Thursday, October 30, 2014

Oordenking 2 November 2014

Om vrugte te dra

“Maar die tuinier antwoord: Meneer, laat hom nog hierdie jaar staan. Ek sal die grond rondom hom omspit en bemes.” (Lukas 13:8)

 So maklik dink ons Jesus-mense dat dit met ons eie inspanning is dat ons vrugte dra wat by ons bekering pas. So maklik word die dinge wat ons vir die Here doen 'n las en plig. Die wonderlike dinge wat ons vir die Here doen, word maklik iets om mee te spog. Ons het dan tyd en geld opgeoffer. Bewustelik en onbewustelik verdien ons krediete agter ons goeie naam!

 In die gelykenis van onvrugbare vyeboom leer ons egter iets totaal anders. Hierdie vyeboom staan in die eienaar se wingerd geplant. Vir drie jaar soek hy elke jaar in vyetyd vrugte aan die boom en dan is daar niks. Nou gee die eienaar opdrag aan die tuinier om die vyeboom sonder vrugte uit te kap, want dit put net die grond uit. Die tuinier vra grasie, ja, nog 'n kans om iets aan die vrugtelose boom te doen. Die tuinier neem verantwoordelikheid, vra nog 'n jaar kans om, om te spit en te bemes.

Ons enigste God is die eienaar van die wingerd en die vyeboom daarin. Die vyeboom is simbool vir ons as Jesus-mense. Ons staan in God se wingerd geplant. Jesus is die tuinier wat deur die Gees van God verantwoordelikheid neem vir die wingerd met die vyeboom in. Die Tuinier met 'n hoofletter werk in die wingerd van God. Hy sorg dat dit omgespit en bemes word, sodat die vrugtebome vrugte kan dra. Geen vrugteboom is in staat om sonder die Tuinier se ingryping vrugte te dra nie.

 Wat beteken dit vir ons? Ons kan net seker maak ons staan geplant in God se wingerd, daar wil ons wees met alles in ons. En binne die kragveld van die Gees se werk, sal daar vrug wees! Soms gaan die "omspit en bemes" met pyn en seerkry gepaard. Ander kere is dit pure plesier om te ervaar dat daar net die wonderlikste dinge deur ons gebeur, sonder enige inspanning deur ons.

 Die verrassing is dus, dat vrug dra in God se koninkryk 'n Gees-werking is, solank ons net in die wingerd is.

Friday, October 24, 2014

Oordenking 26 Oktober 2014

Die impak van elke Jesus-mens

“Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook.” (Johannes 20:21)

Die groot uitdaging wat elkeen van ons Jesus-mense elke dag het, is om 'n impak in God se koninkryk te maak.

Hiervoor sê die opgestane Jesus, "ontvang die Heilige Gees"! Dit beteken elkeen van ons ontvang die beste en volledige hulp van God self met sy Gees in ons. En dit is met een spesifieke doel, om 'n impak in God se koninkryk te maak. Elkeen word gestuur om 'n impak te maak deur liefde, vrede en vergifnis vir ander spontaan te leef. Hoe kan ons dit doen?

  1. Ons leef tussen ander mense wat bang, onseker en/of verlore is of voel - self kan ons ook so voel. Ons leef agter geslote deure en hekke, misdaad bedreig ons almal op een of ander wyse. Daar is so baie wat ons leefwêreld deurmekaar maak, dinge verander soms baie vinnig en die toekoms lyk baie onseker. Te veel beleef ons die agteruitgang op so baie fronte  in die samelewing en dit maak ons moedeloos. Op te veel terreine is dit sigbaar dat mense sonder Jesus leef en nie eers skaam is daaroor nie. Hiermee word ons daagliks gekonfronteer.

