Wednesday, November 28, 2012

Oordenking 2 Desember 2012

Oordenking 2 Desember 2012

Uiteindelik! Lig en lewe vir die mens!

“In Hom was daar lewe, en dié lewe was die lig vir die mense.” (Johannes 1:4)

‘n Baie ou boodskap, ‘n boodskap wat nooit oud sal word nie, ‘n boodskap wat steeds lewens verander, dit is die boodskap oor Jesus se mens-wording.

Sê nou maar net Kersfees 2012 beteken dat meer mense vir die ware Jesus as enigste Verlosser ontmoet; sê nou maar net hierdie Kersfees vind daar ‘n grootskaalse herlewing regoor ons land, ja, sommer regoor die hele wêreld plaas; sê nou maar net die herdenking van Jesus se eerste koms na ons aarde, beteken dat Hy deur sy Gees kragtiger in elkeen van ons kom lewe! Ja, dit kan: Jesus kan ons elkeen nuut laat ontdek, ons nuut maak – sy eerste koms waarborg lewe en lig, die belangrikste wat elke mens nodig het.

“In Hom was daar lewe... “ Jesus is soos elkeen van ons as mens gebore. Hy moes mens word soos ons, om ons Verlosser te kan wees. Hy was sondelose mens wat net soos ons op hierdie aarde gelewe het met al die gewone daaglikse behoeftes van kos en klere, met emosies van hartseer en woede, met liefde vir swaarkry-mense. Hy het gelewe soos ons, maar in Hom is daar ook lewe. Hy moes sterwe, sodat ons kan lewe. Die sondelose Een moes sterwe, sodat sondaars die ewige lewe kan ontvang. Hy moes eers dood wees om daarna uit die dood op te staan. En so word sy lewe na die dood, vir ons ook die enigste geleentheid om weer lewendig te word: geestelik met bekering, en fisies lewendig tydens die opstanding uit die dood.

“... en dié lewe was die lig vir die mense.” Maar dié lewe wat slegs deur die Jesus-kind moontlik geword het, is ook die lig vir elke mens wat in die donker van die boosheid lewe. Donkerte en duisternis is in die Bybel die lewe buite die lig van God, dit is die lewe in die boosheid van hierdie goddelose wêreld. Jesus se aardse koms het ‘n einde kom maak aan die invloed en werk van die boosheid vir elkeen wat die lewe in Christus ontvang.

Maak oop jou arms, meld aan as ontvanger van lewe en lig. Maak jou hele lewe en jou hele menswees oop vir die nuut-wordende lewe wat God se Gees in jou wil bring. Verlaat finaal die donker bestaan, kom finaal vry van alle boosheid.

Sê nou maar net jy lewe hierdie Kersfees in die ware lig van Jesus!

Doom Charl

Wednesday, November 21, 2012

Oordenking 25 November 2012

Oordenking 25 November 2012

Ewige bouwerk aan my geestlike huis

“Die fondament is Jesus Christus.” (1 Korintiërs 3:11b)

In die gejaagde tyd waarin ons leef met soveel kitsoplossings, word kwaliteit al hoe skaarser. Ordentlike bouwerk het ‘n luukse geword. Brouwerk met die bou van huise, geboue en ander strukture is gedurig in die nuus. In ons lewende verhouding met ons enigste Here en Verlosser, vind daar ook voortgaande bouwerk plaas. In hierdie geestelike bouwerk, is dit uiters belangrik dat daar kwaliteit sal wees. Hoe kan ek weet dat my geestelike groei uit kwaliteit bestaan?

Eerstens is dit krities belangrik dat ek baie goed sal begryp dat elke fasset van kwaliteit in my geestelike bouwerk, SLEGS van God af kan kom. Die ellendige sonde in elkeen van ons, veroorsaak soveel permanente skade aan my gees, dat daar geen manier is waarop ek dit self kan herstel nie. Hoe langer ek al leef in ‘n verhouding met my Here, hoe meer ontdek ek my eie onvermoë om die sonde in my te oorwin. Ek ontdek juis meer sondes en dit pla my al hoe meer. Ek besef dat ek self verantwoordelik is vir die gemors in my lewe. Ek is en bly in die moeilikheid by God.

Tweedens ontmoet ek en ontdek ek die volmaakte en almagtige werk van God in my. Sy Gees kom maak my eie brouwerk heel. Om die waarheid te sê, Hy begin heel voor. Hy lê eers ‘n nuwe fondament vir my geestelike huis. Hy laat my Christus Jesus ontmoet as my enigste Verlosser. In hierdie ontmoeting met Jesus (wat uit wedergeboorte en bekering bestaan), begin God se bouwerk in my. Jesus word vir my die enigste antwoord: deur Hom alleen leer ek God ken; Hy sluit die lewenspoorte vir my oop; ja, Hy sluit die hemelpoorte vir my oop; Hy word ‘n lewende werklikheid in my daaglikse lewe, al het ek Hom nog nooit gesien nie; Hy word die vertrekpunt, die fondament vir my geestelike groei.

Derdens kom vul Jesus self my geestelike huis met nuwe meubels, met nuwe inhoud. Die Gees van God woon en werk nou in die tempel wat ek vir Hom is. Die alledaagse tydelike lewe op aarde kry nou reeds nuwe betekenis en nuwe inhoud. Die oomblikke wat ek van Hom bewus raak, raak meer en meer intens. My prioriteite verander, my vriende verander, my familie verander, my gesondheid verander, my finansies verander ... elke fasset van my lewe, my geestelike huis word deur God se Gees verander.

Laat God toe om te belê in bouwerk in jou!

Doom Charl

Tuesday, November 13, 2012

Oordenking 18 November 2012

Oordenking 18 November 2012

My wenslysie vir die Here

“Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood, in die verwagting dat ek self deel sal hê aan die opstanding uit die dood.” (Filippense 3:10 – 11)

Ek wil beweer dat ons tans die grootste omwenteling in die Christendom beleef sedert die groot Hervorming in die 18e eeu. Die hoofstroom Christelike kerke het vanuit die Hervorming ontwikkel tot ‘n deurdenkte dogmatiese gerigtheid op ‘n suiwer Bybelse interpretasie van kerk-wees. Dit het tot gevolg gehad dat kerke baie wetties en na binne gerig was. In hierdie nuwe omwenteling in die kerk, ontdek ons wat dit is om baie meer vry onder die genade van God te leef en meer na buite gerig te wees. Wat beteken hierdie nuwe omwenteling vir elkeen van ons wat bely dat ons glo in Jesus Christus?

Daar is veral twee goed wat gebeur: Eerstens vind daar ‘n suiwering in die hoofstroom kerke plaas. In die NG Kerk self word al hoe meer gepraat in die rigting van dat dit slegs dié lidmate is wat getrou meeleef met die kerklike aktiwiteite, wat werklike lidmate is. En tweedens is dit juis hierdie “werklike” kinders van die Here, wat spontaan Jesus se liefde prakties uitleef in hulle alledaagse lewe. Hoekom kan dit as ‘n nuwe omwenteling in die kerk gesien word?

Daar is ‘n radikale nuwe fokus op Jesus self! Hy het vir ons die pad kom oopmaak na ons Vader (Johannes 14:6), en ons is een met Hom en die Vader (Johannes 17). Hy wat Jesus is, is dus die dryfkrag en motivering vir ‘n totale omkeer en herlewing in die kerk van Jesus Christus. Sy voorbeeld, sy leefwyse, sy lering, sy selflose offer, sy alles soos geopenbaar deur sy Gees en in sy Woord, verander ons denke oor wie Hy is vandag!

Daarom Paulus se wenslysie: om Christus te ken, en een met Hom te word in sy lyding en in sy opstanding uit die dood. Hierdie wenslysie van Paulus het ‘n direkte invloed op ons verwagtinge in ons lewende verhouding met Hom. Hoe beter ons vir Jesus leer ken vir wie Hy werklik vandag in elkeen van ons wil wees, hoe meer verander Hy ons uitkyk op die lewe. Nou word ons selfs gewillig om swaar te kry (want Hy het die ergste lyding vir óns deurgegaan). Nou loop ons lewendig uit ‘n geestelike doodsheid wat in die kerk ingesluip het. Ja, ons begin al hoe meer soos Jesus wees in hierdie stukkende, verwarde en goddelose wêreld. Maar ons glo ook vas dat ons soos Jesus lewendig in die hemel sal inloop na ons aardse dood.

Mag God se Gees ons elkeen se wenslysie nuwe inhoud gee, ja, ons lewe in Hom nuwe inhoud gee!

Doom Charl

Wednesday, November 7, 2012

Oordenking 11 November 2012

Oordenking 11 November 2012

Die enigste pad na die ware God

“Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie.” (Johannes 14:6)

Ek het eers onlangs ontdek hoe ‘n GPS verskillende paaie na een plek kan bereken. Nou wil dit ook lyk asof daar vandag verskillende paaie is om by God uit te kom. So is die gevaar dat die verskillende godsdienste gesien word as verskillende maniere om by dieselfde God uit te kom. En dit is glad nie waar nie!

Jesus is die enigste pad na God, na die Vader toe, Hy sê dit self. Jesus is een met die Vader, en daarom kan ons deur Hom die Vader leer ken en by die Vader uitkom. Daarom sê Jesus: “Wie in My glo, glo nie net in My nie maar ook in Hom wat My gestuur het.” (Johannes 12:44) Daar is slegs EEN Jesus wat as mens na ons aarde toe gekom het, en deur sy kruisiging en opstanding het Hy vir ons die ENIGSTE ingang na ons hemelse Vader geword.

Daar sal nooit ‘n “ander Jesus” gestuur word omdat die goddelose wêreld die enigste Jesus verwerp nie. In die Johannes Evangelie kry ons ontwikkelde denke oor ons verhouding met Jesus en die Vader: “Ek bid dat hulle almal een mag wees, net soos U Vader, in My is en Ek in U, dat hulle ook in Ons mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het.” (Johannes 17:21)

Jesus Christus is ook die enigste waarheid ten opsigte van verlossing. Hy onderskei alle Christene se ware God van al die ander gode wat deur ander godsdienste aanbid word. Al is daar ander godsdienste wat Jesus as profeet erken, is dit slegs die Christelike geloof waar Jesus tegelyk as God en mens aanbid word. Hierdie waarheid, naamlik dat Jesus waarlik God is, kan nie bewys word nie, dit kan net geglo word.

So is geloof in Jesus dan ook die enigste manier om te lewe. Die sonde bring die dood vir elke mens op aarde, maar Jesus se sterwe vir elke gelowige uitverkorene se sonde, beteken lewe vir ons. So word Jesus die Lewegewer in ons, Hy gee nie lewe nie, Hy ís die lewe in ons. “Soos die Vader die lewe in Homself het, het Hy die lewe ook aan die Seun gegee om dit in Homself te hê.” (Johannes 5:26)

Kies nou, kies weer, kies beslis: KIES JESUS – die enigste weg en die enigste waarheid en die enigste lewe!

Doom Charl

Wednesday, October 31, 2012

Oordenking 4 November 2012

Oordenking 4 November 2012

Sabbat en Sondag – wat mag ek?

“Daarom is die Seun van die mens Here óók oor die sabbat.” (Markus 2:28)

Daar is gereeld onder kerkgangers opmerkings oor wat toelaatbaar is op Sondae en wat nie. Van ons ouer mense sal die dae onthou toe ons ouers ons verbied het om Sondae kaal voete rond te loop. Self is ons as kinders verbied om op Sondae te swem toe ons by my ouma by die see gaan vakansie hou het. Agter die onderhouding van die sabbat, is die vraag eintlik oor die verstaan van die Joodse wette en die nuwe betekenis wat Jesus daaraan kom gee het.

So lees ons in Markus 2 van Jesus en sy dissipels wat op die sabbatdag by die Joodse kerkleiers in die moeilikheid beland omdat die dissipels are van die gesaaides afpluk om te eet. Direk daarna lees ons in Markus 3 dat Jesus deur die Joodse leiers veroordeel word omdat Hy ‘n man met ‘n gebreklike hand op die sabbat genees het. So is daar ook ander uitsprake van Jesus oor die regte verstaan van die wet. In die bergrede in Matteus 5 herinterpreteer Jesus ‘n hele paar van die wette.

Om te verstaan hoe ernstig die Jode oor die wet was, hoor wat onder andere in die Misjna, ‘n Joodse geskrif wat die wette verder in detail uitspel, geskrywe is. Dit was verbode om by ‘n lamp te lees op die Sabbat, of brood in ‘n oond te plaas, of om twee briewe te skrywe, of om asyn vir tandpyn te suig, of werkers te huur. Vir die Jode het die sabbat Vrydagaand tot en met Saterdagaand met sononder gestrek.

Daar is nie ‘n teks in die Bybel wat die oorgang van die sabbat na die Sondag beskrywe nie. Van die eerste huisgemeentes het begin om voor sonop en na sononder op Sondae bymekaar te kom (Handelinge 20:7; 1 Korintiërs 16:2). Jesus se opstanding uit die dood het vir die Christene ‘n feesdag geword en dit was eers in die vierde eeu dat die Sondag ‘n amptelike rusdag geword het.

Uit Jesus se uitsprake oor die wet en die sabbat kan ons dan die volgende oor die Sondag sê: dit is nie die wetgevulde sabbat soos vir die Jode nie; een spesiale dag in die week is goed vir die mens se liggaamlike en geestelike gesondheid; vir ons as gelowige kinders van die Here het ons sewe dae van die week geleentheid om in liefde tot eer van die Here te lewe; Sondae is ‘n ideale feesdag om met toewyding te fokus op ons verhouding met die Here, ons verhoudinge met mekaar, en om goed te doen aan ander.

