Thursday, June 30, 2011

Oordenking 3 Julie 2011

Oordenking 3 Julie 2011
Mens-wees in aksie
“Mag julle in staat wees om saam met al die gelowiges te begryp hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek.” (Ef. 3:18)
Op die oog af lyk dit nie asof alle mense ewe ernstig na die sin van die lewe vra nie. Tog dink ek dat ons almal op een of ander stadium wonder oor die betekenis van ons hier-wees op aarde. Hoekom is ons hier? Wat maak ons hier? Wat is God se doel met ons hier op aarde? Doen ek die regte dinge vir Hom op hierdie moment van my reis op aarde? Wat kan ek doen om my aardse reis meer te geniet? Daar is verseker meer as een antwoord op die vraag na die sin van ons aardse lewe.
Een moontlike antwoord vir ons aardse reis, is geleë in die verstaan van ons mens-wees in God se oë. God dink so baie van die mens dat Hy hom as sy verteenwoordiger op aarde geplaas het (Gen. 1:27). Hy gaan nog verder wanneer Jesus as volledige mens op aarde gebore word (Matt. 1:18). En na Jesus se hemelvaart, sit God sy werk op aarde voort deur mense (Hand. 1:8). Om die waarheid te sê, die mens is net ‘n bietjie minder as ‘n hemelse wese gemaak (Ps. 8:6). Ons Skepper het ‘n ordentlike wese gemaak in elke mens, Hy het nie ‘n fout gemaak nie, Hy maak nie foute nie.
Maar ongelukkig maak die mens foute. Die mens is met sy eie besluitnemingsvermoë gemaak. Dit is nog onverstaanbaar waarom God hierdie vryheid van keuse vir die mens gee. Alles wat verkeerd loop op aarde, het te doen met die mensdom wat verkeerde besluite neem. Niemand sal my oortuig dat God ‘n aandeel het aan die chaos wat daar op aarde heers nie. Miskien sal ons eendag verstaan waarom die mens nie vir ewig in die paradys kon bly nie. Moontlik is daar slim mense met redes hiervoor.
Weer terug by mens-wees in God se oë: Hy het die mens goed gemaak en Hy het die mens met foute en al baie lief. So lief dat Hy Jesus vir die redding van die hele mensdom gegee het. Hy wil sien dat alle mense gered word, maar alle mense kies nie sy Redder nie – en dit is hulle skuld, nie Syne nie! Jesus het sy lewe aan die kruis gegee vir alle mense, Hy het sy lewe vir mens-wees gegee. Dit was Jesus se mens-wees in aksie: Hy gee sy lewe vir ons! So wyd en ver en hoog en diep strek die liefde van Christus!
En hoe gee ons dan sin aan ons eie mens-wees? In ons eie mens-wees in aksie, kyk ons met God se oë as sy verteenwoordiger op aarde, na alle ander mense. Dit is deel van die evangelie: om met liefdevolle omgee na ander mense vol foute te kyk en my lewe te gee vir ander mense. Selfloos lewe ek as mens in belang van ander mense. Deur ons as geredde mense strek Jesus se liefde wyer, en verder, en hoër, en dieper na ander mense. So is ek saam met Jesus op reis op aarde – betekenisvol lewe ek dan eers!
Doom Charl

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.