Om tot
beskikking van God te wees
"Ek is
tot beskikking van die Here.” (Lukas 1:38a)
Kom ons maak
gereed vir die beste Kersfees ooit! Hoekom? Omdat dit elke Jesus-mens se eie
wilsbesluit is om nie net te oorleef van jaar tot jaar nie, maar om elke dag
met ‘n splinternuwe verwagting te lewe! Ja, nie net oorleef nie, maar meer
intens te lewe en met baie groter invloed te lewe. Beplan ‘n spesiale
Kersfees, neem nuwe besluite oor Kersfees, wees gereed vir ‘n totale ommekeer
deur die Gees van God in jou! Hoe kan hierdie Kersfees die beste ooit vir jou
as Jesus-mens wees?
Kom ons gaan
kuier vir ‘n tydjie by die Lukas Evangelie se vertelling rondom die geboorte
van Jesus. Die engel Gabriël verskyn aan Maria om haar voor te berei op die
geboorte van haar Seuntjie, Jesus. Hy vertel vir haar wie hierdie besondere Kind
van haar gaan wees: “Hy sal groot wees en die Seun
van die Allerhoogste genoem word. Die Here God sal Hom die troon van sy
voorvader Dawid gee, en Hy sal as koning oor die nageslag van Jakob heers tot
in ewigheid. Aan sy koningskap sal daar geen einde wees nie.” Maar dan is sy ‘n maagd, wat nog geen seksuele omgang met haar
verloofde, Josef, gehad het nie, sodat sy moet hoor: “Die Heilige Gees sal oor jou kom, en die krag van die Allerhoogste sal
die lewe in jou wek. Daarom sal die een wat gebore word, heilig genoem word,
die Seun van God.” Want let op wat sê die engel: “Niks is vir God onmoontlik nie.”
Maar dan
antwoord Maria met hierdie besonderse woorde: "Ek is tot beskikking van die
Here.” Kersfees in hierdie wêreld het onder andere begin met Maria se gewilligheid
om beskikbaar te wees vir die geboorte van die Verlosser van alle tye!
Jou en my beste Kersfees kan begin met ons elkeen se gewilligheid om
beskikbaar te wees om die Verlosser van alle tye aan die wêreld bekend te maak
en uit te leef. Die beste Kersfees ooit gaan oor ‘n nuwe beskikbaarheid vir
Jesus self! Slaan ‘n totaal nuwe blaadjie om vir hierdie Kersfees. Laat die
Gees toe om jou nuut te laat dink, oor hoe hierdie Kersfees die beste ooit vir
Jesus kan wees!
Hoe gaan jy Kersfees deurbring? Waarop gaan jou hooffokus wees? Hoe en
waar en vir wie gaan jy jouself beskikbaar stel?
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.