Geheim
1: Gelukkig in nederige afhanklikheid
“Geseënd
is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die
koninkryk van die hemel.” (Matteus 5: 3)
Elkeen van ons soek op een of ander manier na
geluk ... maar voel daar kort iets.
Jesus klim op die berg en kom leer ook vir ons
vandag ‘n paar Goddelike geheime vir ware geluk. Kom ons gaan sit by Hom in die
volgende klompie weke en leer om Jesus-waarhede oor geluk raak te leef.
Ongelukkig kan ek nie anders as om net
kortliks te noem van die verkeerde maniere om na geluk te soek nie: moet nie
geluk in die genot van die goddelose wêreld se pret en plesier soek nie; geld
gee nie blywende geluk nie; moenie daarna streef om geseën te word net ter
wille van jouself en jou eie behoeftes nie; wees gewaarsku teen die
teleurstelling wat mense en tydelike goed hier op aarde aan jou belowe; daar is
geen waarborg vir ewige seëninge tydens jou aardse lewe nie.
Die kern van ware seën en opregte geluk, is
slegs in God self te vind. En wat met God te doen het tydens ons aardse lewe,
het alles te doen met sy koninkryk. En sy koninkryk is reeds hierdie kant van
die graf ‘n leefbare werklikheid vir elkeen wat in ‘n lewende verhouding met
Hom lewe. En ‘n lewende verhouding met Hom beteken, my hele aardse (en hemelse)
bestaan het ALLES met Hom te make. En sy ALLES in my, beteken my enigste geluk
is in Hom te vind, in belang van wat Hy deur my in ander wil bereik.
Geluk opgesom: God leef binne-in my, in belang
van wat Hy in ánder wil bereik!
Hoe word hierdie Jesus-geheim vir geluk deel
van my lewe? Hy gee vir my maniere om te ontdek hoe ek dit met doelbewuste
vrywillige keuses voortdurend kan maak. Opregte geluk en innerlike blydskap,
val nie in my skoot nie, dit word ‘n lewenswyse waarin ek leer om te groei. Met
‘n Gees-beheerde lewe in werklike neerbuigende toewyding, ontdek ek maniere om
meer weg van myself, bewus van Hom in my, gedring deur sy liefde, my daaglikse
lewe meer en meer vol te maak met aktiwiteite wat sy koninkryk en sy eer dien.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.