“Maar
wat by die mond uitkom, kom uit die hart, en dít is die dinge wat die mense
onrein maak.” (Matteus 15: 18)
Simbolies gesproke loop ons saam met Jesus
tydens sy aardse lewe om by Hom self te leer hoe om beter te lewe – ja, ons
loop so naby aan Hom, dat die stof van sy voete op ons kom.
Een van die belangrike lesse wat ons by Jesus
leer, is dat daar ‘n groot gevaar is in godsdienstigheid wat hoofsaaklik gebou
is op die mens se eie bydraes en nakoming van verpligtinge. In Matteus 15 vaar
Jesus uit teen die Fariseërs en die Skrifgeleerdes oor die oorgelewerde Joodse
gebruike waarop hulle godsdienstigheid gebou is. Oor die jare ontstaan daar
sekere gebruike en tradisies in die kerk waarin die mens self sorg vir sy
redding, altans so dink baie godsdienstige mense steeds vandag.
Hierin is een van die groot uitdagings vandag,
om heeltyd seker te maak waarom doen ons sekere dinge vir die Here en waarmee
is ons presies besig in die kerk. Is dit menslike en selfgerigte pogings om God
te probeer beïndruk? Doen ons sekere goed omdat ons so geleer is deur ons
voorgeslagte, sonder dat ons vra waar dit vandaan kom? Die debatte wat ons in
die kerk voer oor wie of wat reg en verkeerd is, oor wie of wat gaan dit
regtig? Soort van: “Ek is reg en jy is verkeerd – ek wen hierdie rondte!” Is
dit wat Jesus vandag vir sy kerk wil hê?
Jesus kom leer ons van die nuwe hart waarmee
sy volgelinge wat in sy stof loop, elke dag beter kan lewe. Waar die Gees van
Jesus my lewensingesteldheid omkeer, vra ek in elke situasie wat Jesus sou sê
of sou doen. Ja, Hy het ook baie drasties opgetree as dinge verkeerd geloop
het. Dink maar aan die reiniging van die tempel. Hy het nie gehuiwer om die
godsdienstige leiers van sy tyd aan te vat oor hulle manier van dinge doen nie.
Maar die oorheersende optrede van Jesus tydens lewe hier op aarde, was sag en
liefdevol. Met deernis en opregte omgee, het Hy sy hart vir ons kom wys.
Hoe lyk jou hart? Hoeveel beïnvloed jou
innerlike jou daaglikse optrede? Hoekom gaan jy kerk toe, of waarom doen jy
dinge vir die Here? Wat beleef ander mense as hulle met jou te doen kry?
Jesus wil jou baie graag laat leef met ‘n
skoongewaste hart ...
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.