Wees
daar vir mekaar!
“Dit is
nie reg dat ons die verkondiging van die Woord van God verwaarloos om die
versorging te kan behartig nie.” (Handelinge 6:2b)
Reeds in 1959 skryf Murray Janson ‘n boekie “Sodat
ons weer waarlik kerk kan wees” waarin hy waarsku teen die Roomse gevaar dat
ons ‘n “domineeskerk” is. Hy skryf 56 jaar gelede: “Vandag neig dit darem al te
gevaarlik daarheen dat feitlik alles van die dominee afhang en op die dominee
neerkom. ‘n Gemeente se aktiwiteite en entoesiasme staan of val met die
aktiwiteit en entoesiasme van hulle dominee!”
Nog baie langer gelede, in die eerste
gemeentes waarvan ons in Handelinge lees, was daar uitdagings en geleenthede
dat die werk in gemeentes tussen almal verdeel word. Die eerste dissipels kom
agter dat hulle roeping om vir soveel as moontlik mense van Jesus te vertel skade
ly, omdat daar ook van hulle verwag word om mense wat swaarkry, te help. So
word die eerste diakens in die kerk gekies om te help met spesifieke take in
die gemeente. Nêrens is daar sprake daarvan dat die een se werk in die gemeente
belangriker as ‘n ander se werk is nie. Saam neem almal gelyke
verantwoordelikheid vir die gemeente.
Vandag is dit steeds ons uitdaging dat almal
gelyke verantwoordelikheid neem in die gemeente. Niemand is belangriker as ‘n
ander nie. Selfs die aanspreekvorm en titel “dominee” skep ‘n probleem omdat
dit eintlik “domineer, baasspeel, oorheers” beteken. Soos Janson skrywe: “... die
predikant al man is wat van die dinge genoeg weet en word hy as vanselfsprekend
op die verhoog bokant die ander geplaas. Die begaafdheid van die predikant gee
in die gemeente deurslag: is hy inskiklik en welsprekend en gaaf en geliefd
genoeg, en het hy oral organisatoriese vermoë, dan slaag hy daarin om die mense
te paai en bymekaar te hou.”
Ware kerk-wees en deel wees van enige
geloofsgemeenskap, sal dus beteken dat almal op gelyke voet met mekaar is. Waar
hierdie Bybelse beginsel geld, neem Jesus-mense verantwoordelikheid vir elke
geleentheid vir Koninkrykswerk volgens elkeen se spesifieke gawes. Kritiek oor
mekaar se werk, word baie versigtig en liefdevol hanteer. Elkeen wat opreg en
selfloos betrokke is, word raakgesien en erken – tog word niemand bo ander
verhef nie. Die fokus en doel is goeie en gesonde verhoudings waarin die liefde
van Jesus in ons, sigbaar en eerlik geleef word.
Die vraag vir jou vandag: wat is jou spesiale
plekkie in God se werk?
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.