Jesus
se geheime tot geluk
Geheim
8: Gelukkig om vervolg te word
“Geseënd
is dié wat vervolg word omdat hulle doen wat reg is, want aan hulle behoort die
koninkryk van die hemel.”
(Matteus
5:10)
Dit is baie onwaarskynlik dat enige een van
ons al ooit vervolg is omdat ons Jesus-mense is. Nie een van ons het al ons
werk verloor omdat ons Jesus bely as die belangrikste Een in ons lewe nie. Nie
een van ons se lewe was al in gevaar omdat ons onsself Christene noem nie. Dit
bring ons by die vraag: van watter vervolging is hier ter sprake?
Teen die agtergrond van Jesus se geheime tot
geluk in Matteus 5, gaan dit oor ‘n vorm van geluk wat vreemd is in ons
daaglikse leefwêreld. Jesus se geluk gaan oor ‘n totaal ander lewenswyse. Hemelse
en aardse, sienlike en onsienlike kom hier bymekaar. Dis asof die hemel op die
aarde neergedaal het, sodat mense ware geluk op aarde kan ontdek, beleef en
geniet. Daarom word ons “geseëndes” genoem, “drie maal gelukkiges”,
“welgeluksaliges”. Jesus se koms deur sy Gees in jou, keer jou hele lewe om:
jou “eie ek” sterf om te kan lewe, jy gee om te kan ontvang, jy verloor om te kan
wen ...
Geheim 8 se geluk in vervolging het dan te
doen met ‘n ervaring dat jy as Jesus-mens al hoe meer soos ‘n vreemdeling voel
in die wêreld van vandag. Jy voel net nie meer tuis tussen mense wat geluk in
verkeerde goed soek nie. Jou dieper dimensie wat God raak leef, beteken dat jy ander
standaarde het vir reg en verkeerd. Die geestelike word belangriker as die
materiële, die ewige word belangriker as die tydelike, die innerlike word
belangriker as die uiterlike, wat God wil hê word belangriker as wat mense
vereis ...
... en so word “vervolg” ‘n ervaring van “ek
is in die minderheid, die meerderheid voel nie soos ek nie”, “ek wil liewer
minder besit, as om nog bymekaar te maak”, “aardse pret is leeg en sonder
betekenis”.
En op hierdie ewigheidspad na God se volmaakte
heerlikheid, leef ek as Jesus-mens al hoe meer binne die ervaring van God se
wil. Vanuit ‘n diep innerlike geluk, vind ek ‘n kalmte binne in my wat na buite
sigbaar word vir ander. Al hoe meer word God alles in my en word my eie dinge
minder belangrik. So word ek al hoe meer eg deel van “die koninkryk van die hemel.”
Jesus
se geheim tot geluk is SLEGS in God!!!
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.