig te wees. Hierdie Gees van Jesus self, is besig om ‘n opgestane Jesus se lewenswyse sigbaar te maak in elke Jesus-mens. Hierdie nuwe lewenswyse word regdeur die Bybel die “nuwe lewe” genoem. Kom ons ontdek saam in die weke wat kom wat hierdie “nuwe lewe” werklik vandag vir ons beteken.

In Psalm 119:25 bid die digter: “... gee my nuwe lewe soos U in u woord beloof het.” In die wysheidsliteratuur van Spreuke lees ons: “... ‘n begeerte wat vervul word, bring nuwe lewe.” (13:12b). Na die ballingskap, hoor die volk Israel: “... julle sal nuwe lewe kry soos groen gras wat uitspruit ...” (Jesaja 66:14).

In Handelinge 5 word die apostels gevange geneem deur die godsdienstige leiers omdat die apostels siekes gesond gemaak en bose geeste uitgedryf het. Hulle word deur ‘n engel met ‘n wonderwerk uit die tronk bevry, met die opdrag: “Gaan ... verkondig ... die volle boodskap van hierdie nuwe lewe.” (Handelinge 5: 20) Met hulle verskyning voor die Joodse Raad, antwoord Petrus en die ander apostels: “'n Mens moet eerder aan God gehoorsaam wees as aan mense! Die God van ons voorvaders het Jesus uit die dood opgewek nadat julle Hom vermoor het deur Hom aan die kruis te hang. God het Hom verhoog tot Leidsman en Verlosser aan sy regterhand, sodat Hy Israel tot bekering kan bring en hulle sondes kan vergewe. En ons is getuies hiervan, ons en die Heilige Gees wat deur God gegee is aan dié wat aan Hom gehoorsaam is.” (Handelinge 5:29 tot 32) Op aanbeveling van die leermeester Gamaliël, word die apostels weer vrygelaat.

Waar laat dit ons vandag? Dieselfde Heilige Gees is deur God aan elkeen van ons, wat glo in Jesus Christus, gegee. Begeer jy ‘n dieper persoonlike verhouding met ons Here? Wil jy ook graag vry van enige oppervlakkige godsdienstigheid voluit vir Jesus lewe? Is jy gereed om sigbaar meer en meer die nuwe lewe wat alleen deur die opgestane Jesus moontlik is, te lewe?

Wees dan meer aan God gehoorsaam as aan mense. Maak elke faset van jou lewe oop vir die Gees van God se nuwe lewe in jou! Laat die Gees van jou lewe ‘n getuie maak van hierdie nuwe lewe.