  1. MAAR ons het Jesus, ons volmaakte Verlosser, wat volledig vergifnis van sonde vir alle mense is - hierdie waarheid staan op ons enigste Rots! Ons elkeen se persoonlike redding is slegs en alleen gebou op hierdie onverdiende guns van ons Here. Hierdie guns is vir alle mense beskikbaar, ongeag wie of wat die omstandighede is. En die enigste wyse waarop verlore en onseker en bang mense met die liefde van ons God in aanraking kan kom, is deur ons lewe en deur ons woorde. Geen ander waarheid, as die waarheid van God se liefde vir alle mense, kan groter impak hê op die omstandighede waarmee ons elke dag gekonfronteer word nie.

  1. Daarom kan elke Jesus-mens vrymoedig, met liefde en met die gawes wat elkeen het, soos dit op ons pad kom, vrede en vergifnis leef en vertel. Ons het die geleenthede om die allerbeste nuus van Jesus se liefdevolle opoffering vir almal, nie net te leef nie, maar ook verder uit te dra. Waar ek en jy elke dag besig is met ons dagtaak tussen ander mense, is elkeen van ons die kanaal van Jesus-liefde na verwarde en verlore mense.

Ons Here wil jou baie graag gebruik om ‘n impak te maak ter wille van sy koninkryk – jy is reeds aan diens!

Thursday, October 9, 2014

Oordenking 12 Oktober 2014

Elke Jesus-mens se tweede bekering!

“... en toe hy hom sien, het hy hom innig jammer gekry.” (Lukas 10:33b)

Ons het reeds op verskeie maniere beskrywe wat dit beteken om ‘n Jesus-mens te word. ‘n Jesus-mens leef God elke dag raak in die gewone dinge. ‘n Jesus-mens het die genadige belewenis dat vergifnis volledig in plek is op grond van Jesus se volmaakte offer aan die kruis. ‘n Jesus-mens se lewe word deur die Heilige Gees gevorm en beheer. En so kan daar nog baie beskrywings wees van hoe jy ‘n Jesus-mens word. Kom ons noem hierdie soort beskrywings die eerste bekering wat plaasvind.

Maar nadat jy ‘n Jesus-mens geword het, wil die Gees van God in jou, van jou meer maak soos wat Jesus reeds in jou is. Kom ons noem hierdie vormingsproses deur die Gees die tweede bekering. Hierdie tweede bekering kan op baie maniere beskrywe word, soos heiligmaking, dissipelskap, meer en meer soos Jesus, geestelike groei, ensovoorts.

En net soos die eerste bekering ‘n wilsbesluit van elke mens is, is die tweede bekering letterlik ‘n daaglikse wilsbesluit van samewerking met die Gees van God in jou. Ek en jy het ‘n keuse om die Gees toe te laat om anders te dink en nuut te lewe. Ons eerste bekering bespreek ons plekkie in die hemel, maar op pad hemel toe bied ons tweede bekering vir ons geleentheid om reeds hemel op aarde te belewe deur ‘n bepaalde Gees-beheerde lewenswyse.

Hierdie Gees-beheerde tweede bekering behels onder andere die wyse waarop ons oë oopgaan vir die nood langs die pad elke dag. Dat ons soos die Barmhartige Samaritaan verby ons eie voorkeure en gemaksug, die seer van ander sal sien, hulle innig jammer kry en prakties iets daaraan doen. Ons eerste bekering staan vas op Jesus se onvoorwaardelike liefde en genade, en net so kan ons onvoorwaardelik liefde leef in ons stukkende wêreld. Vrywillige gehoorsaamheid aan die wil van God wat die Gees op my hart skrywe, is bevrydend!

Tweede bekering vir Jesus-mense het te doen met mense met wie ek elke dag in aanraking kom, mense wat net soos elke Jesus-mens ook probleme en krisisse belewe. Een bedelaar vertel vir die ander bedelaar waar om die brood/Brood van die lewe/Lewe te kry. In my eie rykdom/Rykdom verlig ek die armoede/Armoede van ander. In my eie seerkry en Gees-genesing, gee ek salf/Salf vir die wonde van die beseerdes langs my pad.

Geniet net elke sekonde van jou tweede bekering!