Thursday, February 19, 2015

Oordenking 22 Februarie 2015

Genade slegs vir soekers.

“My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.”

(2 Korintiërs 12:9)

 Daar is al baie debatte gevoer en daar is uiteenlopende standpunte oor wat presies Paulus se “doring in die vlees” sou wees. Dis eenvoudig, as ons moes geweet het, sou hy vertel het. Die belangrikste is dat dit verseker iets baie moeilik was om te hanteer, en dat Paulus ‘n geweldige stryd daarteen gehad het – hy koppel selfs Satan se naam daaraan!

 Ek weet nie wat is jou grootste stryd of mees intense krisis of wakker-lê-in-die-nag-bekommernis nie, ja, jou “doring in die vlees”! Dit kan enige iets wees wat jou moedeloos, magteloos, broos, gefrustreerd, swak, hooploos, kragteloos, onseker, of hoe ook al laat voel. Dis verseker iets in jou lewe wat jy nie self kan verander nie. Dit is waarskynlik iets waarvoor jy nie gekies het nie. Dit kan ook iets wees wat niemand anders van weet nie, of wat niemand anders sal verstaan nie.

 Jy het al alles onder die son probeer om uit of deur of oor hierdie “DING” in jou lewe te kom. Jou planne is op, ander se raad is uitgeput, jy is in ‘n doodloopstraat, daar is geen lig in die tonnel nie. Moontlik is daar mense wat hier lees en redeneer dat dit nie vir hulle geld nie – sal ons sê, gelukkige hulle, of oneerlike hulle dalk? Verseker is daar baie wat ‘n “DING” het wat hulle mee loop, dag en nag.

 Die harde werklikheid vir diegene wat wel ‘n “DING” het, dit staan lynreg en radikaal teenstrydig teenoor God se genade! Die botsende kontras is onverstaanbaar en onverklaarbaar. Die “DING” en genade bots so erg, dat ons slegs tot een gevolgtrekking kan kom: ons verstaan glad nie. In ander woorde sou ons kan sê, Jesus-mense behoort nie ‘n “doring in die vlees” te hê nie.

 Tog is Jesus-mense die enigstes wie se “doring in die vlees” vir hulle hanteer word. Dis so eg deel van God se genadeplan vir ons op pad na volmaaktheid. Hoe meer ons ons eie magteloosheid besef, hoe beter is ons kans om genade raak te leef. Juis waar God se genade my enigste uitkoms is, waar ek totaal gestroop is van my eie bydrae om daaroor te kom, dan gebeur die onvoorspelbare en grenslose ingrype van God. Maar let wel, hierdie ingrype van God is op sy manier en tyd, ter wille van sy doel: Hy is met my op pad na volmaaktheid.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.