Wednesday, April 24, 2013

Oordenking 28 April 2013

Oordenking 28 April 2013

Jesus waarborg ‘n nuwe beter ooreenkoms

“Maar nou het Jesus ‘n voortrefliker priesterdiens gekry deurdat Hy Middelaar is van ‘n beter verbond wat op uitnemender beloftes gegrond is.” (Hebreërs 8:6)

Die uitverkorenes, die gelukkiges, die bevoorregtes, die begenadigdes, die geredde sondaars, die geliefdes van Hom, die geseëndes, die Gees-gesalfdes ..., dit is almal beskrywings van Jesus-mense (kan jy aan nog dink?). En die beste van alles is, dit is waar, want Gód sê so! Die Hebreërskrywer fokus vir ’n oomblik op die nuwe verbond/ooreenkoms wat ons ewige Hoëpriester, Jesus, self waarborg en waar maak.

Kom ons bedink drie beloftes wat God in hierdie nuwe ooreenkoms vir Jesus-mense maak:

1. “... sal Ek ... aan hulle sondes nooit meer dink nie.” (Heb.8:12b) Vergifnis op grond van Jesus se kruisdood, is baie meer as om die ewige straf vry te spring. Vergifnis is ook meer as dat God nie meer dink aan ons alledaagse sondetjies nie. Sy vergifnis is omvattend en geld vir eens en vir altyd. Vergifnis is ook meer as om met jou verstand saam te stem dat daar vergifnis beskikbaar is. Uiteindelik neem die Gees so deeglik oor in ‘n Jesus-mens se lewe, dat daar nie meer plek vir ongehoorsaamheid is nie.

2. “Ek sal ... my wette ... op hulle harte ...skrywe.” (Heb.8:10b) Wanneer God deur sy Gees op Jesus-mense se harte skrywe, word hulle van binne af skoongemaak van alle onheilighede. Die gewone goeie vroom Christen groei na ‘n innige Gees-lewe wat die wag op God om in en deur hom te werk. En hierdie innerlike werking word ‘n volwasse Jesus-lewe, waar Jesus-mense al hoe meer lewe soos God in sy Woord wil.

3. “... ons het ‘n Hoëpriester, Een wat gaan sit het aan die regterhand van die troon van die Majesteit in die hemel.” (Heb.8:1) Jesus is op hierdie oomblik in die Allerheiligste in die teenwoordigheid van die Allerheiligste. Hier is Hy in beheer van die hemelse koninkryk, Hy tree vir altyd vir ons in by dié Majesteit. MAAR Hy doen dit nie vanuit die hoë onbereikbare hemelwoning nie, Hy doen dit in die hart/binneste/innerlike van Jesus-mense.

‘n Nuwe ooreenkoms, ‘n nuwe lewe, ‘n nuwe verstaan word ‘n beter ooreenkoms, ‘n beter lewe, ‘n beter verstaan – moontlik gemaak deur ‘n voortrefliker Hoëpriester en op grond van uitnemender beloftes van God.

Prakties beteken dit: Jesus-mense is die gelukkigstes op aarde, want ons het die allerbeste Advokaat!

Doom Charl

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.