Doom Charl

Wednesday, October 24, 2012

Oordenking 28 Oktober 2012

Oordenking 28 Oktober 2012

Besit jy of word jy besit

“Waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees.” (Matteus 6:21)

Met die armoede wat nou tot op ons voorstoep kom, is dit nodig dat ons reguit met mekaar praat oor geld en besittings. Alle aanduidings is dat die gaping tussen ryk en arm net groter gaan word in die toekoms. En dan is die miljoen-rand-vraag: hoe hanteer ons as gelowiges ons geldsake?

Jesus praat in die bergrede in Matteus 5 tot 7 oor verskillende praktiese sake vir ons as Christene, ook oor geld en besittings. Hiermee help Hy ons met sekere beginsels wat steeds van toepassing is: die geestelike is belangriker as die materiële; wat ons sien, is bepalend hoe besitlik ons lewe; ek kan nie vir God en geld tegelyk dien nie; en ons Vader in die hemel ís besig om baie mooi vir ons te sorg, hou op bekommer!

Hieruit kan ons tot die gevolgtrekking kom dat dit nie verkeerd is om genoeg besittings te hê om gemaklik en sonder bekommernis te lewe nie. Hierdie aarde met al sy skeppingsprag, is vir ons om te geniet en te waardeer as ‘n gawe van God. Indien ek as gelowige in staat is om mooi goed te maak of mooi goed te koop, is dit deel van ons skeppingsopdrag om te werk en te heers.

Tog is daar groot gevare in geld en besittings: sodra dit my lewe oorheers, sodra dit God se plek in my lewe bedreig, sodra dit my selfsugtig maak, sodra dit ten koste van ander mense is, sodra dit die balans in my lewe versteur, sodra dit my tot oneerlikheid dryf, sodra dit my gierig maak, sodra dit my onbetrokke by armoede maak ...

Die antwoord is geleë in balans en eenvoud, met die uitdruklike en sigbare houding dat alles wat ek besit, kom van my Here af. Hy gee vir my gawes, vermoëns en geleenthede waarmee ek hard werk om vir myself én vir ander te kan sorg. Ek ontdek die vreugde en voorreg van uitdeel en sorg vir ander. Met Gods Gees in my, is dit vir my lekkerder om te gee as om te ontvang. Om die waarheid te sê, ek is daarop ingestel om alles waarsonder ek kan klaarkom, te deel met diegene wat nie het nie. Daar ís mense wat nie kan help dat hulle arm is nie!

Doom Charl

Wednesday, October 10, 2012

Oordenking 14 Oktober 2012

Oordenking 14 Oktober 2012

God is nie die oorsaak van enige verkeerde nie

“Dit is vir God werklik onmoontlik om verkeerd te doen ...” (Job 34:12a)

Daar is so baie dinge in ons land wat ‘n groot gemors is: die natuur wat opgefoeter word deur mynbou, die geldmorsery deur die regering, die onveiligheid in ons eie huise, die patetiese swak onderwys, die lewensgevaarlike toestande op ons paaie, die onsekerheid wat die politieke leiers veroorsaak oor die toekoms – dit lyk net nie asof ons vorder nie!

Is dit alles deel van God se plan met ons in hierdie land? Ons as kerkmense en gelowiges probeer dan ons beste om ‘n goeie lewe te lei - dit voel net asof ons nie hierdie gemors verdien nie. Ons het hierdie land help opbou en nou lyk dit asof dinge weer tot op die grond afgebreek word. Dit voel vir ons asof God onregverdig is om al hierdie gemors toe te laat.

Job is ook tot die uiterste beproef: die vroom en opregte Job verloor al sy besittings, en al sy kinders sterf in ‘n storm; sy drie vriende wil hom oortuig dat sy swaarkry die straf op sy sonde is; Job hou vol dat hy nie hierdie teenspoed verdien nie; in sy worsteling ontdek Job weer God se skepping, sy almag en sy wysheid; uiteindelik word Job weer voorspoedig.

Maar Elihu verskyn ook op die toneel met ‘n ander argument oor swaarkry: dit is nie om ons te straf nie, maar swaarkry is om ons reg te help en op die regte pad te hou. Daar is verseker ‘n groot waarheid in Elihu se argument, maar hy het ook gedwaal deur te sê dat swaarkry altyd tot herstel en voorspoed lei (33:23-30), en dat daar altyd ‘n verband tussen swaarkry en sonde is (34:11).

Tog praat Elihu verseker die waarheid oor God: “Dit is vir God werklik onmoontlik om verkeerd te doen ...” Hy is nie die oorsaak van al die gemors in ons land nie. Ons en ander sondaarmense net soos elkeen van ons, is die oorsaak. Die swaarkry wat ons ervaar, is ons eie skuld en ook die skuld van die algemene boosheid in hierdie tydelike wêreld.

Swaarkry kan soms straf op sonde wees, maar nie noodwendig altyd nie. So is voorspoed ook nie altyd die beloning vir ‘n goeie lewe nie. Ons wat vir God se liefde gekies het, is nie gevrywaar van moeilikheid nie. Al kan ons nie altyd al die verkeerde dinge verstaan nie, kan dit ons help om God beter te ken.

Doom Charl

Tuesday, October 2, 2012

Oordenking 7 Oktober 2012

Oordenking 7 Oktober 2012

Dit is teen sy sin dat ons swaarkry

“... want sy liefde is groot: dit is teen sy sin dat Hy mense in ellende en beproewing bring.” (Klaagliedere 3:32c-33)

Daar is baie hartseer en swaarkry onder ons. Huwelike wat onder spanning is, spanning binne huisgesinne, gesondheidsprobleme in families, kinders en kleinkinders wat probleme het, hartseer rondom die verlies van geliefdes, werksomstandighede wat onseker is, onsekerheid by ons jongmense oor hul toekomsplanne ... en so kan die lysie aangaan met die swaarkry van ons tyd.

Wat is ons Here se rol in tye van swaarkry? Wat kan ons van Hom verwag? Hoekom voel dit soms in swaarkrytye asof Hy afwesig is?

Jeremia het dieselfde vrae gevra. In Klaagliedere 3 lees ons: “Ek is die man wat ellende belewe het.” (vers 1) “Al roep ek en al smeek ek om hulp, Hy weier om my gebed te verhoor.” (vers 8) “Ek word uitgelag deur my hele volk, hulle sing heeldag spotliedjies oor my.” (vers 14) “Die gedagte aan my ellende en my vreemdelingskap is gal en gif vir my; as ek daaroor nadink, draai my gedagtes vas.” (vers 19-20)
Die volk Israel was onder ellendige omstandighede toe Jerusalem en die tempel deur die Babiloniërs verwoes is. Die honger was so groot dat vrouens selfs hulle eie kinders geëet het (Klaagliedere 2:20). Baie mense is doodgemaak, die vroue is in die strate verkrag en die soldate het alles moontlik gedoen om die volk te verneder. Die tempel van God is vernietig en al die heilige toerusting is gebuit. Selfs die koning, die gesalfde van die Here, is doodgemaak.

Maar Jeremia gee nie vir ons hol antwoorde en leë beloftes dat alles skielik net weer sal goed gaan nie. “Die Here is goed vir wie op Hom bly hoop, vir die mens wat na sy wil vra; dit is goed om geduldig te wag op die hulp van die Here...” (vers 25-26) “Laat hy in sy eensaamheid geduldig bly as God hom die las opgelê het, laat hy hom diep verootmoedig – miskien is daar hoop ...” (vers 28-29) “Die Here verstoot ‘n mens nie vir altyd nie; as Hy beproewing oor ‘n mens gebring het, ontferm Hy Hom weer ...” (vers 31-32)

Bly dus aan God vashou, hou aan om met Hom te praat in en oor jou swaarkry, wag geduldig dat Hy help op sy manier, want Hy ís getrou, Hy kán help, Hy wíl help, Hy sál uiteindelik help! Hoekom? Want Hy ís God! Dit teen sy sin dat ons swaarkry.

Doom Charl

Wednesday, September 26, 2012

Oordenking 30 September 2012

Oordenking 30 September 2012

Ons elkeen is die kerk

“Dit is tog duidelik dat julle ‘n brief van Christus is ... geskrywe ... met die Gees van die lewende God...” (2 Korintiërs 3:3)

Ons kan onsself voorberei vir opwindende nuwe tye met groot uitdagings in die toekoms. En as ek van “ons” praat, dan bedoel ek elke gelowige kind van die Here. Op hierdie pad van totaal nuwe dinge wat daar in ons huidige wêreld op ons wag, gaan ons mekaar as gelowiges baie nodig hê. En die kerk as versameling van kinders van die Here, wil vir ons ‘n geleentheid bied om saam hierdie nuwe uitdagings te hanteer. Maar dan moet ons mooi verstaan wie of wat die kerk is.

Die kerk is nie die gebou nie. Om die waarheid te sê, dit lyk asof die kerkgeboue soos ons dit vandag het, heeltemal anders gaan lyk in die toekoms – dit sal eerder plekke wees wat al sewe dae van die week ‘n funksie het vir die gemeenskap waarin dit is. Die kerk is ook nie die sinode of kerklike vergaderings nie. Nee, outokratiese leierskap in die kerk is klaar besig om plek te maak vir ‘n dienende leierskap – soos wat Jesus vir ons die voorbeeld kom stel het. Die kerk is ook nie al die mense wie se name op die lidmaatregisters aangeteken is nie – die nuwe geslag jongmense steur hulle reeds nie hieraan nie. Die kerk is ook nie al die mense wat hulleself as Christene laat aanteken as daar ‘n sensus gedoen word nie – die meerderheid van hierdie “sensus-Christene” kom nie meer naby aan ‘n kerk nie, selfs nie eers vir hulle begrafnis nie.

Ons elkeen is die kerk. Ons elkeen wat God leer ken, wat glo dat Jesus ons enigste Verlosser is, en wat op Hom vertrou vir die lewe nou én hierna. Soos Paulus in ons teks sê, ons is briewe wat deur die Gees geskrywe is. Briewe wat ander kan lees en deur ons kan ontdek wie God is. Ons Here neem verantwoordelikheid om só deur sy Gees in en deur ons te werk, dat ander wat Hom nie ken nie, Hom in en deur ons kan ken én dan in Hom glo. Hiervoor het Hy sy Gees in ons gegee wat lewend maak, sodat die dooie wet nuwe betekenis vir ons kry. Hy kom skryf sy wet op ons harte sodat ons al hoe meer leef soos Jesus geleef het.

Ons is God se woonplek op aarde – Hy woon deur sy Gees in ons. Ons is besig om sy hande en voete te wees in ‘n stukkende en verlore wêreld. Ons word Jesus se liefde in elke situasie waarin Hy ons nodig het.

Doom Charl

Wednesday, September 19, 2012

Oordenking 23 September 2012

Oordenking 23 September 2012

God sal altyd wees wie Hy is!

“Ook hierná is Ek nog God.” (Jesaja 43:13a)

Onseker tye en moeilike omstandighede gee vir ons die geleentheid om God beter te ken. Die onsekerheid in die politiek, die slegte ekonomiese klimaat en/of jou eie persoonlike stryd, laat elkeen van ons weerloos en broos en uitgelewer aan ons omstandighede ...OF!!!

Ja, OF ons ontdek weer, OF vir ‘n eerste keer, wie God is.

In Jesaja 43 beleef die volk Israel onseker tye tydens die ballingskap – die sterkstes onder die volk is weggevoer uit hulle eie land na ‘n vreemde land, Babel. Hulle is verswak omdat hulle verdeel en versprei het, hulle het hulle kosbare “beloofde land” verloor. Nuwe reëls geld en daar is ander vreemde leiers, ook hulle godsdiens word bedreig. En juis nou praat die profeet Jesaja met die weggevoerdes oor wie God is ... en Hy is nog dieselfde God!

Hy is steeds ...
• die Een wat jou geskep het;
• wat jou verlos;
• jy is Syne;
• Hy is by jou tydens enige moeilikheid;
• jy is so kosbaar vir Hom, dat Hy enige iets sal doen of gee ter wille van jou behoud;
• Hy sorg steeds vir jou kinders en elke volgende geslag;
• selfs die goddeloses sal sien wie Hy is en wat Hy doen;
• Hy het geen gelyke onder die gode nie;
• net Hy is God;
• niemand of niks het meer mag as Hy nie;
• niks of niemand kan sy werk ongedaan maak nie;
• Hy het jou uitverkies, sodat ...

... ons Hom kan ken, in Hom kan glo en kan besef dat Hy die Here is!

Kry Hom aan jou kant, wees aan sy kant en bly aan sy kant ... want Hy is steeds Wie Hy is!

Doom Charl
NS Hy is die heel beste Afrigter van heel beste span!

Thursday, September 13, 2012

Oordenking 16 September 2012

Oordenking 16 September 2012

Stop 6: Oorwin die bose

“Moenie kwaad met kwaad vergeld nie. Wees goedgesind teenoor alle mense.” (Romeine 12:17)

‘n “Nuwe jy” beteken ‘n nuwe lewenswyse. ‘n Lewenswyse wat volg op die ontdekking van die groot ontferming van God. Ja, God wat jou só lief het dat Hy vir jou laat glo in Jesus se redding. Nou vul die Heilige Gees jou voorheen nuttelose bestaan (onthou ‘n handskoen sonder ‘n hand in, is nutteloos), jy leer daagliks hoe om meer en meer jou lewe oor te gee as ‘n aanneemlike offer vir God, jy dink al hoe meer op ‘n nuwe manier oor jou lewe, maar ook oor ander se lewens. Jy word God se liefde ...

