Thursday, April 14, 2016

Oordenking 17 April 2016


Die nuwe mens in wording
“... en leef nou die lewe van die nuwe mens, wat al hoe meer vernuwe word na die beeld van sy Skepper en tot volle kennis van God.” (Kolossense 3: 10)

Ons is besig om beter te verstaan wat die “nuwe lewe in Christus” vir elke Jesus-mens is. Hoe wil die Gees van God van jou lewe ‘n getuie maak van hierdie nuwe lewe?

In Kolossense 3 gee Paulus ‘n baie mooi beskrywing van wat ons kan verwag wanneer ons toelaat dat die Heilige Gees ons lewens vernuwe. Sonder om by sy lysie van moontlike veranderinge stil te staan (gaan lees dit maar self as jy wil), kom dit min of meer op die volgende neer:

Sekere gewoontes of optredes in jou lewe, begin om te verander: sommige drasties en onmiddellik, ander moeilik en baie stadig; sommige bewustelik en ander onbewustelik; sommige is spesifieke besluite wat jy neem en ander is jy nie gereed om oor te besluit nie. Soos wat jy deur verskillende lewenservaringe gaan en met jare se ondervinding, groei jy in kennis en beter gewoontes. Ongelukkig vind die mees drastiese veranderinge plaas wanneer jy deur krisisse moet gaan.

In hierdie geloofsreis van lewensvernuwing, gebeur dit dat jy in sekere opsigte al hoe meer ontuis en vreemd voel teenoor sekere goed in jou verlede en sekere goed wat deel is van hierdie goddelose wêreld. Nuwe gewoontes en ‘n nuwe gesindheid in jou eie unieke persoonlike lewe, word die vertrekpunt om meer vir ander te beteken. Jou eie behoeftes word minder belangrik in belang van ander se behoeftes. Oppervlakkigheid maak plek vir diepte. Godsdienstigheid word vervang met ‘n verhoudings-gerigte lewenswyse.

En die grootste wonder van dit alles is, daar is nie ‘n vaste patroon of een resep wat vir almal geld nie. Hier is nie voorskrifte of vaste reëls wat gevolg word nie. Elkeen se lewensreis en lewenservaringe verskil, en het gevolglik ‘n unieke vernuwing tot gevolg. Met respek gesê, natuurlik is dit God se manier om dit vir Homself interessant te hou. Ons kan wel by mekaar leer en dit geniet om in mekaar se lewens die vernuwing raak te sien waarmee die Gees besig is.

Die enigste voorwaarde vir hierdie “nuwe mens in wording”, is dat dit alles oor God gaan. Hierdie vernuwing is nie in ons eie belang en tot ons eie voordeel nie. Om “al hoe meer vernuwe (te) word na die beeld van sy Skepper en tot volle kennis van God” (Kolossense 3: 10), is sodat “... Christus alles en in almal is.” (Kolossense 3:11c).

Let net op: jy ís die nuwe mens in wording!

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.