Wednesday, April 17, 2013

Oordenking 21 April 2013

Oordenking 21 April 2013

Selfloos, moeiteloos, tydloos – ons Priester!

“Daarom kan Hy ook dié wat deur Hom na God gaan, eens en vir altyd verlos: Hy lewe vir altyd om vir hulle by God in te tree.” (Hebreërs 7:25)

Jesus-mense leef in Christus: Hy is jou en jy in Hom. Dit is die kern, die hoogtepunt, die samevatting, die volmaakte simbiose van God en sondaar-mens – slegs én volmaak deur die volheid van God se Gees. Sjoe ... hoekom, hoe, wanneer, waar?

• Hoekom? Want God is besig om sy hemelse koninkryk uit te brei, op te bou en te vestig omdat Hy is Wie Hy is! Hy is die volle rede hoekom Jesus-mense in Christus leef, daar is geen ander rede hiervoor nie.
• Hoe? Op ‘n misterieuse manier wat ons nietige skepselle nie volledig kan verstaan of dit verklaar nie, word Jesus se verlossingswerk in Jesus-mense voortgesit deur die Heilige Gees se werking. Hierdie Gees-werking kan ons nie beheer, of eis, of verdien nie – God doen dit net omdat Hy kan en wil!
• Wanneer? Van altyd af is God al hiermee besig: Hy het geen begin of geen einde nie: Hy is nog altyd, Hy is vandag, Hy sal ook altyd wees. Maar nou maak Hy Jesus-mense deel van sy tydloosheid: elke bekeerde sondaar het reeds die ewige lewe en word daarmee ook soos Hy tydloos!
• Waar? In die Gees- en geesdimensie wat vanuit die innerlike mens sigbaar word oral en altyd waar Jesus-mense is. Dit word en is ‘n permanente bestaanswyse wat nie aan- en afgeskakel kan word nie.

Kom ons vind motivering vir hierdie grootse uitsprake. Jesus se Hoëpriesterskap volgens die orde van Melgisedek beteken, opgesom en eenvoudig verklaar:
1. Die enigste Seun van God het selfloos, dit is liefdevol, aan die kruis gesterf as die volmaakte offer vir alle mense van alle tye se volledige sondigheid.
2. Ons Vader in die hemel het hierdie Jesus van ons moeiteloos uit die dood opgewek, om daardeur vir ons die hemelpoorte vir altyd oop te sluit.
3. Nóú tree ons Here Jesus Christus vir ons in by die Vader sodat ons tydloos soos Hy deel is van sy verheerlikte koninkryk.

Doom Charl

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.