“Hy het
hulle innig jammer gekry ...” (Matteus 14: 14b)
Ons loop saam met Jesus tydens sy aardse lewe
om by Hom te leer hoe om beter te lewe. Ons loop so naby aan Hom, dat die stof
van sy voete op ons kom.
In Matteus 14 gebeur ‘n reeks tragiese en ontstellende
dinge in Jesus se lewe terwyl Hy tussen mense van sy tyd rondbeweeg. Eerstens
word Johannes die Doper onthoof deur Herodes, en dit omdat hy juis bekend was
as profeet wat die mense voorberei het op Jesus se koms. Tweedens stroom ‘n
groot menigte mense agter Jesus aan, waaronder baie siekes. En laastens bevind
Jesus Hom op ‘n afgeleë plek tussen 5000 mans, sonder vrouens en kinders, wat
kos moet kry. Wat leer ons by Jesus in hierdie ontstellende omstandighede?
Die wrede moord op Johannes die Doper, ontstel
Jesus so, dat Hy Homself afsonder op ‘n stil plek – sy hart is gebreek, Hy
treur en wil alleen wees. Jesus verstaan die hartseer wat met dood gepaard
gaan. Hy verstaan ons hartseer, en Hy gee ons ook ‘n Gees-vervulde hart om saam
met ander te huil met die verlies van ‘n dierbare. Ons kan daar wees vir mekaar
in hartseer tye. Met Jesus se Gees in ons, is Hy by elkeen wat self hartseer
is, of wat ander ondersteun wat hartseer is.
Siekte ontneem so baie mense van
lewenskwaliteit. Jesus het ‘n hart vir siek mense. Hy verstaan die onsekerheid
wat met siektetoestande gepaard gaan. In sy tyd op aarde was daar glad nie die
mediese kennis en behandeling van vandag beskikbaar nie. Vandag sien ons God se
hand in die mediese professie en gebruik Hy die medici om lewenskwaliteit vir
siek mense terug te gee. Maar terselfdertyd beteken dit dat Jesus-mense mekaar
en vir ander nie-Jesus-mense, liefdevol ondersteun tydens alle vorme van
siekte.
Eers die dood van ‘n geliefde, daarna ‘n klomp
siekes wat genees word, en dan ‘n baie groot skare honger mense in die middel
van nêrens. Die Jesus-hart gee met ‘n wonderwerk kos vir die honger skare: vyf
brode en twee visse voed meer as 5000 mense. Maar uiteindelik leer ons Jesus
werklik ken as die Brood van die Lewe. Met ‘n Jesus-hart kan ons elke dag brood
en Brood uitdeel in ‘n fisies en geestelik honger wêreld!
Met ‘n Jesus-hart loop ons deur die stof
strate van ons daaglikse doen en late, en kry ons mense “innig jammer” wat hartseer, siek en/of honger is – om dan ook vir
hulle Jesus te bring!
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.