Thursday, March 22, 2012

Oordenking 25 Maart 2012

Oordenking 25 Maart 2012

Jesus se finale woorde volgens Lukas (5)

“Die Here het omgedraai en Petrus aangekyk.” (Lukas 22:61a)

Al vier Evangelies berig oor Petrus wat Jesus verloën het in die nag waarin Jesus gevange geneem is, voordat die haan gekraai het. Hoekom is dit slegs Lukas wat vertel dat Jesus omgedraai en Petrus aangekyk het, nadat dit gebeur het? Een moontlikheid is dat Jesus te ver van Petrus was om hoorbaar vir hom iets te sê, maar dat Jesus se kyk alles gesê het wat nodig was in daardie omstandighede. Wat het daardie kyk van Jesus vir Petrus gesê?

• “Ek het gesê, jy gaan My verloën!” Amper vermakerig. Met daardie kyk, wys Jesus vir Petrus dat hy uitgevang is. Hy is toe nie so lojaal soos hy gedink het nie. Nee, drie keer ontken hy dat hy vir Jesus ken. En nou het Jesus hom uitgevang. Nee, daardie kyk kon geensins vermakerig gewees het omdat Petrus uitgevang is nie. Jesus is nie so nie, Hy was nie so nie, en Hy is nie nou so nie!

• “Hoekom laat jy My so in die steek wanneer Ek jou die nodigste het?” Veroordelend kyk Jesus na Petrus. Petrus ontken openlik en hoorbaar dat hy Jesus nie ken nie. In die ander Evangelies vloek hy selfs diegene wat beweer dat hy een van Jesus se volgelinge is. Nee, Jesus het nie hier veroordelend na Petrus gekyk nie. Hý is hier die Een wat onskuldig veroordeel gaan word.

• “Ek maak op jou staat, Petrus!” So asof Jesus in daardie kyk vir Petrus wil teregwys. Lukas het geweet hy gaan beskryf hoe die eerste gemeente in Handelinge onder Petrus se leiding gaan begin. Jesus het dit ook geweet. Nee, teregwysing pas nie in hierdie konteks nie.

• “Ek is lief vir jou, Petrus!” ‘n Kyk met ‘n liefdesverklaring in baie moeilike omstandighede. Jesus is verseker daartoe in staat. Moontlik kon sy liefde, vir Petrus in trane laat uitbars het.

• “Dink aan my, Petrus.” ‘n Kyk vol hartseer en pyn, en vir ‘n oomblik sien Petrus Jesus se pyn. Vir ‘n oomblik kom Petrus naby genoeg aan die lydende Jesus om sy pyn raak te sien. En Jesus se pyn veroorsaak dat Petrus bitterlik huil. Die oomblik toe die haan kraai, sien ons in Jesus se oë die pyn wat Hy moes verduur vir die sonde van die wêreld. So word Jesus se kyk, uiteindelik ‘n kyk vir elkeen van ons!

Doom Charl

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.