Wednesday, April 10, 2013

Oordenking 14 April 2013

Oordenking 14 April 2013

Ons Voorloper – ‘n veilige en onbeweeglike lewensanker

“... besit ons as ‘n veilige en onbeweeglike lewensanker ... Jesus, ons Voorloper ...” (Hebreërs 6: 19-20)

Die Hebreërskrywer moedig sy lesers aan om geestelik te groei deur vaste kos in te neem, en gaan selfs nog verder om te waarsku teen permanente afvalligheid deur nie verder te wil groei nie. Kom ons fokus vir ‘n oomblik op ‘n paar sake wat vaste geestelike spyse is:

• Sigbare vrugte: Die beeldspraak van grond wat “bruikbare gewasse voortbring” (Heb.6:7) plaas die klem op die groeiproses wat uitloop op “die liefde wat julle vir sy Naam betoon deurdat julle julle medegelowiges dien” (Heb.6:10). Dit sal in die alledaagse lewe beteken dat die seëninge van God in my as grootmens-gelowige, spontaan bestaan uit ‘n lewe in belang van ander. Dus: vaste kos = sigbare medemenslikheid.

• Ywer wat groei: Die regverdige God gaan kragtig voort met sy volmaakte reddingsplan deur geredde gelowiges. En hoe nader aan die voltooiing van hierdie plan, hoe meer Gees-energie sal na vore kom in ons wat volhard (Heb.6:11-12). Dit sal in die alledaagse lewe beteken dat geestelik volwassenes al hoe meer deel is van God se koninkryksaksie. Dus: vaste kos = toenemende Gees-energie.

• Permanente belofte: God hou by sy Woord, Hy kan nie ‘n leuen vertel nie, Hy lê ‘n eed van getrouheid by die Hoogste Gesag (dit is Homself) af (Heb.6:17). En hierdie belofte waarborg die beste moontlik uitkoms vir diegene wat Hom ernstig en ernstiger opneem. Dit sal in die alledaagse lewe beteken dat die grootmense in die geloof met baie meer selfvertroue leef en praat oor die toekoms op aarde en hierna. Dus: vaste kos = positief wees oor die toekoms.

• Vaste anker: Met die mens Jesus wat sondeloos aan die kruis gesterf het, kry die hoopgevulde sondaars Iemand wat binne die allerheiligste van God aktief optree in hulle belang (Heb.6:20). Dit sal in die alledaagse lewe beteken dat Jesus vir ons wat wonder oor die toekoms, “’n veilige en onbeweeglike lewensanker” (Heb.6:19) in hierdie teenswoordige tyd is. Dus: vaste kos = Jesus in my!

Moenie tevrede wees met jou medemenslikheid nie – God wil deur jou ‘n seën wees vir ander!
Moenie tevrede wees met jou Gees-energie nie – God wil deur jou ander red!
Moenie negatief wees oor die toekoms nie – God waarborg die heel beste vir jou!
Moenie vaskyk teen die gemors hier op aarde nie – jou Voorloper is reeds hemel in jou!

Doom Charl

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.