Wednesday, January 22, 2014

Oordenking 26 Januarie 2014

Die Godstad: versier vir Jesus

“Die stad was gereed soos ‘n bruid wat vir haar man versier is.” (Openbaring 21:2b)

Die Godstad verwys na die plek waar God woon. Vir ons as Jesus-mense woon Hy nie op ‘n ver en vreemde plek nie. Hy is nie onbereikbaar verwyderd in die hoë hemel nie. Nee, God is volledig deur sy Gees woonagtig en werksaam in elke mens wat sy hart vir Jesus oopgemaak het. Jesus het self gesê: “Daardie dag sal julle weet dat Ek in my Vader is en julle in My en Ek in julle.” (Johannes 14:20) Jý is die Godstad waarin Hy gekies het om in te trek met sy Gees.

Die bruid is al die Jesus-mense, dus almal wat aan die kerk van Jesus Christus behoort, almal wat in die Godstad woon. In Johannes se denke het die bruilof reeds plaasgevind, Christus as Bruidegom en die uitverkorenes is reeds verenig, reeds een. Ons as uitverkore Jesus-mense sukkel ongelukkig met die sonde in ons en in ander om ons, maar leef reeds as oorwinnaars met Hom in ons. Die voltooiing en die vervolmaking wag natuurlik eers in die lewe hierna, maar dit is gewaarborg in Hom. En so is Hy in ons besig om ons te versier.

Hoe word Jesus-mense versier? “God het haar vergun ... fyn klere (wat) die regverdige dade van die gelowiges is.” (Openbaring 19:8) Alles wat Hy in ons wil verander en ons mee wil help en ons lewens mee wil verryk en van ons beter mense in sy oë maak, neem Hy voor verantwoordelikheid. In onsself kan ons nie goed wees nie, God kan ons nie regverdig verklaar op grond van ons eie goedheid en gehoorsaamheid nie, ons is nie daartoe in staat nie – daarom doen Hy juis heiligmaking in ons, so versier Hý ons!

Hoekom wil Hy ons versier? Om die prys wat die Lam, dit is die gekruisigde Jesus, vir elke Jesus-mens se vergifnis en redding betaal het, die moeite werd te maak. Hoor hoe sê Johannes dit: “... ek sal jou die bruid wys, die vrou van die Lam.” (Openbaring 21:9b) Op grond van Jesus se volmaakte opoffering wat steeds voortgaan deur sy inwoning deur die Gees in ons, kom verbind Hy Homself in ‘n ewige liefdesverhouding met elke Jesus-mens.

En hoe voel Hy oor jou? “Soos ‘n bruidegom bly is oor sy bruid, so sal jou God oor jou bly wees.” (Jesaja 62:5b)

Daarom kan elkeen eg en opreg bid: Inwonende Gees, trek my asseblief aan om vir U mooi te lyk.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.