Wednesday, February 17, 2016

Oordenking 21 Februarie 2016

Jesus-mense dien graag nederig soos Hy!

“Hy het nie gekom om gedien te word nie maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense.” (Matteus 20: 28)

Ons loop saam met Jesus tydens sy aardse lewe om by Hom te leer hoe om beter te lewe.

Fokus vir die oomblik op die Een wat aan die Woord is: Jesus, ons reddende en genadige ware Verlosser; die belangrikste Een wat ooit sy voete op ons aarde kom sit het; die lewende Here deur sy Gees teenwoordig vandag ... hoe sal jy Hom vir jouself beskryf?

In Matteus 20 is Hy besig om sy volgelinge in te lig oor die doel waarom Hy hier op aarde as mens kom optree het. Hy berei hulle voor om sy werk voort te sit na sy vertrek. Terwyl Hy hier was, het sy volgelinge moeilik verstaan wat Hy alles vir hulle gesê het. Dit was eers na sy vertrek en toe hulle terugdink aan alles wat hulle by Hom gehoor en beleef het, dat dit vir hulle duideliker geword het.

Twee leringe van Jesus staan uit in hierdie uitspraak van Jesus:

1.      Die belangrikste Een wat ooit sy voete op ons aarde kom sit het, “het nie gekom om gedien te word nie maar om te dien”.

Die ma van twee van Jesus se klein binnekring dissipels, onderhandel vir die vernaamste plekke in Jesus se koninkryk. Mense soek erkenning en wil raakgesien word. Jesus draai dit om met sy eie woorde en sy eie voorbeeld. Vir Hom gaan dit nie oor baasspeel en mag nie. Vir Hom gaan dit oor nederigheid en dienswilligheid - twee Gees-gedrewe eienskappe in Jesus-mense.

2.      Ons reddende en genadige ware Verlosser, het “sy lewe gegee as losprys vir baie mense.”

Die kernmotivering vir nederigheid en dienswilligheid, vind ons in die opoffering en pyn wat Jesus vir ons Jesus-mense deurgegaan het. Hy is verneder, bespot, valslik veroordeel, gegesel, moes sy eie kruis dra, sterf die vloekdood aan die kruis. Ja, Hy gee sý lewe as losprys vir elkeen wat dit wil glo. Die groeiende verstaan van wat Hy betaal het vir óns redding, word deur die Gees gebruik om ons lewens te verbeter.

Die vernietigende vernedering en die intense pyn van Jesus, motiveer vir my en jou om met ‘n nuwe ingesteldheid Hom te dien in ons daaglikse lewe.
 
Luister mooi: Jesus in jóú, verbeter jou en ánder se lewens!

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.