Maar ons word daagliks gekonfronteer met veral twee probleme, naamlik een: die wêreld waarin ons is, is vol boosheid; en twee: ons as gelowiges voer ‘n stryd met die sonde in ons.

Ten opsigte van die probleem met die boosheid: ons vyand, die duiwel loop rond soos ‘n brullende leeu (1 Petrus 5:8) en hy is die oorsprong van alle boosheid. Tog leer ons in die Bybel dat “die bose magte ontwapen” is (Kolossense 2:15) en veral in Openbaring leer ons van die beperkte invloed van die bose. Hoekom? Want vir elkeen van ons wat in Jesus glo, vul die Heilige Gees ons en is daar GEEN plek vir die duiwel of sy werk in ons lewe nie. Jesus het die Satan vir altyd verslaan met sy sterwe aan die kruis, en ons as gelowiges het volledig deel aan daardie oorwinning oor Satan. Hiermee is die Satan, die duiwel en alle boosheid vir ons verledetyd!

Ten opsigte van probleem twee met die sonde in ons: elkeen van ons wat glo, is nog nie volmaak en sonder sonde nie. Maar met die oopmaak van ons hele lewe vir die genadige werk van Gods Gees, word ons vergewe en kom skryf Hy sy wil op ons harte (Romeine 8:26-27). Sonde word minder lekker en dit word lekkerder om liewer goeie dinge in die plek daarvan te doen – die Gees help ons swak gees presies daarmee. Hierdie is ‘n wesentlike deel van die pad van vernuwing wat ons saam met ons Here en saam met mekaar loop.

Die resultaat van God se vernuwende werk in ons as sy gelowige kinders is ‘n nuwe lewenswyse: vol seën vir ander; liefde vir ander; respek vir mekaar; vol blydskap; sonder klagtes oor swaarkry; met gedurige bid; sonder baklei; sonder wraak; praktiese hulp aan alle vorme van nood; ens.

Geniet jou reis op Roete 12, die reis na geestelike vernuwing, tot ons as mede-pelgrims in God se volmaakte heerlikheid is!

Doom Charl

Wednesday, September 5, 2012

Oordenking 9 September 2012

Oordenking 9 September 2012

Roete 12: STOP 5 Gemeenskap: `n Nuwe lewe voor die Here

“Die liefde moet opreg wees ...” (Romeine 12:9a)

Is ons nie maar almal bang dat ons nie aan God se standaarde voldoen nie? Ons het so gewoond geraak daaraan om te bid, kerk toe te gaan en miskien Bybel te lees, om daardeur te probeer om God tevrede te stel. Die probleem is dat hierdie verdienstelike pogings van ons kant af, dikwels vir ons verward en twyfelagtig laat.

Die groot deurbraak kom vir ons, wanneer ons ontdek wie ons eintlik in God se oë is, hoe sien Hy vir ons en wat verwag Hy regtig van ons. Ons is besig om in Romeine 12 te ontdek hoe die “nuwe jy” se daaglikse lewe kan lyk, en Paulus beskryf vir ons hoe God na ons kyk, hoe ons vir Hom lyk omdat Hy ons verander:
• Alle maskers en beste voetjie voorsit, is verby: dis die ware jy wat Hy sien;
• Hy wil sy koninkryk bou met liefde: Hy is liefde in jou;
• Hy gee sy hoogste prys, sodat jy sy allerbeste kan wees vir die Allerhoogste;
• Hy is 100% tevrede met elkeen wat in Christus vernuwe word: Hy leef in elke nuwe jy;
• Jou verhouding met Hom kan nie aan- en afgeskakel word nie: jy ís in Hom en Hy in jou, ALTYD!
• Jy het nie `n plaasvervanger nie: leef jou plek vol in God se plan met jou;
• Wees saam met elke ander een, saam met Hom, in sy span, ja, ons is een familie.

Binne die dimensie waarin God onkeerbaar besig is sy hemelse plan uit te voer, het Hy vir my en jou gekies om elkeen ons plek in sy plan vol te staan. Hy gebruik die beste instrumente en die beste metodes en die beste tydsberekenig – ja, Hy gebruik vir ons 100% effektief presies volgens sy ontwerp en tydraamwerk.

Wat kan ons van Hom in ons verwag?
• Selflose en spontane doen en gee in die lewens van diegene wat in nood is;
• ‘n vriendelike leefruimte waarin almal welkom is;
• moeiteloos en deeglik word ander gehelp;
• bewustelike en onbewustelike ervaring van ‘n Jesus-leefwyse;
• elke sekonde, elke dag, elke jaar leef ons saam as een gelukkige hemelse huisgesin; en
• met ‘n positiewe en realistiese uitsien na vandag en more.

Welkom in ons Here se nuwe wêreld!

Doom Charl

Wednesday, August 29, 2012

Oordenking 2 September 2012

Oordenking 2 September 2012

Ontdek jou ware self tussen ander

“Dit is die Gees wat iemand lewend maak; die mens self kan dit nie doen nie.” (Johannes 6:63a)

Jy is ‘n voortreflike kind van die Here! Dit is die grootste ontdekking wat enige kind van die Here kan maak! Hoekom? God verander jou, Hy maak jou nuut, Hy maak jou lewend. Begryp dit nou vir eens en vir altyd: JY KAN NIE SELF GEESTELIK VERANDER NIE!

Ontmoet vandag: “DIE NUWE JY!”

Hoe lyk jy?
• Jy is nie beter as ander kinders van die Here nie;
• Jy is nederig oor die vernuwing in jou;
• Jy aanvaar dat jy is wat God van jou maak;
• Jy het ‘n unieke persoonlikheid met unieke gawes in God se span;
• Jy het die guns van Hom ontvang om te doen wat Hy deur jou wil doen;
• Jy gee jou samewerking met die ander begenadigdes wat Hom dien; en
• Jy geniet wie jy is in God se oë.

Waarheen is God met jou en my oppad met sy vernuwing in ons?
• God Drie-enig kom lewe met sy lewensasem in ons;
• Ons word sy oë in hierdie wêreld;
• Ons hoor sy innerlike stem;
• Ons raak met sy hande aan die nood om ons;
• Ons loop met sy voete na die verlorenes;
• Ons word sy stem wat liedevol tereg wys en bemoedig; en
• Ons leef sy liefde, want Hy is liefde!

Wat kan jy verwag van “DIE NUWE JY”?
• Jy voel minder tuis in hierdie sondige wêreld;
• Jy maak nuwe “nuwe jy”-vriende;
• Jou lewe draai rondom ander, in plaas daarvan dat alles net om jou en jou dinge gaan;
• Jy spandeer jou tyd op God se dinge en op sy manier;
• Jou verhoudings met ander kry nuwe betekenis;
• Jou hele “JY” en al jou besittings, behoort nou alles aan die Here; en
• Jy is verbaas en verheug oor alles wat God deur jou vermag!

Wees dus voorbereid op ‘n geestelike avontuur waarop God jou gaan neem!

Doom Charl

Wednesday, August 22, 2012

Oordenking 26 Augustus 2012

Oordenking 26 Augustus 2012

Roete 12: STOP 3: Laat God jou verander!

“... laat God julle verander...” (uit Romeine 12:2).

ἀνακαινώσει “to cause something to become new and different, with the implication of becoming superior”(Greek-English Lexicon, Louw & Nida). So word hierdie Goddelike verandering in Grieks omskryf waarvan ons lees in Romeine 12.

“Julle gees en gedagtes moet nuut word; lewe as nuwe mense wat as die beeld van God geskep is: lewe volkome volgens die wil van God en wees heilig.” (Efesiërs 4:23-24) “... en leef nou die lewe van die nuwe mens, wat al hoe meer vernuwe word na die beeld van sy Skepper en tot die volle kennis van God.” (Kolossense 3:10)

God verander, nee, vervang ou mense met nuwe mense. En waar Hy dit doen, doen Hy dit so volledig dat hierdie nuwe mense “superior” word – dit is sigbaar uitstaan bo mense wat nie hulleself oorgee as lewende en heilige offers nie.

Hoe doen Hy dit? Op sy eie unieke manier in elke individuele uitverkorene. Hy werk nie met resepte wat Hy uitdeel om slaafs stap vir stap nagedoen te word nie. Dit sou neerkom op ‘n wettiese menslike poging tot vernuwing – hiervan is ons as gelowiges juis vrygemaak. Nee, Hy kom deur die transformerende en innige Geesvervulde werking en maak sy eie kinders innerlik nuut.

INNERLIK ja, jou eie menslike gees en jou gedagtes word herskep deur die Herskepper! Die veranderde en nuwe mens lyk binnekant anders: jy dink anders oor hierdie lewe, jy voel al hoe meer ontuis in hierdie tydelike wêreld, jy kyk met nuwe oë na die mense om jou, jy luister fyner na God se stem (in sy Woord), jy ervaar God duideliker en meer gereeld in jou lewe, jou prioriteite in besig om meer in lyn te kom met God se wil ... (en net God weet presies wat Hy in jou verander)!

Wat kan ek doen sodat God my verander?
• Dalk eers so min as moontlik, bedoelende dat ek van nature selfsugtig en vernietigend is in my doen en late. Ek kies baie makliker om “aan hierdie sondige wêreld gelyk te word” (Romeine 12:2a).
• Ek huiwer om te sê wat om dan wel te doen, want dit kan soos ‘n plig of soos ‘n resep verstaan word. Maar dit is eintlik eerder geleentheid wat ek vir God gee om my te verander: loop saam verder op Roete 12; wees ingestel op moontlike Gees-vervulde gewaarwordinge in jou daaglikse doen en late; maak tyd om alleen met die Here te wees ... wees net oop vir Hom!

Doom Charl

Thursday, August 16, 2012

Oordenking 19 Augustus 2012

Oordenking 19 Augustus 2012

Roete 12: STOP 2: Hoe om vir God te gee wat Hy soek

“En nou doen ek ‘n beroep op julle, broers, op grond van die groot ontferming van God: Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesentlike van die godsdiens wat julle moet beoefen.” (Romeine 12:1).

Die verstommende genade van God, die verbasende goedheid van Hom, die onverdiende guns wat Hy aan ons bewys, “the amazing grace of God” – alles pogings om die groot ontferming van God te probeer beskryf, al weet ons, ons woorde kan dit nie volledig beskrywe nie. Sonder dat ons by was om te vra, baie lank gelede, is die grootste weldaad in die mens se geskiedenis, aan ons gedoen toe Jesus Christus in liefde die volledige straf vir ons onberekenbare baie sonde gedra met sy kruisdood.

En as deel van God se ewige volmaakte plan vir elkeen van ons, ontvang elke uitverkorene wat glo die hemelse rykdom van God. Die omvang en die waarde van hierdie God-gegewe rykdom is onberekenbaar tydens ons aardse reis. Tog is die besit van hierdie rykdom gewaarborg op grond van wie Jesus as Middelaar en Heelmaker is – Hy bevestig die besitreg in ons deur sy Gees. Op hierdie stadium van ons geloofsreis verstaan ons hierdie rykdom wat ons besit in menslike woorde soos liefde, vrede, goedheid, mededeelsaamheid, selfloosheid, blydskap, ens.

Maar die sonde in elkeen van ons, kom staan in die pad van hierdie vernuwende werk van die Heilige Gees. En dit is nie net klein klippies wat ons self in die pad pak sodat ons nie kan vorder op die reis na vernuwing nie. Ons bou sommer self 50 meter hoë betonmure wat 10 meter dik is, waaroor ons nie kan klim nie, en nog minder ‘n gat deur kan kap. Dit is moeilik om vir ander te besluit wat hierdie mure is wat in die pad staan van God se werk in ons. En as ek voorbeelde noem, sal dit baie kan verskil van gelowige sondaar tot sondaar. Om aan die sluit by bogenoemde teksvers, ons moet die dooie en onheilige goed deur God laat verwyder.

Voorbeelde kan wees: my beroep om soveel as moontlik geld te maak, my sport om soveel as moontlik plesier te kan hê, my seksuele fantasieë wat ek vertoetel vir eie genot, my selfvernietigende strewe na roem, ens. Ons kan dit baie name gee, dit is afgode wat in die pad staan van God se werk in my. En ek het ‘n keuse, ‘n eie vrywilligheid waar ek self besluit hoeveel energie ek insit om hierdie mure in die pad te bou.

Waarop kom hierdie selfprysgawe ter wille van “lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is”, neer? Ek moet my prioriteitslysie in my lewe herskryf! My reaksie op die groot ontferming van God, is nie om sterretjies in die hemel te verdien nie. Ek neem self die besluit dat God my lewe kan verander om te wees soos Hy dit wil hê.

