Geroep
om te ...
“Jy is ...,
op hierdie rots sal Ek my kerk bou ...” (Matteus 16:18)
In minder as twee dae, was ek deel van twee
uiteenlopende gesprekke waarin die betekenis van ons tweede bekering ter sprake
kom. In die een gesprek gaan dit oor die gevolg wat bekering in elke Jesus-mens
se lewe het, naamlik dat elkeen van ons geroep word om spesifiek deel te neem
aan God se koninkrykswerk. In die ander gesprek gaan dit oor die betekenis wat
ons almal na smag in die sogenaamde tweede helfte van ons lewe. Op een of ander
manier soek elkeen van ons bevestiging dat my lewe die moeite werd is en in albei
van hierdie gesprekke kom dit ter sprake.
Dit bring my by die groot vraag vir elke
Jesus-mens: Wat is mý roeping?
Petrus word as doodgewone visserman geroep om
vir Jesus te volg. Hy word saam met Johannes en Jakobus deel van Jesus se
intieme en nabygroepie binne die dissipelgroep. Regdeur Jesus se aardse
bediening speel Petrus ‘n sentrale rol, soveel so dat Jesus hom die “rots” noem
waarop die kerk gebou sal word. Voor Paulus se bekering, speel Petrus die
leidende rol in die vroeë kerk. Tog bly hy eg mens, deurdat dit hy was wat
Jesus verraai en misken tydens Jesus se verhoor die laaste nag, voordat Hy
gekruisig is. Gewone visserman, eksklusiewe dissipel, verraaier, kerkleier ...
maar geroep om in God se koninkryk ‘n baie groot verskil te maak!
Waarvoor roep Jesus jóú vandag?
Jy hoef nie geleerd, gewild, mooi, geestelik
sterk, dinamies, of wat ook al te wees nie. Net soos wat jy is: Jesus het jou
baie nodig binne sy kerk en in sy koninkryk. Hy is lief vir jou net soos jy is,
want onthou, jy kan nooit weer in die moeilikheid by Hom wees nie (daarvoor was
Hy vir jou aan die kruis). Jy sal ook nie in die moeilikheid kom as jy nie jou
roeping begin leef nie, dit is jou eie vrywillige keuse. Jesus gee egter sy
heel beste Hulp in jou, naamlik sy eie Gees. So rus Hy jou toe, maak jou
bekwaam (Paulus se woorde) en bring die geleenthede op jou pad – leef net jou
roeping.
Maar wees gewaarsku: dit gaan nie noodwendig
lekker wees nie; jy kan dalk teenstand en teenspoed in God se werk kry; almal
gaan nie van jou hou en met jou saamstem nie; jy kan moontlik dinge doen wat
nie jy is nie of waarvan jy nie hou nie. Want onthou: dit gaan NIE oor jóú NIE,
maar oor Hóm in jou!