Elkeen
is uniek in diens van God
Een van die wonderlikste ontdekkings vir
elkeen van ons, is ons elkeen se uniekheid in so baie opsigte. Een van die baie
maniere om dit te ontdek, is die verskillende persoonlikheidstoetse wat in die
werksomgewing gebruik word. So word daar in die Myers Briggs-persoonlikheidsanalise
sestien verskillende persoonlikhede, hoofsaaklik vir die werksomgewing
onderskei. Die baie ouer ontleding van verskille tussen ons, word in die Enneagram
beskryf as ‘n dinamiese psigo-spirituele hulpmiddel vir bewuswording en groei.
My gewilde skrywer M. Scott Peck onderskei vier spiritualiteite, wat hy beskryf
as: (1) “chaotic/antisocial”, (2) “formal/institutional”, (3) “skeptic/individual”
en (4) “mystical/communal”. Daar is nog baie ander onderskeidings van die verskille
tussen ons, wat elkeen se uniekheid bevestig.
In die Bybel lees ons ook van die verskille
wat daar tussen ons as Jesus-mense is. Vir God om ons te kan gebruik om sy werk
hier op aarde te doen, het Hy ons elkeen eiesoortig en uniek gemaak, met baie
spesiale gawes en nie-dupliserende geleenthede. Dan verander tye en behoeftes
ook oor die jare in die kerk en in elkeen van ons se lewens. Ons elkeen en die
kerk gaan deur fases van swaarkry en groei, en dit stel ook unieke eise aan
alle betrokkenes. In hierdie proses vind daar groei en ontwikkeling plaas, maar
almal voel nie altyd veilig as dinge te drasties verander nie.
Vir Paulus was dit ook waar in die Korinte-gemeente.
Hy vra die vrae: “Wat is Apollos dan? Wat
is Paulus?” Dan antwoord hy homself: “Hulle
is maar net dienaars deur wie julle tot geloof gekom het, en elkeen doen die
werk soos die Here dit vir hom gegee het.” (uit 1 Korintiërs 3). Dan
gebruik hy die beeldspraak van ‘n plant wat versorg moet word om te kan groei
en wys hy daarop dat elkeen se werk ewe belangrik is vir die groei. Die enigste
uitsondering is God! Hy is die enigste Een wat kan laat groei.
Verder in sy briewe aan die Korinte, noem
Paulus verskillende gawes wat mense binne die gemeente het. Hierdie was
spesifieke gawes wat vir daardie tyd en daardie spesifieke gemeente nodig was.
Weereens is een persoon se gawes nie beter of belangriker as ‘n ander persoon se
gawes nie. Soos hy sê, “... daar is mense
aan wie God ‘n bepaalde taak gegee het.” (1 Korintiërs 12:28).
Vandag is daar ander gawes nodig vir God se
werk. Vandag het Hy jou nodig met jou unieke persoonlikheid. Vandag is niemand
beter of belangriker as ‘n ander om ‘n “medewerker
in diens van God” te wees nie! God het jou nodig in sy diens net soos jy
is!
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.