Doom Charl

Wednesday, August 8, 2012

Oordenking 12 Augustus 2012

Oordenking 12 Augustus 2012



Hoe om vandag jou Bybel te lees
“Die hele Skrif is deur God geïnspireer ...” (2 Timoteus 3:16a)

Hoe om vandag jou Bybel te lees, is een van die wonderlikste geleenthede vir ons as gelowiges. Maar dan is dit belangrik hoe ek dit doen. Hoe verstaan ek die Bybel en hoe weet ek dat ek dit reg verstaan. Die ingewikkelste hiervan is dat daar nie net een korrekte manier is om die Bybel te verstaan nie. Hier is ‘n paar uitgangspunte oor die Bybel wat bepaal hoe ek vandag die Bybel lees:

• Die Bybel is nie ‘n volmaakte boek wat uit die hemel geval het nie.
• Dit is deur gewone mense soos ek en jy geskrywe onder baie spesifieke omstandighede – baie lank gelede.
• God het hierdie sondaarmense gebruik dat hulle menslike woorde goddelike woorde word.
• Die skrywers het nie geweet dat hulle besig is om ‘n Bybel vir alle tye te skryf nie.
• Die Gees van God help my om te glo dat hierdie menslike woorde Woord van God vir my is.
• Verskillende skrywers het verskillende boeke in ‘n verskeidenheid van literatuursoorte geskrywe.
• Byvoorbeeld: geen Bybelskrywer was teenwoordig by die skepping nie – daarom behoort die skeppingsverhale anders gelees te word as die Boek Handelinge.
• Tog praat God met sy kinders deur die Woord sonder dat ons presies weet waar elke deel van die Bybel vandaan kom.
• Die Bybel vertel vir my dat Jesus Christus die weg en die waarheid en die lewe is – ek glo dit!
• My geloof is gebou op kernwaarhede in die Bybel, naamlik Jesus se geboorte, kruisiging en opstanding.
• Die Here kan ons lei om die Bybel in ons tyd anders te verstaan as voorheen. Voorbeelde is slawerny, vroue op die preekstoel, apartheid, homoseksualiteit.
• Soos wat God se verhouding met die destydse Bybelskrywers en hulle omstandighede, ‘n rol gespeel het in wat hulle geskrywe het, net so speel God se verhouding met vandag se lesers en hulle omstandighede ‘n rol in die verstaan van die Bybel.
• Daar is baie onbeantwoorde vrae van gelowiges waarop die Bybel nie antwoorde het nie. En net soos daar baie vrae oor God is, is daar baie vrae oor sy Woord. Dit is só, en só sal dit bly, aanvaar dit.

Lekker Bybellees, lekker lees oor God, dit is sý Woord vandág aan jóú!

Doom Charl

Wednesday, August 1, 2012

Oordenking 5 Augustus 2012

Oordenking 5 Augustus 2012

Roete 12: STOP 1: Ken jy die groot ontferming van God?

“En nou doen ek ‘n beroep op julle, broers, op grond van die groot ontferming van God ...” (Romeine 12:1a). “God is vír ons ...” (Romeine 8:31b)

Elkeen van ons wil weet dat daar ander mense is wat van ons hou. Maar die belangrikste vraag van jou lewe is: hou God van my? Hy is die invloedrykste Persoon in die heelal. Hoe God oor jou voel, bepaal jou totale lewenskwaliteit én jou ewige lewe.

Maar hier is die goeie nuus: “God is vír ons...” Jy hoef nie te twyfel nie. Jy hoef nie te wonder nie. Paulus gee die redes hoekom ons kan weet dat God vir ons is?
 Hy het sy eie Seun nie gespaar nie...
 Hy skenk uit genade ons al die ander dinge...
 God self spreek ons vry...
 Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit, Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons.

Die boek van Romeine spel in detail uit wat God alles VIR ONS is: die wese van vryspraak (hfst. 3); die oorwinning oor sonde (hfst. 6); die werk van die Gees (hfst. 8); die krag van die uitverkiesing (hfst. 9-11).

Paulus weet dat daar slegte gebeurtenisse is, wat ons laat twyfel (Rom. 8:35 “... lyding,benoudheid, vervolging, honger, naaktheid, gevaar, swaard”). Maar ek hoef nooit te twyfel aan die groot ontferming van God nie, want NIKS “... kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.” (Rom.8:38 en :39)

Verstaan jy die groot ontferming van God? Gryp dit jou, roer dit jou, laat dit jou ‘n triomflied sing? Of het jy al gewoond geraak aan hierdie wonderlike wete?

Hierdie reeks gaan slegs sin vir jou hê, as jy dit eers snap. Wil jy nie vandag eers stil word en daardie wete diep in jou hart kom toe-eien nie? En as jy dit nog nooit beleef het nie – dink jy nie vandag is juis die dag waarop die Here jou roep om dit jou eie te maak nie?

Kom!
Neem Hom aan!
Hy roep jóú.
Maak die invloedrykste Persoon in die heelal deel van jou lewe.
God hou van jou!
Hy wil die beste vir jou gee.
Kom loop Roete 12 saam met Hom!

Doom Charl

Thursday, July 26, 2012

Oordenking 29 Julie 2012

Oordenking 29 Julie 2012

Bid vir die reis

“... bid ...dat julle Hom werklik kan ken.” (Efesiërs 1:17)

Ons is besig om gereed te maak om vanaf 5 Augustus 2012 ‘n geestelike reis van vernuwing aan te pak na aanleiding van Romeine 12 – ons gaan reis op Roete 12. Kom ons bid vir hierdie reis:

• Vir wie bid ons?
Ons bid vir ons mede-reisigers wat uitgeken word aan “geloof in die Here Jesus en liefde vir al die gelowiges” (Ef.1:15).

• Wanneer bid ons?
Ons hou nie op om God te dank vir die mede-reisigers nie (Ef.1:16).

• Tot wie bid ons?
“... die God van ons Here Jesus Christus, die Vader aan wie al die eer toekom, deur sy Gees ...” (Ef.1:17). Dit is God Drie-enig!

• Wat bid ons?
Dat God aan ons die wysheid gee en Hom so aan ons openbaar dat ons “Hom werklik kan ken” (Ef.1:17).

• Wat kan ons verwag as hierdie gebed verhoor word?
Dat Hy ons “geestesoë so sal verhelder” dat ons kan weet:
1. “watter hoop sy roeping inhou”;
2. “watter rykdom ... vir die gelowiges bestem is”; en
3. “hoe groot sy krag ...in ons” is (Ef.1:18 en 19a).

• Hoe kragtig is hierdie gebed se uitkoms in ons?
“Dit is dieselfde ... mag waarmee Hy Christus opgewek het en Hom ...aan sy regterhand laat sit het ...” (Ef.1:19b en 20).

• Kan ons deur hierdie gebed die bose oorwin?
Ja, deur die goddelike werking van God in ons, deel ons in die mag “hoog bo alle bose magte en enige ander vorm van gesag ...” (Ef.1:21a).

• Wanneer sal hierdie gebed van ons verhoor word?
“... nie net in hierdie bedeling nie maar ook in die bedeling wat kom.” (Ef.1:21b)

• Wat is die kernrede vir ons gebed?
Dat God aan Christus “alles sal onderwerp, Hom bo alles sal verhef en Hom aanstel as hoof van die kerk.” (Ef.1:22)

• Wat is die rol van die kerk in hierdie gebedsreis?
Die kerk laat Jesus “volledig wees wat Hy is.” (Ef.1:23 uit Die Boodskap)

Geniet die reis!

Doom Charl

Wednesday, July 18, 2012

Oordenking 22 Julie 2012

Oordenking 22 Julie 2012

Kies self vir al die hemelse voorregte

“... die Vader ... het ons in Christus Jesus geseën met al die seëninge van die Gees wat daar in die hemel is.” (Efesiërs 1:3)

Kom ons maak ‘n lys van al die hemelse voorregte wat daar is:
1. Die voorreg om uitverkies te wees (Ef.1:4);
2. Die voorreg om heilig en onberispelik voor God te wees (Ef.1:4);
3. Die voorreg om deur sy liefde en genade, Jesus se kinders te wees (Ef.1:5);
4. Die voorreg van sy groot genade wat Hy vrylik aan ons gee (Ef.1:6);
5. Die voorreg om deur die bloed van Jesus verlos en vergewe te wees (Ef.1:7);
6. Die voorreg van die ryke genade van God wat so oorvloedig aan ons gegee word (Ef.1:8);
7. Die voorreg dat Hy die geheimenis van sy wil aan ons bekend gemaak het (Ef.1:9);
8. Die voorreg dat Christus God se wil presies op die regte tyd vir ons uitgevoer het (Ef.1:10a);
9. Die voorreg om onder Christus verenig te wees (Ef.1:10b);
10. Die voorreg om deel van die volk van God te wees (Ef.1:11a);
11. Die voorreg om te weet dat alles volgens God se raadsbesluit gebeur (Ef.1:11b);
12. Die voorreg om die grootheid van God te prys (Ef.1:12,14c);
13. Die voorreg dat ons deur die waarheid van die evangelie tot geloof kom (Ef.1:13a);
14. Die voorreg dat ons deur die Heilige Gees gemerk word as eiendom van God (Ef.1:13b);
15. Die voorreg dat ons alles sal ontvang wat God belowe (Ef.1:14a);
16. Die voorreg van die waarborg dat almal wat aan Hom behoort, verlos sal word (Ef.1:14b);
17. ... en al die ander voorregte wat in God se Woord, aan ons belowe word.

God gee wat Hy vra; Hy gee meer en beter as wat ons van Hom vra; Hy gee meer as wat ons verstaan; Hy gee sonder dat ons dit verdien; Hy gee onvoorwaardelik; Hy gee wat ons die nodigste het; Hy gee in oorvloed ...

Ons ontvang genade, liefde, redding, vergifnis, heiliging, lewe, waarheid, blydskap, vrede ... ja, al die hemelse seëninge wat daar in Jesus Christus vir ons gewaarborg word, word aan ons gegee!

Maak jou hart oop; maak jou lewe oop; maak jou denke oop ...

Kies self; kies verseker; kies nou; kies altyd; kies Jesus; kies lewe; kies vrede; kies liefde ...

Doom Charl

Thursday, June 28, 2012

Oordenking 1 Julie 2012

Oordenking 1 Julie 2012

Goddelike ouerliefde: wat is dit?

“Wie nie liefhet nie, het geen kennis van God, want God is liefde.” (1 Johannes 4:8)

Die veiligste en beste plek binne enige gesin, is die onderlinge liefde in die gesin. Hierdie liefde in die gesin is slegs moontlik waar Goddelike liefde eg teenwoordig is in die gesin.

Tog gebeur dit dat volwasse kinders ander waardes uitleef as die waardes wat in hulle ouerhuis gegeld het. Dan kan ouers maklik voel dat hulle misluk het in die opvoeding van hulle kinders. Ouers moet egter onthou dat hulle steeds ‘n positiewe invloed vir hulle volwasse kinders kan wees. Christen-ouers moet daaraan vashou dat God se liefde vir ons beteken dat Hy ons nooit verlaat nie, en dat Hy gereed is om in elke moontlike situasie te help, of dit nou goed of sleg is.

Ouers moet onthou dat volwasse kinders kan steeds verander. Dit gebeur baie keer dat kinders wegdryf van die gesinswaardes in die fase wat hulle uit die huis gaan. Juis dan moet ouers nie moedeloos word nie, maar steeds volhardend bid vir hulle jong volwasse kinders. Omgee-ouers behoort te weet dat die positiewe invloed wat hulle vir hulle kinders is, is veral in die voorbeeld wat hulle steeds vir hulle kinders stel. Deur getrouheid teenoor God te demonstreer aan hulle kinders, word hulle rolmodelle van ‘n goeie lewe. Om deurlopend hulle lojaliteit teenoor God uit te leef, is die kragtigste manier om steeds hulle volwasse kinders te beïnvloed.

Daar is goeie nuus vir ouers wie se volwasse kinders weggedryf het van die goeie gesinswaardes wat in hulle ouerhuis gegeld het. Dikwels sal hierdie kinders se lewens verander sodra hulle self kinders het. Hierdie nuwe ouers besef dan die enigste betekenisvolle waardesisteem, is dié een wat gebaseer is op egte geloof en vertroue in Jesus Christus. Dan keer hulle terug na die waardesisteem wat gebou is op genade en vergifnis. Daarom is dit uiters belangrik dat jong volwasse kinders vashou aan hulle geestelike nalatenskap, nie net ter wille van hulleself nie, maar ook ter wille van hulle kinders en hulle kleinkinders.

Goddelike ouerliefde bestaan dus in die aktiewe uitleef van die liefde van God wat deur Jesus gedemonstreer is met sy verlossingswerk. Elke gelowige ouer het die geleentheid om sy kinders deur al hulle ontwikkelingsfases te begelei in volledige afhanklikheid van God se liefde. God self is die kragtigste en betroubaarste ouerleiding wat daar kan wees – en Hy help so verskriklik graag!

Doom Charl

Wednesday, June 20, 2012

Oordenking 24 Junie 2012

Oordenking 24 Junie 2012

Hoe maak ek my kinders groot?

“Seuns is geskenke van die Here, kinders word deur Hom gegee.” (Psalm 127:3)

Niemand van ons het opleiding gekry in ouerskap, en ouerskap is een van die moeilikste verantwoordelikhede wat daar kan wees. Ouers met selfvertroue laat toe dat hulle adolessente en jong volwassenes waag in die lewe, en so groei tot volwassenheid.

Moderne skrywers oor gesinne, stem saam dat daar vyf fases van ontwikkeling tot volwassenheid is:
Fase 1: Kinders kom in opstand teen ouerlike gesag: vanaf twaalfjarige ouderdom beweeg kinders tussen vaste grense en vryheid in hulle ontwikkeling. In hierdie normale fase leer ouers om hulle optrede teenoor hulle kinders aan te pas.
Fase 2: Kinders betree normale adolessente rebellie: in hierdie fase word huisreëls uitgedaag, is daar groter aangetrokkenheid tot hulle ouderdomsgroep, en word gesinswaardes bevraagteken.
Fase 3: Kinders begin werk of gaan studeer: in hierdie fase verlaat kinders normaalweg die huis, en is daar verlange en hartseer.
Fase 4: Gesinslede herdefinieer hulleself en hulle rolle in die gesin: ouers en kinders sien mekaar minder, met die gevolg dat ouers nuwe energie vind in nuwe dinge en kinders hulle eie waardes ontwikkel.
Fase 5: Volwasse-tot-volwasse-verhoudings ontwikkel: elke persoon word nou gesien as ‘n onafhanklike en gewaardeerde individu.

