Thursday, February 4, 2016

Oordenking 7 Februarie 2016


Jesus-mense reageer op Sy influistering

Ons loop saam met Jesus tydens sy aardse lewe om by Hom te leer hoe om beter te lewe. Ons loop so naby aan Hom, dat die stof van sy voete op ons kom. Ons loop so naby aan Hom, dat ons kan hoor wat Hy vir ons voorsê:

1.      “Kom tot inkeer ...” (Matteus 4:17)

Jesus begin, letterlik vertaal, sy eerste preek met hierdie woorde. Die bekender vertaling is “bekeer julle”. Hierdie is die begin en voortsetting van elke Jesus-mens se daaglikse verbintenis aan Hom en jou aanhoudende rug draai op alles wat verkeerd is. En tegelyk jou gesig draai na Hom, die enigste Een wat goed is.

2.      “Kom agter My ...” (Matteus 4:19)

Ook vertaal met “volg My”. Hoe ons dit ook al sê, die keuse is om ons Leier te volg in alles wat ons by Hom kan leer. Hy wys nie net die pad nie, Hy ís die enigste Pad!

3.      “Gaan verkondig ...” (Matteus 10:7)

Ons het IETS om te vertel en IEMAND om oor te vertel. Ons kan nie stilbly nie, by ons mond kom die woorde uit waarvan ons Jesus-harte oorloop. Elkeen van ons word vol gemaak van sy liefde en genade, dat dit oorloop en oorspoel en oorstroom na almal wat ons paaie kruis.

4.      “Kom na My toe ...” (Matteus 11:28)

Die mees gerusstellende aanmoediging van Hom. Baie spesifiek en gefokus gerig aan elkeen wat swaar kry en moed opgee. By Hom en slegs by Hom, is daar altyd rus en vrede. Soek en vind dit net op die regte Manier en die enigste Plek.

5.      “... homself verloën ...” (Matteus 16:24)

Letterlik in die Grieks behoort elke Jesus-volgeling, homself “afsweer/ontken”. Kies om van jouself gestroop te word om vir Hom plek te maak in jou lewe. Hierdie selfverloëning kry nooit klaar nie en maak plek vir God-verheerliking.

6.      “God liefhê ...” (Matteus 22:37)

Geen inspanning, geen verdienste, geen prestasie, geen vergelyking met ander – nee, God se Gees skryf liefde op Jesus-harte. En só word liefde ons uitstaande eienskap tot eer van Hom!

7.      “Moenie bang wees nie.” (Matteus 28:10)

Die uit-die-dood-opgewekte-reeds-gekruisigde-Jesus se eie woorde, steeds vandag aan elke liewe kind van Hom!

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.