Thursday, January 26, 2017

Oordenking 29 Januarie 2017

Tema: Permanent in Hom wees en Hy in ons
“Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie.” (Romeine 8: 26)

Op ‘n skaal van 1 tot 10, hoe belangrik is dit regtig vir jou om aan Jesus te behoort? Hoeveel dink jy aan Hom gedurende jou daaglikse lewe? Of nog beter gevra: hoe belangrik is jy vir Hom? Watter deel van elke dag is Hy direk van sy kant af, betrokke by al jou doen en late?

Die wonderlikste en mees fantastiese ontdekking wat elkeen van ons kan maak, is dat Jesus altyd deel van alles in ons gewone lewe is. Teoreties stem ons saam met Jesus se eie woorde: “Ek bid dat hulle almal een mag wees, net soos U, Vader, in My is en Ek in U, dat hulle ook in Ons mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het.” (Johannes 17:21) Prakties beteken dit dat Hy deur sy Gees wat altyd in ons is, ‘n Teenwoordigheid is wat ‘n meer en meer oorheersende rol in ons gewone lewe speel.

Kom ons kyk hoe ons mekaar kan help om hierdie Jesus-Gees-oorheersde-lewe groter werklikheid te maak. So maklik vertel ons vir mekaar dat ons maklik oop oë bid terwyl ons alleen motor bestuur. Maar die vraag is, laat ek dan toe dat Jesus my help om ‘n meer bedagsame bestuurder te wees? By die werk of ander omstandighede, maak ander ons kwaad, stel mense ons teleur en word ons ontsteld. Hoe drasties anders reageer ons hierop, net omdat die Gees op daardie oomblik binne-in ons pleit/bid? Jesus in ons, verander ons daaglikse gedrag en alles wat ander in ons beleef.

Eintlik is die begin-vraag, ‘n uitvang-vraag: hoe belangrik is dit regtig vir jou om aan Jesus te behoort? Elkeen van ons, is 10 uit 10 permanent en vir altyd belangrik vir Jesus! “Hiéraan weet ons wat liefde is: Jesus het sy lewe vir ons afgelê.” (1 Johannes 3:16a) Of ek en jy dit nou weet/ besef of nie, omdat Hy 10 uit 10 is en gee, is Hy besig om ook 10 uit 10 in ons te word en 10 uit 10 van ons te vat vir Hom. Hy mag en Hy kan en Hy wil dit doen!

Die metode wat Jesus volg om alles in elkeen van ons te word, is juis deur sy Gees wat al hoe meer beheer neem van alles in ons verhouding met Hom. En soos ons ontdek het, het ons verhouding met Hom alles te doen met gebed. Maar gebed is baie meer as om net in woorde met Hom te praat. “bid” is die woord wat nou nuwe betekenis kry, omdat dit verwys na hierdie permanente in Hom wees en Hy in ons.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.