Daar is veral twee gevare wat hierdie normale ontwikkeling van kinders negatief beïnvloed:
• Oorbeskerming: alles word vir die kind gedoen en gegee, en die kind leer nooit selfstandigheid, harde werk of finansiële onafhanklikheid nie.
• Onbetrokkenheid: ouers is te besig of nie toeganklik nie, met die gevolg daar ontwikkel nooit ‘n passievolle liefdesverhouding tussen ouer en kind nie.

Die antwoord in suksesvolle ouerskap is geleë in daardie aspekte wat ons reg doen, en dan veral om dit nog beter te doen. Maar die heel belangrikste basis vir suksesvolle ouerskap is in ‘n ouer se positiewe liefdesverhouding met die kinders. Kinders se belangrikste behoefte is om te ervaar dat hulle word deur hulle ouers liefgehê.

Hoe lyk hierdie onontbeerlike ouerliefde? Dit is slegs moontlik vanuit die vaste verhouding wat beide ouers met die Here het. Dit is slegs die Here wat ouers kan help om met balans, met wysheid, met deernis en met geloof hulle kinders lief te hê. Op hierdie manier is daar kalmte, sekuriteit en geborgenheid in die gesin. Elke gesinslid geniet sy eie unieke plek in die huis, en gee ook ruimte vir mekaar se verskille en goeie karaktereienskappe.

Ouerliefde maak kinders reg groot!

Doom Charl

Wednesday, June 13, 2012

Oordenking 17 Junie 2012

Oordenking 17 Junie 2012

Pa-wees in 2012

“... watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig.” (Fil. 4:8c)

Om pa te wees in vandag se tyd, is geen grap nie. Daar is soveel druk op die huisgesin vandag met nuwe uitdagings wat daar nie in die verlede was nie. Pa en ma werk om ‘n sekere lewensstandaard daar te stel en dan te handhaaf, dat daar nuwe reëls geld vir ouerskap, en spesifiek vir pa-wees. Die moeders in elke huis sal vandag bietjie geduldig wees as ons spesifiek net aandag gee aan die vaders.

Man-wees het direk te doen met pa-wees. En man-wees het nie verander nie, maar die rol en plek van pa-wees het oor die afgelope drie dekades drasties verander. Pa is nie nou meer die enigste of primêre broodwinner in die huis nie – die huisgesin is ook afhanklik van ma se inkomste. Dan het die samelewing ook aan die vrou is baie meer prominente rol gegee as gelyke vennoot van die manlike geslag. En die tradisionele karaktertrek van man-wees, is dat mans wil graag voel hulle is in beheer as die fisies sterker geslag. Nou neem vrouens op baie plekke die rol van die man oor: dit gebeur by aanstellings in die professionele beroepsomgewing, dit gebeur in die kerk en dit gebeur in die huisgesin. En omdat man-wees hierdeur bedreig word, word pa-wees ook bedreig. En hier is dit nodig dat ons in die kerk volgens die Bybel weer die rol van pa-wees in die huisgesin uitklaar.

Paulus gee riglyne vir die Christelike lewenswandel. Natuurlik geld hierdie riglyne ook vir die vrou en die ma. Maar wanneer die pa van die huis dit weer herontdek en toepas om voor te loop in die uitleef van die Christelike deugde, sal dit ‘n direkte positiewe effek hê in die hele gesin. Pa behoort sy Bybel getrou te lees sodat hy die voorbeeld kan stel in alles wat waar, wat edel, wat reg, wat rein, wat mooi, wat prysenswaardig is. Pa’s kan weer hulle rol as hulle manne van die Woord binne die nuwe omstandighede van vandag, herontdek.

Suksesvolle pa-wees beteken dat die pa in die huis ‘n sigbare, lewende en vaste verhouding met die Here het. Ons behoort baie ernstig te bid vir die bekering van pa’s. Ma’s en kinders behoort met groot toewyding vir pa’s die ruimte te gee om priester in die huis te wees.

Doom Charl

Wednesday, June 6, 2012

Oordenking 10 Junie 2012

Oordenking 10 Junie 2012

My familie dien die Here

“Wat my en my familie betref, ons sal die Here dien.” (Josua 24:15c)

Daar is soveel negatiewe tendense rondom huwelike, gesinne en families die afgelope klompie jare. Om ‘n paar te noem: die geweldige hoeveelheid egskeidings, kindermolestering wat aan die lig kom, gebroke en hersaamgestelde huisgesinne, en die toename in bejaardes wat versorg moet word. Hoe ver moet die pendelum nog swaai na die negatiewe kant voordat dit weer begin terugswaai na die positiewe?

Daar is ‘n nuwe geslag ouers nodig en die kerk bied die ideale geleentheid om hierdie nuwe geslag ouers toe te rus en te bemagtig om deel van die ommekeer te wees. Binne die liefdesgemeenskap van gelowige kinders van die Here, kan ons mekaar help en kan die ouer geslag vir die jonges leer uit hulle foute van die verlede. Dan is daar nog die nuwe eise wat aan ouerskap gestel word in die veranderende omstandighede wêreldwyd. Hier kan ons dink aan die ontploffing van inligting deur die tegnologie, die ekonomiese insinking wêreldwyd, die uitdagings van klimaatsverandering en die krisis in ons onderwysstelsel.

Christen-gelowige ouerskap vorm die sleutel vir ‘n gesonde samelewing. Ouers wat verstaan en toepas dat hulle die primêre rolmodelle vir hulle kinders is. Kinders wat die liefde en sekuriteit ervaar van ouers wat openlik lief is vir mekaar en Christelike waardes toepas in die opvoeding van hulle kinders. Daarom het ons die geleentheid om in die kerk met mekaar te praat oor die waarde van gelukkige huwelike. Ons kom hier met mekaar ooreen oor die beginsels wat ons aan ons kinders wil oordra.

Josua lei die volk Israel die beloofde land in. Die Israeliete het in die woestyntog met ander volke in aanraking gekom, en so ook met die afgode van die ander volke. Josua tree namens die Here op en stel die Israeliete voor ‘n keuse: kies wie julle wil dien, die gode van die ander volke, of die Here. Josua het klaar besluit: “Wat my en my familie betref, ons sal die Here dien.” (Josua 24:15c) Te maklik en te vinnig reageer die Israeliete: “Ook ons sal die Here dien. Hy is ons God.” (Josua 24:18b) Josua is bekommerd oor hoe erntig die volk is in hulle keuse: “As julle die Here verlaat ..., sal Hy ... ‘n end aan julle maak.” (Josua 24:20) Dan gebruik Josua ‘n klip as getuie wat alles gehoor het wat die volk belowe het.

Wie wil jy en jou familie dien?

Doom Charl

Wednesday, May 23, 2012

Oordenking 27 Mei 2012

Oordenking 27 Mei 2012

Goddelike heerlikheid vir ons vandag!

“...sodat hulle my heerlikheid kan sien, die heerlikheid wat U My gegee het...” (Johannes 17:24)

Hoor net hoe aanloklik klink die volgende: uitnemende skoonheid, toestand van volmaaktheid, geluksaligheid. Hierdie is almal woorde wat die HAT gebruik om “heerlikheid” te beskrywe. In Johannes 17 bid Jesus dat ons, wat sy uitverkore eiendom is, juis hierdie heerlikheid sal sien. Hoe sien ons dit?

Hy bid daarvoor in die woorde “dat waar Ek is, hulle ... ook by My moet wees” (ook uit vers 24). Hoe kan ons by Hom wees, Hy is dan in die verheerlikte posisie aan Gods regterhand? Hy bid ook dáárvoor in die woorde “sodat die liefde wat U aan My bewys het, in hulle kan wees en Ek ook in hulle” (vers 26).

In hierdie gebed van Jesus is daar soveel verskillende beskrywings van ons, as uitverkorenes, se verhouding met Hom: “...almal wat U (die Vader) Hom (Jesus) gegee het(vers 2); dat hulle U ken (vers 3); aan U behoort (vers 6); hulle het geglo (vers 8); aan My behoort (vers 10); ens. Hierdie verhouding is vas, stewig, innig, persoonlik, liefdevol, uniek, ewig, beskermend, vervullend, bevrydend, oorwinnend, ja, volledig wat ons nodig het om “in Hom” te wees.

En die skoonheid en volmaaktheid en die geluksaligheid van hierdie verhouding met Hom, verbeter en ontwikkel deur die mate waarin ons as uitverkorenes ons gestuurdheid in die wêreld uitleef. Jesus is deur ons heilige en regverdige Vader gestuur om die werk te voltooi wat Hy vanuit die hemel ontvang het. Nou is sy magte aan die uitverkorenes oorgedra om vandag die hemelse werk voort te sit.

Hierdie hemelse werk word in een woord beskryf, “liefde”. Jesus bid oor die liefde wat ons Vader al voor die skepping van die wêreld, vir Hom gehad het (vers 24, 26). Nou bid Hy dat daardie selfde liefde van ons Vader, ook in die uitverkorenes sal wees. En die Goddelike liefde is vir ons gedemontreer deur Jesus self, maar Jesus self omvorm ons ook met daardie liefde, en stel ons in staat om soos Hy lief te hê.

Hemelse-Jesus-liefde ken die enigste ware God, word gestuur na die wêreld, verheerlik God deur sy werk te doen, bewaar teen die Bose en het onvoorwaardelik lief soos wat God vir Jesus liefhet. Ons geliefde uitverkorenes is in hierdie wêreld sodat ons liefde sal bewys aan diegene na wie toe Hy ons stuur.

Doom Charl

Wednesday, May 16, 2012

Oordenking 20 Mei 2012

Oordenking 20 Mei 2012

Jesus gee die ewige lewe

“... die volmag ... om die ewige lewe te gee.” (woorde uit Johannes 17:2)

In Johannes 17 vind ons om verskeie redes die heel belangrikste gebed van Jesus wat in die Bybel opgeteken is: Jesus bid hierdie gebed aan die einde van sy aardse bediening; dit is ‘n lang en volledige gebed wat handel oor Jesus se werk op aarde en die voortgang daarvan; hierdie gebed is intiem, persoonlik, verrykend en verykend; en daar was nog nooit weer en sal ook nooit weer, so ‘n gebed gebid word nie. Waarvoor bid Jesus in hierdie gebed?

Die eerste en die belangrikste: Luister baie mooi, Jesus is besig om te bid oor die volmag wat Hy vanaf sy Vader gekry het, om aan almal wat die Vader Hom gegee het, die ewige lewe te gee!

Wie is hierdie almal wat die Vader vir Jesus gegee het? Dit is die uitverkorenes. Wie is die uitverkorenes? Dit is elkeen wat glo dat Jesus die ware en enigste Verlosser van alle tye en vir alle mense is. Wie is dit wat dit glo? Dit is elkeen wat deur die kragtige werk van die Heilige Gees die genadegawe en voorreg ontvang om in Jesus te glo. Wat moet ek doen om dit te glo? Ek kan my hele lewe oop stel en ontvanklik wees dat die Heilige Gees in my werk. Hoe weet ek dat die Heilige Gees so in my werk? Ek weet dit nie altyd deur ‘n bonatuurlike gevoel of gebeurtenis nie, maar ek kan God op sy beloftes in sy Woord neem. Wat belowe God vir my in sy Woord? God belowe dat Hy niemand sal wegwys wat in opregtheid na Hom kom en mooi vra dat die Heilige Gees in hom sal werk nie.

En neem kennis: Jesus het nog nooit ophou bid soos wat Hy in Johannes 17 bid nie. Hy is steeds lewend en aktief vandag besig om te bid en deur die Gees te werk dat meer en meer mense die ewige lewe ontvang. God se koninkrykswerk gaan steeds elke dag voort deurdat verlore sondaars tot bekering kom, en dan “die enigste ware God, en Jesus Christus” ken (vers 3) en al hoe beter leer ken. En dit is die ewige lewe wat reeds begin het vir elkeen wat glo in Jesus.

Jesus bid vandag vir jou.

Jesus bid vandag dat jy God sal ken.

Jesus gee graag vandag vir jou die ewige lewe!

Doom Charl

Wednesday, May 9, 2012

Oordenking 13 Mei 2012

Oordenking 13 Mei 2012

Gebedsverhoring

“As julle wat sleg is, dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemel is, goeie gawes gee aan dié wat dit van Hom vra?” (Matteus 7:11)

Elke gelowige kind van die Here kan moontlik vertel van gebede wat nie verhoor is nie. Hoeveel van ons het nie al met die grootste erns en opregtheid vir ‘n verdienstelike saak gebid, en dan geen duidelik antwoord of verhoring van daardie gebed gekry nie.

Laat ons dit saam lees met Jakobus 4:3: “As julle bid, ontvang julle nie, omdat julle verkeerd bid: julle wil net julle selfsugtige begeertes bevredig.” Hieruit is dit vir my duidelik dat die inhoud van ons gebede, bepaal die uitkoms daarvan. Waarvoor bid ek die graagste en die maklikste – gewoonlik my eie persoonlike behoeftes en begeertes. Tog is dit belangrik om te besef dat gebed is nie primêr bedoel om met groot versoeke of lang lyste van versoeke, by die Here hulp te soek nie. Gebed is hoofsaaklik daardie intieme kontak met God waarin ek my verwondering oor en aan Hom verwoord. Aansluitend daarby, gee gebed my die geleentheid om vir die Here dankie te sê, dankie vir onverdiende genadige verlossing en die hele pakkie wat daarmee saam gaan.

