Thursday, December 4, 2014

Oordenking 7 Desember 2014


Om gering voor God te lewe

"... omdat Hy na my in my geringheid omgesien het.” (Lukas 1:48a)

 Ons maak gereed vir die beste Kersfees ooit! Hoe en waar en vir wie gaan jy jouself beskikbaar stel? Uiters bepalend is die gesindheid waarmee elkeen van ons gereed maak vir dié Jesus wat vir ons mens geword het.

 Ons is besig om te kyk na die Lukas Evangelie se weergawe van die Jesus-geboorte. Ons het reeds gehoor hoe die moeder van Jesus, haarself aan die Here beskikbaar stel vir die Heilige Gees se ingrype om swanger te word. Haar familielid Elisabeth is ook swanger met die wegbereider vir Jesus se koms, Johannes die Doper. En so ondersteun die twee swangervrouens mekaar sodat Elisabeth selfs van vreugde uitroep oor die moeder van die Here se Kindjie wat op pad is. Maar dan die merkwaardige “loflied van Maria”:

 Die grootheid van ons Verlosser word besing ... die mag waarmee Hy dinge sal doen ... sy opregte omgee oor geslagte heen ... die krag waarmee Hy in beheer sal wees ... sy passie vir diegene wat swaarkry ... die waarborg dat al die beloftes rondom Hom waar sal word ...

 ... en dit alles in die volgende gesindheid: "... omdat Hy na my in my geringheid omgesien het.”

 Aan meer opregte nederigheid kan ek myself nie indink nie. Die vrou wat geboorte gegee het aan die enigste Verlosser van alle tye, beskou haarself as gering. Sy voel klein vir die voorreg om ma van Jesus te wees. In haar eenvoud begryp sy iets van die buitengewone kontras tussen haar en haar Kind! In die woorde van haar loflied, word daar baie oor die Kindjie in haar gesê en tog ook baie min oor haarself.

 Maar wat Maria oor haarself sê, is van grootse betekenis. Die grootsheid van wie Maria in haar geringheid is, word selfs buite verband geruk deur die ophef wat die Rooms Katolieke Kerk van haar maak. In buite-Bybelse Griekse literatuur is die moeder van God bekend as die Theotokos. Vir ons as Gereformeerdes het sy verseker nie haar bevoorregte posisie kop toe gevat nie. Vir haar het dit baie eerder gegaan oor wie Jesus is.

 Die beste Kersfees ooit, sal gaan oor wie Jesus is. Dit sal veral gaan oor wie Hy is, in kontras met elkeen van ons. In die raak leef van jou eie geringheid voor God, word Jesus die Grootse Een in Kersfees 2014.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.