Om Hom
sonder vrees te dien
"...
dat ons ... Hom onbevrees kan dien in vroomheid en opregtheid al die dae van
ons lewe.” (Lukas 1:73 tot 75)
God het sy
Allerbeste vir ons gegee met die volmaakte verlossing wat Jesus vir ons op
aarde kom voltooi het. Hoe kan ons dit die beste Kersfees ooit vir Jesus maak? Hoe
en waar en vir wie gaan jy jouself beskikbaar stel? Die beste Kersfees ooit,
sal gaan oor wie Jesus is. In die raak leef van jou eie geringheid voor God,
word Jesus die Grootse Een in Kersfees 2014.
Ons is besig om te kyk na die Lukas Evangelie se weergawe van die
Jesus-geboorte. Vir Lukas is die geboorte van Johannes die Doper, as
wegbereider vir Jesus se geboorte, ‘n baie belangrike deel van die vertelling.
Op ‘n gevorderde leeftyd word Elisabet swanger. Haar priesterman, Sagaria,
besing die wonder van Jesus wat sou kom en die geboorte van hulle eie seun,
Johannes, in ‘n loflied.
God se grootheid word besing omdat Hy die Jode se verwagting van ‘n
Verlosser beantwoord. Oor baie geslagte is hierdie verlange na die Messias
lewendig gehou. Maar Sagaria se eie seun sal ‘n uiters belangrike rol speel in
die voorbereiding van Jesus se koms. Johannes die Doper sal reeds spesifieke
waarhede bekend maak, voordat Jesus daarop sal voortbou.
Die beste Kersfees ooit, sal onder andere beteken dat elkeen van ons,
soos asof vir ‘n eerste keer, die grootheid van God se genade, wat in Jesus
self vir ons ‘n werklikheid is, sal uitleef. Nooit kan enige een van ons sê dat
ons reeds die hoogtepunt van erkenning aan God bereik het nie. Daar sal jaar na
jaar, Kersfees na Kersfees, vir ons die ruimte wees om te verbeter, te groei,
te vorder, te klim. Die ruimte vir hierdie vordering jaar na jaar, kan slegs
wees in wie God besig is om in ons te word.
Op pad na die beste Kersfees ooit, verdwyn alle vrees vir God, en word
ons meer en meer met die hoogste ontsag en bewondering vir Hom gevul. In
hierdie groeiproses word die behoefte om Hom te dien met opregtheid net al hoe
groter en dringender. So sal niemand van ons kan sê dat ek as Jesus-mens dit
regkry dat Hy my hele lewe totaal en al oorgeneem het nie – ons hou elkeen ‘n
deeltjie vir onsself terug en vergeet selfs groot dele van die dag van Hom.
Johannes die Doper se boodskap voor Jesus se geboorte was, dat Jesus
die weg en die waarheid en die lewe is. Maak hierdie Kersfees die beste deur
Jesus met groter dringendheid uit te leef as die ENIGSTE WEG TOT DIE LEWE !!!