Met aanbiddende en bedankende gebed as fondament van ‘n gebedslewe in intieme kontak met Hom, groei my versoeke in my gebede al hoe meer in lyn met sy wil en sy koninkryk. Hoe beter en intiemer ek met God saam leef, hoe beter is die harmonie tussen my gebedslewe en ‘n Geesvervulde lewe. God se Gees neem my hele bestaan so oor, dat ek al beter lewe en daarom al hoe beter bid, volgens sy wil. Sake van sy koninkryk soos my eie Geesvervulde lewe, ander se redding, die uitbou en opbou van sy koningsgebied, en sy verheerliking, word al hoe meer die inhoud van my gebede.

En waar sy Saak (en Hy) al hoe belangriker word vir my, en my eie saak al hoe minder belangrik raak, bid ek al hoe meer volgens sy wil en word my gebede verhoor. Gebedsverhoring het direk te doen met jou eie geestelike groei. Anders gestel, hoe meer jy groei in wie God in jou lewe is, bid sy Gees in jou. En waar Godsgees bid, is Hy besig om te werk, en bid en werk Hy soos wat Hy die beste weet.

Doom Charl

Wednesday, May 2, 2012

Oordenking 6 Mei 2012

Oordenking 6 Mei 2012

Gebed is ook dankie

“Sing vir die Here ‘n danklied ...” (Psalm 147:7a)

Waarvoor kan ons alles dankie-bid of dankie-sing volgens Psalm 147:

Dankie dat ons tot lof van God kan sing;
Dankie dat dit lekker is om die loflied te sing wat Hom toekom;
Dankie dat die Here opbou wat stukkend is;
Dankie dat Hy die afgedwaaldes weer terugbring;
Dankie dat Hy stukkende harte gesond maak;
Dankie dat Hy wonde genees;
Dankie dat Hy weet hoeveel sterre daar is en waar elkeen is;
Dankie dat Hy groot en magtig is;
Dankie dat sy kennis onbeperk is;
Dankie dat Hy die hulpeloses weer laat opstaan;
Dankie dat Hy die goddeloses verneder;
Dankie vir wolke wat Hy gee vir koelte;
Dankie vir die reën wat Hy op die aarde laat val;
Dankie vir die gras wat Hy laat groei op die berge;
Dankie dat Hy weiding gee aan die diere;
Dankie dat Hy vir al die voëls kos gee;
Dankie dat Hy sterker is as die krag wat ‘n perd het;
Dankie dat Hy sterker as ‘n frisgeboude soldaat is;
Dankie dat dit vir die Here belangrik is dat ons Hom dien;
Dankie dat dit vir Hom belangrik is dat ons ons hoop op Hom plaas;
Dankie dat Hy ons beskerm van aanvalle van buite;
Dankie dat Hy elkeen wat by Hom skuiling soek, seën;
Dankie dat Hy vrede gee waar ons woon;
Dankie dat Hy sorg dat ons nie honger ly nie;
Dankie dat Hy enige opdrag kan gee en dit dan vinnig kan laat gebeur;
Dankie dat Hy die natuurelemente en die weer beheer;
Dankie dat Hy sy wil en woord bekend maak aan sy volgelinge;
Dankie dat die Here is Wie Hy is!

Doom Charl

Wednesday, April 25, 2012

Oordenking 29 April 2012

Oordenking 29 April 2012

Gebed: waarvoor bid ek?

“Hy sal die Heilige Gees gee vir dié wat vra.” (Lukas 11: 13c)

Ons kan enige tyd van die dag of nag deur gebed kontak maak met ons lewende Here en God wat presies weet wie elkeen van ons is en wat elkeen van ons elke dag nodig het. As Hy dan weet wat ek nodig het, nog voordat ek daarvoor gebid het, waarom moet ek bid?

Hier gaan dit oor hoe ons gebed verstaan. Met respek gesê, vir baie mense is gebed ‘n versoekprogram met ‘n lang lys van gebedsversoeke vir eie persoonlike behoeftes. Amper soos ‘n kruidenierswarelys wat ons vir die Here opstel en afmerk die items wat Hy “verhoor”. En dan is daar baie groot teleurstelling indien sekere items nooit, of nie gou genoeg “verhoor” word nie. Sommiges se lys bly ook dae of selfs jare dieselfde. Dit kan beteken daar is geen verandering of groei in hulle gebedslewe nie, en dit kan terselfdertyd beteken daar is geen groei in hulle ervaring van wie die Here in hulle lewe is nie. Onthou, my uitgangspunt is, gebed het direk daarmee te doen met wie die Here in jou persoonlike lewe is.

Daarom kom ek tot die gevolgtrekking dat die inhoud van jou gebedslewe word bepaal deur die intimiteit en egtheid van jou verhouding met die Here. Die kern, die fondament, die spilpunt, die basis, die oorheersende element van jou gebedslewe, het te doen met wie God vir jóú is. Die belangrikste inhoud van jou gebedskontak, is dit wat jy oor en van God kan sê vanuit jou eie geloofservaring met Hom. Hierdie diepste element van gebed kan verskillende benaminge kry soos aanbidding, lofprysing, verwondering, eerbetoning, ens. Om dit anders te sê: die belangrikste deel van gebed is om met God oor Homself in jou eie woorde vanuit jou eie ervaring te praat en so met Hom kontak te maak.

En dan eers, en vanuit hierdie kontak met jou Here en God, kan daar ook gebid word vir alle moontlike sake wat God se koninkryk raak. En hier het ek geen probleem dat daar ‘n lys gemaak word van sake, persone en instansies wat voorbidding nodig het nie. Daar is verseker waarde en krag in die gebede van individue vir ander. Net so is daar baie waarde en krag in gesamentlike gebede van gelowiges vir mekaar en vir ander.

Doom Charl

Tuesday, April 17, 2012

Oordenking 22 April 2012

Oordenking 22 April 2012

Gebed: wanneer?

“Bid gedurig.” (1 Tessalonisense 5:17)

Kom ons spandeer nog ‘n bietjie tyd in die skool van gebed. Die vorige keer het ons bewus geword dat ons elkeen se eie unieke persoonlike belewenis van wie God in ons lewe is, bepaal hoe ons met Hom kontak maak in ons gebede. Nou wil ons verstaan wanneer behoort ons te bid.

Dit word algemeen aanvaar dat daar gebid word voor ete, in die binnekamer tydens stiltetyd, aan die begin en einde van vergaderings of sommige byeenkomste, by die siekbed en in ander tye van nood. In die kerk was daar vir baie jare weekliks bidure gehou wat baie getrou deur ‘n groepie lidmate bygewoon is. Daar word nog weke van gebed aan die begin van die jaar en later in die jaar pinksterdienste in gemeentes gehou, maar dan word dit nie regtig meer van persone verwag om hardop in die kerk voor ander te bid nie.

Uiteindelik kan ons bewus word dat gebed nie beperk is tot spesifieke tye of geleenthede wat daar hoorbaar gebid word nie. Aangesien elke gelowige se lewende verhouding met die Here die belangrikste is, is gebed die kanaal of die medium of die kontak deur middel waarvan die Here en die gelowige aan mekaar verbind is. Hierdie verbintenis kan nooit iets wees wat kom en gaan nie, dit is vas en permanent. Indien ek as sondaarmens tot bekering gekom het, word ek vir ewig aan God verbind deur die krag van God se Gees in my. Soos Johannes sê: “Hy in my en ek in Hom”.

Die Geesvervulde gelowige leef ‘n gebedslewe in die teenwoordigheid van die Here sewe dae van die week 24 uur van die dag. Tydens hierdie 24 uur van ‘n dag, kan daar baie dinge met enige kind van die Here gebeur. Daar kan goeie en slegte goed gebeur waarvoor daar stil of hardop gebid word. Ander tye van die dag gaan verby sonder enige spesifieke bewuswording dat die Here daarin betrokke is nie (maar Hy ís). Soms (en net soms) gebeur daar uitsonderlike dinge in ‘n dag wat nie toevallig is nie, en wat net aan die Here se betrokkenheid en liefdevolle ingryping toegeskryf kan word.

So het elke kind van die Here elke dag die geleentheid om bewustelik en onbewustelik in kontak met sy Here te lewe. En dan tydens die dag of die nag, enige tyd, met die Here te praat. Waaroor? Dit sal moet wag tot volgende keer.

Doom Charl

Wednesday, April 11, 2012

Oordenking 15 April 2012

Oordenking 15 April 2012

Gebed: ek en Wie?

En Hy sê vir hulle: “Wanneer julle bid, sê dan: Vader ...” (Lukas 11:2a)

Kom ons gaan sit in die volgende paar weke saam met Jesus se dissipels, by sy voete dat Hy vir ons meer leer oor gebed. Gebed is so ‘n deel van ons asemhaling in ons verhouding met die Here, dat daar sekerlik nog nuwe ontdekkings is wat ons daaroor kan maak.

‘n Vraag wat ek al gekry het, wat ek eerste wil hanteer, is: Wie spreek ek aan in gebed? Praat ek met die Vader soos in die Ons Vader-gebed, of praat ek met Jesus met Wie ek ‘n verhouding het, of praat ek met die Heilige Gees wat in my werk?

Voordat ons hierdie vraag kan antwoord, moet ons eers uitklaar Wie God vir ons is. Ek gaan uit van die standpunt dat elkeen van ons, ons eie unieke “prentjie” van God het. Juis omdat God elkeen van ons baie uniek gemaak het, vestig Hy deur sy Heilige Gees met elkeen van ons ‘n baie eiesoortige unieke verhouding, waarin elkeen van ons God op ons eie unieke manier belewe. In hierdie unieke belewenis wat elkeen van ons dan van God het, is dit vir ons baie moeilik om te onderskei wanneer het ons te doen met die Vader, of wanneer het ons te doen met Jesus, of met die Heilige Gees.

Dit bring my tot die gevolgtrekking dat ons nie werklik kan onderskei wanneer ons met watter Een van die Drie-eenheid te doen het nie. God is Een en werk as ‘n Eenheid, ook in elkeen van ons. Al verstaan ons dit nie 100% nie, ons bely dit en kan dit glo: God Drie-enig werk uniek in elkeen wat in Hom (nie “Hulle” nie) glo.
Hiermee het ek die vraag, wie spreek ek aan in gebed, beantwoord: God Drie-enig, of enige Een of Naam wat deel is van die Eenheid. Deur net die Vader, of net vir Jesus, of die Here, of watter Naam van God, in my gebed te gebruik, maak nie werklik saak nie.

Wat wel saak maak, is dat ek met diep ontsag met God sal praat in my gebede. Dit is selfs beter om nie sy Naam uit te spreek nie, as om sy Naam te veel te herhaal. Vanuit my innige ervaring van Wie God in my hart en lewe is, maak ek deur gebed intiem kontak met God.

Doom Charl

Tuesday, April 3, 2012

Oordenking 8 April 2012

Oordenking 8 April 2012

Die opgestane Jesus se woorde volgens Lukas

“Vrede vir julle!” (Lukas 24:36c)

Die belangrikste GEBEURTENIS in die geskiedenis het reeds plaasgevind! Die belangrikste gebeurtenis het met die belangrikste PERSOON plaasgevind! En die belangrikste Persoon het die belangrikste BELOFTE uitgespreek!

Die OPSTANDING van Jesus Christus ons Here, dit is die enigste Seun van God wat deur sy Vader uit die dood opgewek is, is die belangrikste gebeurtenis in die geskiedenis van die mensdom! Dat dit die ware Seun van God is wat uit die dood opgestaan het, maak van Hom die belangrikste mens wat ooit op aarde was of is. En wanneer die belangrikste Persoon van alle tye ná sy opstanding uit die dood, ‘n belofte maak, dan is dit die belangrikste belofte van alle tye!

Net Lukas beskryf hoe die twee Emmausgangers saam met die opgestane Jesus geloop het en Hom eers herken het toe Hy brood saam met hulle gebreek het. Daarna verdwyn Jesus skielik, maar verskyn net so skielik toe die elf dissipels en ander mense bymekaar was om te praat oor Jesus se verskyning na sy opstanding. En dan maak Hy hierdie ongelooflike belangrike belofte: “Vrede vir julle!” Die arme dissipels skrik so erg dat hulle dink, hulle sien ‘n spook. Dit is moeilik om presies te verklaar waarom hulle Hom nie dadelik herken nie, maar dit is moontlik dieselfde rede waarom die Emmausgangers Hom nie herken het nie. Net so vreemd is die ete saam met hulle, wat ook in Johannes beskryf word.

Vir ons is dit belangriker om die betekenis van die opgestane Jesus se vrede-belofte te verstaan:
Soos wat Jesus die 72 in Lukas 10 twee-twee uitgestuur het om die groot oes te gaan insamel en hulle “vrede vir hierdie huis” elke keer moes gaan toewens, doen Hy dit nou weer. Die verskrikte en bang groepie dissipels kry opnuut opdrag om “bekering en vergewing van sondes aan al die nasies te gaan verkondig” (Lukas 24:47). Vir Lukas se oorgang van sy Evangelie na die boek Handelinge, wat hy ook geskrywe het, is die voortgaande verkondiging van die evangelie baie belangrik.

