Thursday, August 14, 2014

Oordenking 17 Augustus 2014


Hoop wat groei en groei

Tema 1:  Ek kan nie sonder hoop lewe nie

“Ons oog is nie op die sigbare dinge gerig nie, maar op die onsigbare ...” (2 Korintiërs 4: 18a)

Vir die volgende sewe weke gaan ons ‘n reeks oor “Hoop” volg saam met ongeveer 80 ander gemeentes in die land. Vanuit soveel rigtings hoor ons die geluide dat ons mense moedeloos is en hoor ons die verkeerde slimmighede as oplossing vir “alles” wat verkeerd loop. Kom ontdek saam met ons as Jesus-mense wat dit beteken “om kelners van hoop” in vandag se moeilike tye te wees.

Paulus hou reken met die werklikheid waarmee ons elke dag gekonfronteer word: terneergedruk,  radeloos, vervolg, op die grond neergegooi, uiterlik besig om te vergaan. Ons sal hierdie redes tot moedeloosheid ook ander name kan gee: finansiële druk, spanning in verhoudings, gesondheidsprobleme, die bedreiging van misdaad in ons land, en al die uitdagings waarmee ons daagliks te doen kry. Hierdie is alles werklike of potensiële bedreigings wat ons hoop steel en ons rede gee om moedeloos te wees.

Maar so kry ons in die Woord van God die enigste oplossing vir ons hooploosheid (eie woord), naamlik “ons het dieselfde Gees wat geloof wek ...” (2 Korintiërs 4:13). Alleen in ‘n definitiewe lewende verhouding met Jesus deur die inwonende werk van die Heilige Gees, glo ons in die nabyheid en teenwoordigheid van die onsigbare God in ons. Jesus het sy lewe vir ons redding gegee en daarmee kry ons deur geloof ‘n onlosmaaklike en onvoorwaardelike verbintenis met Hom. En alleen met hierdie verbintenis met die (weereens) onsigbare Jesus, kyk ons met ander oë na ons eie lewe en die sigbare uitdagings rondom ons.

Die Fondament vir hoop wat groei en groei, is Jesus self in ons. En om op hierdie Fondament te bou, is die enigste manier om hoop te vind en hoop uit te deel. Kom ons as Jesus-mense word kelners van hoop wat vir ander mense moed inpraat met die regte Vertrekpunt. Let wel hoofletter “V”, want dit kan nét ons Here in ons wees, wat die Bron van hoop is.

So baie mense vra moedeloos: “Is daar nog hoop vir my, Here?” En dan kom die antwoord in dieselfde vers: “U is my enigste hoop.” (Psalm 39:8)

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.