Die evangelie hou die belofte van vrede in, vrede tussen God en die sondaar mens, vrede wat alle verstand te bowe gaan, vrede wat twyfel laat verdwyn, vrede wat vrees verdryf, vrede wat tydloos is, vrede wat die chaotiese wêreld nie ken nie, vrede wat die lewende Een belowe!

Die belangrikste Een het opgestaan sodat ons VREDE kan lewe!

Doom Charl

Wednesday, March 28, 2012

Oordenking 1 April 2012

Oordenking 1 April 2012

Jesus se finale woorde volgens Lukas (6)

Hy sê vir hulle: “Dit is soos julle sê: Ek is!” (Lukas 22: 70b)

εγώ είμι Dit is die Grieks vir Jesus se woorde “Ek is”. Verseker die kragtigste uitspraak wat daar in die Bybel is oor Jesus se ware karakter. Hierdie “Ek is”-uitspraak neem ons terug na die God van die Ou Testament en dit leer ons meer van Christus in die Nuwe Testament. Reeds in Eksodus 3:14 stel God Homself aan Moses voor as “Ek is wat Ek is”. En in Johannes kom ‘n hele versameling “Ek is”-uitsprake voor, soos onder andere “Ek is die weg en die waarheid en die lewe” (Joh. 14:6).

Hier in Lukas 22 verklaar Jesus ondubbelsinnig teenoor die Joodse godsdienstige leiers: “Ek ís die Seun van God! Ek ís die lank verwagte Messias!” Hierdie twee uitsprake, wat vir ons geloofswaarhede is, word teen Jesus gebruik as godslastering. Nadat Hy self godslasterlik behandel is deur diegene wat Hom gevange geneem het, word Hy van godslastering beskuldig deur die Joodse leiers. Sonder dat die Joodse leiers werklik besef met wie hulle te doen het, al sê Hy dit uitdruklik vir hulle, is hulle tevrede dat hulle ‘n rede gevind het om Hom skuldig te vind.

Moontlik vra jy ook: “Wie is u, Jesus?” Dan antwoord Hy:
• Ek is die Een wat in liefde vir JOU na hierdie aarde toe gekom het!
• Ek is die Een wat onskuldig tot die DOOD veroordeel is in jou plek!
• Ek is die Een wat die lydensweg na Golgota geloop het vir AL jou sondes!
• Ek is die Een wat aan die kruis gesterf het om vir ALTYD oorwinning oor alle boosheid te bewerk!
• Ek is die Een wat op die derde dag uit die dood opgestaan het sodat jy kan LEWE!
• Ek is die Een wat steeds elke dag deur Ons Gees jou lewe NUUT wil maak!
• Ek is die Een wat jou kom haal wanneer Ek WEER KOM!

Ken jy hierdie Jesus? Hy is die Woord en sy Woord is die lewe. Lees dit, glo dit, en jy sal Hom leer ken!

Lees jy jou Bybel? Hoeveel tyd spandeer jy alleen in die teenwoordigheid van die Here? Hoe belangrik is dit vir jou om geestelik te groei? Hoe graag wil jy dat Jesus jou ook beter leer ken?

Doom Charl

Thursday, March 22, 2012

Oordenking 25 Maart 2012

Oordenking 25 Maart 2012

Jesus se finale woorde volgens Lukas (5)

“Die Here het omgedraai en Petrus aangekyk.” (Lukas 22:61a)

Al vier Evangelies berig oor Petrus wat Jesus verloën het in die nag waarin Jesus gevange geneem is, voordat die haan gekraai het. Hoekom is dit slegs Lukas wat vertel dat Jesus omgedraai en Petrus aangekyk het, nadat dit gebeur het? Een moontlikheid is dat Jesus te ver van Petrus was om hoorbaar vir hom iets te sê, maar dat Jesus se kyk alles gesê het wat nodig was in daardie omstandighede. Wat het daardie kyk van Jesus vir Petrus gesê?

• “Ek het gesê, jy gaan My verloën!” Amper vermakerig. Met daardie kyk, wys Jesus vir Petrus dat hy uitgevang is. Hy is toe nie so lojaal soos hy gedink het nie. Nee, drie keer ontken hy dat hy vir Jesus ken. En nou het Jesus hom uitgevang. Nee, daardie kyk kon geensins vermakerig gewees het omdat Petrus uitgevang is nie. Jesus is nie so nie, Hy was nie so nie, en Hy is nie nou so nie!

• “Hoekom laat jy My so in die steek wanneer Ek jou die nodigste het?” Veroordelend kyk Jesus na Petrus. Petrus ontken openlik en hoorbaar dat hy Jesus nie ken nie. In die ander Evangelies vloek hy selfs diegene wat beweer dat hy een van Jesus se volgelinge is. Nee, Jesus het nie hier veroordelend na Petrus gekyk nie. Hý is hier die Een wat onskuldig veroordeel gaan word.

• “Ek maak op jou staat, Petrus!” So asof Jesus in daardie kyk vir Petrus wil teregwys. Lukas het geweet hy gaan beskryf hoe die eerste gemeente in Handelinge onder Petrus se leiding gaan begin. Jesus het dit ook geweet. Nee, teregwysing pas nie in hierdie konteks nie.

• “Ek is lief vir jou, Petrus!” ‘n Kyk met ‘n liefdesverklaring in baie moeilike omstandighede. Jesus is verseker daartoe in staat. Moontlik kon sy liefde, vir Petrus in trane laat uitbars het.

• “Dink aan my, Petrus.” ‘n Kyk vol hartseer en pyn, en vir ‘n oomblik sien Petrus Jesus se pyn. Vir ‘n oomblik kom Petrus naby genoeg aan die lydende Jesus om sy pyn raak te sien. En Jesus se pyn veroorsaak dat Petrus bitterlik huil. Die oomblik toe die haan kraai, sien ons in Jesus se oë die pyn wat Hy moes verduur vir die sonde van die wêreld. So word Jesus se kyk, uiteindelik ‘n kyk vir elkeen van ons!

Doom Charl

Thursday, March 15, 2012

Oordenking 18 Maart 2012

Oordenking 18 Maart 2012

Jesus se finale woorde volgens Lukas (4)

Maar Jesus sê: “Hou op daarmee!” (Lukas 22:51a)

Jesus stop onmiddellik enige moontlike fisiese geweld. Kort tevore is daar met die dissipels gepraat oor swaarde koop, en die oomblik toe die slaaf van die hoëpriester se oor afgekap word, stop Jesus dit met ‘n duidelike opdrag: “Hou op daarmee!”

In al vier evangelies word vertel hoe Judas vir Jesus in Getsemane verraai het. Dit is weer Johannes wat dit heelwat anders vertel: hy gee die naam van die slaaf wie se oor afgeslaan word, naamlik Malgus; en hy sê ook dit was Petrus, wat dit gedoen het.

Maar ons aandag is by Lukas se laaste woorde van Jesus. Dit is net in Lukas waar Jesus die fisiese geweld stop met die spesifieke woorde: “Hou op daarmee!” Die betekenis kom neer op: “Laat Ek maar gevang word, moet hulle nie keer nie.” Jesus het geweet dat Hy die lydensweg moet loop. Sy gevangeneming in Getsemane was deel van sy lyding. Dit is dan hier waar “een van die twaalf” Hom met ‘n soen verraai het!

Dit is net Lukas wat vertel dat die slaaf se oor dadelik deur Jesus aangeraak en genees is. Hierdie wondergenesing word deur Lukas simbolies aangewend om aan te dui dat dit deur Jesus alleen is dat daar geestelike genesing kan wees. Deur sy lyding en uiteindelike vergifnis, draai Hy die booshede van mense om. Jesus speel hier die hoofrol, in elke toneel doen Hy dit, Hy doen dit vandag ook.

Kom ons maak dit vandag persoonlik! Waar staan jy tydens Jesus se gevangeneming? Hier is ‘n paar moontlikhede:

• Is jy dalk deel van die klomp mense wat Jesus kom vang het? Dit beteken jy het ‘n stok of ‘n swaard in die hand omdat jy jou vyand verkeerd aanpak. Vir jou sê Jesus: “Hou op daarmee!”

• Is jy dalk ‘n Judas wat Jesus met ‘n soen verraai? Jy ken al die regte antwoorde, maar jou hart is glad nie daarin nie. Vir jou sê Jesus: “Hou op daarmee!”

• Is jy dalk van die godsdienstiges wat dag vir dag saam met Jesus in die tempel is? Dit beteken jy is deel van die kerngroep van die gemeente, maar jy het nog nie ‘n openheid om moeite te doen met die nuwe mense in die gemeente nie. Vir jou sê Jesus: “Hou op daarmee!”

Doom Charl

Thursday, March 8, 2012

Oordenking 11 Maart 2012

Oordenking 11 Maart 2012

Jesus se finale woorde volgens Lukas (3)

Hy sê toe vir hulle: “Waarom slaap julle? Staan op en bid, sodat julle nie in versoeking kom nie.” (Lukas 22: 46)

Nog ‘n paar treë verder saam met Jesus op sy lydensweg, nou in Getsemane in, nog ‘n tree nader aan baie groter drama wat kom!

By hulle aankoms in die tuin, kry die dissipels opdrag om te bid. Jesus sonder Homself klipgooi van hulle af om self te bid. Hy smeek by sy Vader dat die lydensbeker by Hom weggeneem word, as dit sy Vader se wil is. ‘n Engel uit die hemel kom Hom versterk, Hy bid nog ernstiger en sy sweet val soos bloeddruppels op die grond. Intens, dramaties, traumaties – Jesus kry bitter swaar, die emosionele pyn moes onbeskryflik erg gewees het, maar die eintlike stryd is geestelik. Weer word die opdrag aan die dissipels om te bid, herhaal.

Die intensiteit van die geestelike stryd kan uit die volgende afgelei word: in die vorige gedeelte moes die dissipels swaarde koop vir die stryd en in die volgende gedeelte probeer hulle vir Jesus veg met ‘n swaard. Tussenin kry die dissipels twee keer opdrag om te bid en tussen hierdie twee gebedsopdragte, bid Jesus so ernstig dat sy sweet soos bloed op die grond val.

Hoekom is hierdie laaste woorde van Jesus so spesiaal?
• Dit was die laaste keer wat Jesus alleen met sy dissipels gepraat het;
• Jesus se geestelike stryd het te doen met ons geestelike stryd; en
• Jesus se opdrag om te bid geld ook vir ons vandag.

Kom ons maak die sprong na vandag: daar is vandag ook ‘n geestelike stryd wat woed. Hierdie stryd is teen ons geloof in Jesus Christus gerig, dit is teen die kerk van Jesus, dit is teen alles wat van God af is! En ons veg met God aan ons kant in hierdie stryd deur lewende kontak met God te hou. Hierdie kontak hou ons met Hom wanneer ons bid. En wanneer ons bid, word ons meer en meer deel van God se daaglikse stryd teen die booshede van ons dag.

Soos Paulus ons herinner in Efesiërs 6:12, ons stryd is teen die bose magte van hierdie sondige wêreld. En die enigste manier om onsself te beskerm en deel van die wenspan te wees, is vanuit ‘n lewende verhouding met die oorwinnende Jesus wat vir my gekruisig was.

Doom Charl

Wednesday, February 29, 2012

Oordenking 4 Maart 2012

Oordenking 4 Maart 2012

Jesus se finale woorde volgens Lukas (2)

“En wie nie ‘n swaard het nie, moet van sy klere verkoop en een aanskaf.” (Lukas 22:36b)

Ons is besig om Jesus te volg op die lydensweg soos wat Lukas dit vir ons beskrywe. Die intog in Jerusalem het plaasgevind en by die vorige oordenking het die dissipels tydens die instellings van die nagmaal gestry oor wie die belangrikste is. Lukas is die enigste evangelieskrywer wat hier kort voor Jesus se worsteling in Getsemane, verwys na ‘n gesprek wat Jesus met sy dissipels oor hulle sendingopdrag gehad het.

In Lukas 10 word 72 volgelinge van Jesus twee-twee uitgestuur met spesifieke sendingopdragte, onder andere ook oor wat hulle moet saam neem en wat nie. Nou keer Jesus (volgens Lukas 22) terug na hierdie onderwerp op ‘n baie kritieke stadium. Aangesien dit deel is van Jesus se afskeidsgesprekke met sy dissipels, moet dit van besondere betekenis wees. Maar hier gaan dit nie nou meer oor die fisiese beursie, reissak of skoene nie. Nee, nou is daar baie meer op die spel. Jesus staan op die punt om oorgelewer te word om gekruisig te word!

Jesus voeg nou ‘n swaard as toerusting by vir diegene wat uitgestuur word. En die swaard is so belangrik, dat as jy nie ‘n swaard het nie, moet jy een uit jou beursie koop. En as daar nie geld in jou beursie vir ‘n swaard is nie, verkoop van jou klere om ‘n swaard te koop – jy móét net ‘n swaard hê om mee te kan veg. Die simboliese aard van die swaard, word duidelik toe die dissipels twee swaarde vir Jesus aanbied en Hy die gesprek net daar kortaf beëindig. Om nog meer gesag aan die simboliese stryd wat op die dissipels wag te gee, word hier verwys na Jesus se profetiese vervulling van ‘n Ou Testementiese profesie uit Jesaja.

Kom ons maak die sprong na die toepassing op vandag: vir ons as volgelinge van Jesus wat glo dat Hy ter wille van elkeen van ons die lydensweg geloop het, wag daar stryd en teenkanting. Ons het die geleentheid om toegerus te wees om weerstand te bied teen die aanslae wat daar teen ons geloof sal wees. Om die waarheid te sê, die stryd word elke dag al hoe erger en moeiliker; die versoekings en beproewinge al hoe erger. Jesus se lyding is ons motivering om die wapenrusting van Efesiërs 6 elke dag aan te trek. Dit beteken: bly volhard in die geloof, jy en jou huis, en jy sal gered word!

Doom Charl

Thursday, February 23, 2012

Oordenking 26 Februarie 2012

Oordenking 26 Februarie 2012

Jesus se finale woorde volgens Lukas (1)

“Net soos my Vader ‘n koninkryk aan My bemaak het, so bemaak Ek ‘n koninkryk aan julle ...” (Lukas 22:29)

Die sewe weke voor die paasnaweek is vir ons as Christene die belangrike lydenstyd. Moontlik het ons al preekreekse gehoor oor die kruiswoorde van Jesus, of oor sekere Bybelse persone wat ‘n rol gespeel het tydens die lydensweg van Jesus, of ander soortgelyke temas. Met die bietjie fyner lees van die Evangelie van Lukas, het ek op uitsprake van Jesus afgekom, direk voordat Hy die lydensweg vanaf Getsemane tot by die sterwe aan die kruis geloop het. In die volgende sewe weke, gaan ons hierby stilstaan.

Volgens Lukas het die intog in Jerusalem, die reiniging van die tempel,die profetiese rede en die instelling van die nagmaal reeds plaasgevind, voordat Jesus se dissipels stry oor wie die belangrikste onder hulle is. Dink net hoe swaar dit vir Jesus moes gewees het, dat een van sy laaste gesprekke met sy dissipels gaan oor hoogmoed onder hulle. Hy is besig om afskeid te neem, en al weet hulle nie dat Hy hulle binnekort gaan verlaat nie, wil hulle weet wie dien nou eintlik vir wie, wie is die belangrikste en wie is die geringste?

In Jesus se afskeidsgesprekke, beskryf Hy die nuwe riglyne vir die nuwe koninkryk vir sy volgelinge as Hy weg is. Sy Vader, wat ook volledig ons Vader is, het Hom na die aarde toe gestuur met ‘n opdrag: kom vestig ‘n nuwe koninkryk, ‘n hemelse koninkryk, ‘n goddelike koninkryk, ‘n liefdes koninkryk. Hierdie koninkryk word aan Jesus bemaak, Hy is die hoof erfgenaam omdat Hy sy lewe daarvoor kom gee het. Jesus Christus het as Lam van God die hoogste offer gebring dat ‘n nuwe koninkryk tot stand kan kom - ‘n onwankelbare, ewige, vredevolle koninkryk, wat geen gelyke het nie.

En beste nuus van dit alles: ons wat uit genade kan glo, hierdie nuwe koninkryk word ook aan ons bemaak, ons is ook erfgename. Ons geniet volledig al die voorregte van hierdie koninkryk, ons is so belangrik dat ons reeds by die tafel aansit om saam te eet en te drink. Maar hoor net hier, daar is nog meer: ons sit op trone om oor Israel te regeer. Dit beteken die erfgename sal die geleentheid ontvang om beheer oor te neem in die koninkryk van die Here.

Ek, jy, ons, Jesus, mede-erfgename – daarvoor het Jesus die lydensweg enduit geloop!

Doom Charl

Thursday, February 9, 2012

Oordenking 12 Februarie 2012

Oordenking 12 Februarie 2012

Verfyning van jou toewyding

“Hiervan is ek oortuig: ... of enige iets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.” (Rom. 8: 38)

Ek as Christen wil weet dat my saak met God reg is. Ek wil dit elke dag weet, as ek kan. Ek soek iets stewig om aan vas te hou. Ek weet dit is God waaraan ek moet vashou, maar ek weet nie elke keer hoe om dit te doen nie. My onsekerheid en my verlange na vastigheid, kan my nader aan God bring, maar hoe? Het ek beheer daaroor? Wat kan ek van my kant af doen?

Daar is twee goed wat kan gebeur om vir my groter vrede en meer vastigheid te gee:

1. Die uiterlike lees van God se Woord:
Hier is iets wat ek kan en mag en behoort te doen. Hiermee maak ek die deur wyd oop vir God se werk in my. ‘n Ontvanklike en afhanklike luister na God se stem, kan rus en vrede vir my bring. Ek hoor God se beloftes. Ek leer tussen die bladsye van my Bybel sy manier van hulp ken. Ek ontdek die rykdom en die wysheid van God self. Ek hoef nie slim of geleerd te wees om dit te kan doen nie. Eenvoudig en opreg kan ek lees en lees en lees, en dan sal die res volg.

2. Die innerlike getuienis van die Heilige Gees:
Met die lees van die Bybel, maak die Gees my geloofsoog oop. Dan kan ek my tekorte en probleme anders sien. Die Gees se werking in my, help my om beter te verstaan wat goed of sleg is vir my. So ontdek ek dat my Christen-wees nie iets is wat altyd dieselfde bly nie, dit is aktief aan die verander. Ek groei in begrip en fyn aanvoeling. Ek groei tot dieper vlakke van liefde en toewyding.

Ons elkeen wat vir God ja sê, ontvang ‘n nuwe manier van dink en lewe. Ons kan dit heiligmaking noem. Ons kan dit geestelike groei noem. Ons kan dit dieper toewyding noem. Wat ons dit ookal noem, dit is God se manier om vir ons groter vastigheid in ons verhouding met Hom te gee. Dit is die Gees se werkswyse in ons om sy innerlike werking te verfyn, te verbeter. So dra sommige volgelinge van Chrsitus meer vrugte. So word ons innerlik verfyn in voorbereiding op die ewige heerlikheid.

Doom Charl

Wednesday, February 1, 2012

Oordenking 5 Februarie 2012

Oordenking 5 Februarie 2012

Oop kop vir die Waarheid !

“Ons wat hierdie skat in ons het, is maar kleipotte wat maklik breek; die krag wat alles oortref, kom dus van God, nie van ons nie.” (2 Kor. 4:7)

Die dae is verby waarin ons voorgee dat ons antwoorde op alles het. Vroeër het die kerk en veral die kerkleiers baie maklik vanuit ‘n verhewe en voorskriftelike posisie gemaak asof hulle die enigste of finale sê oor alles het. Die wêreld waarin ons nou leef, lyk anders as 50 jaar gelede. Die kinders wat ons vandag groot maak, word geleer om vir hulleself te dink. Ook in die kerk, is daar vandag ‘n groter openheid vir verskillende standpunte oor ‘n saak. Kom ons gee aandag aan die onsekerheid oor verskillende standpunte in die kerk. Kan ons met mekaar ooreenkom dat ons in liefde van mekaar verskil?

Waarom en waaroor verskil ons van mekaar?
• Ons verskil omdat ons so perfek, uniek, verskillend gemaak is;
• Ons kyk na dieselfde waarheid uit verskillende hoeke;
• God bied vir Hom en vir ons ‘n diversiteit en verskeidenheid om in te bestaan;
• Die Skepper en Herskepper is altyd besig om te vernuwe, te transformeer, te reformeer – en dit lei tot verskille ten opsigte van ‘n verskeidenheid van sake; en
• Nuwe tye bring nuwe sake om oor te verskil.

Wat is dan die kernwaarhede waaroor ons nie van mekaar verskil nie. 2 Korintiërs 4: 7-15 beskryf ‘n paar van hierdie kernwaarhede:
• Krag (en waarheid en geloof en liefde) kom van God; ons is broos en breekbaar;
• Ons is altyd op soek na die waarheid, en soms vind ons dit baie duidelik;
• God verlaat ons nie in moeilike tye nie;
• Jesus is die sentrale waarheid wat altyd in ons is, al ervaar of verstaan ons dit nie;
• Die sterflikheid van ons aardse lewe, maak ons 100% aangewese op Jesus;
• Dieselfde Heilige Gees werk in alle kinders van die Here, al verskil ons van mekaar; en
• God is die hoogste waarheid: dank Hom gedurig in gebed vir sy genade!

Die antwoord op ons verskille: bly oop kop vir die Heilige Gees se Waarheid !

Doom Charl

Tuesday, January 24, 2012

Oordenking 29 Januarie 2012

Oordenking 29 Januarie 2012

Nuwe tye saam met Hom

“Op Hom is ons hoop gevestig: Hy sal ons ook verder red.” (2 Kor. 1:10b)

50 jaar gelede was die toekoms meer voorspelbaar. Dit het min of meer so verloop: werk hard op skool, sorg dat jy ‘n goeie kwalifikasie agter jou naam kry, vestig jouself in ‘n standvastige werk, en begin met ‘n gesin. Vandag is daar baie meer onsekerhede, sodat die toekoms baie minder voorspelbaar is. Harde werk op skool en ‘n goeie kwalifikasie, is nie meer ‘n waarborg van ‘n vaste werk nie. Jongmense bly langer saam voordat hulle trou en met ‘n gesin begin.

Die veranderinge vandag en die oorvloed van keuses wat deur die inligtingontploffing veroorsaak word, beteken nuwe uitdagings vir elke gelowige kind van die Here. Hierdie nuwe omstandighede het ook ‘n direkte invloed op die rol van ouers teenoor hulle kinders. Die hele samelewing, maar ook elke geloofsgemeenskap (dit is kerk), staan voor nuwe uitdagings wat op nuwe maniere aangepak moet word. In hierdie oordenking fokus ons op twee uitdagings vir vandag:

1. Die uitdaging om te bly hoop in die kerk:
Baie kerkmense is erg verward, want die kerk is besig om in ‘n nuwe samelewing te verander. Die uitgediende volkskerk word vervang met ‘n nuwe gemeenskap van gelowiges wat saam met God lewe in hierdie wêreld. Intellektuele eredienste word al hoe meer geleenthede wat konsentreer op die ontmoeting met God. Die formele strukture van gemeentebestuur word al hoe meer spontane deelname van soveel as moontlik lidmate aan die uitreik na buite. Die rol van gemeenteleiers verander van spesialiste wat antwoorde het op vrae, na mede-reisigers wat self leef met baie vrae.

Tog is daar die positiewe te midde van soveel onsekerhede: God verander nie. Hy is ons Vader, Hy ontferm Hom oor ons, Hy gee uitkoms in elke omstandigheid, Hy help in elke moeilikheid, Hy bemoedig ons te midde van lyding, Hy wek dooies op tot die lewe, Hy red uit groot doodsgevaar, Hy verhoor ons gebede, Hy seën ons. Ons bly hoop op Hom in hierdie nuwe tye!

2. Die uitdaging om te bly hoop as ouer:
Om kinders groot maak en om groot kinders te ondersteun, het ook drasties verander. Die afgelope klompie jare is daar al hoe meer volwasse kinders wat oorsee ‘n nuwe heenkome gaan soek. Tog is daar net so baie volwasse kinders wat al hoe meer terugtrek na hul ouerhuise. Daar is ‘n neiging dat jongmense volwasse-wording so lank as moontlik uitstel. Daar is sprake van ‘n nuwe lewensfase vir diegene tussen 18 en 30, naamlik ontluikende volwassenheid (“emerging adulthood”). Ouerskap beteken vandag nuwe uitdagings.

Die antwoord vir ouers: bly op dieselfde onveranderlike God vertrou!

Doom Charl

Thursday, January 19, 2012

Oordenking 22 Januarie 2012

Oordenking 22 Januarie 2012
Ons beleidsverklaring

“Ons verkondig die woord (van God) in opregtheid, in verbondenheid met Christus, in opdrag van God en in verantwoordelikheid aan God.” (2 Kor. 3:17b)

Die begin van ‘n nuwe jaar is ‘n goeie geleentheid om net weer seker te maak waarmee is ons besig en waarmee wil ons besig wees as gelowige kinders van die Here. Kom ons noem dit ons beleidsverklaring.

Paulus help ons baie hiermee in die betrokke Skrifgedeelte. Hy sê onder andere “die evangelie van Christus ... het die deure vir my wyd oopgemaak” (2 Kor. 3:12). Daar is steeds vandag onbeperkte geleenthede dat ons die goeie nuus oor die verlossing deur Christus alleen, kan versprei. Ja, sê Paulus, “deur ons versprei God die kennis van Christus oral soos ‘n aangename geur.” (2 Kor. 3:14b) Ons word ook daarop voorberei dat almal nie ontvanklik is vir hierdie “geur wat versprei word” nie. Vir diegene wat Christus verwerp, is dit ‘n “doodsreuk”; en vir gereddes, is dit ‘n “lewensgeur”.

Met hierdie agtergrond, kan ons nou ons fokusteks gebruik om ons beleidsverklaring op te stel:
1. Ons verkondig die woord van God in opregtheid:
- hiervoor wil ons die woord leer ken;
- ons wil eerlik en getrou die woord hanteer;
- ons vertel vir ander omdat ons graag wil.

2. Ons verkondig die woord van God in verbondenheid met Christus:
- ons het ‘n lewende, persoonlike verhouding met die Here;
- ander kan sien en beleef dat ons kinders van God is;
- ons werk saam met die Here in sy koninkryk.

3. Ons verkondig die woord van God in opdrag van God:
- ons verstaan dat ons een groot geleentheid het om deel van God se werk te wees;
- dit is vir ons lekker om God se opdragte uit te voer;
- Christen-wees maak ons vry van die las van godsdienstigheid.

4. Ons verkondig die woord van God in verantwoordelikheid aan God:
- ons huil saam met ons Here oor die verlorenes;
- ons besef dat ons met ‘n dubbele maat gemeet word;
- ons leef met ‘n skoon gewete voor die Here.

Doom Charl