Wednesday, April 9, 2014

Oordenking 13 April 2014


Die finale Offer ooit!

“Deur die één offer het Hy dié wat vir God afgesonder word, vir altyd volkome van sonde vry gemaak.” (Hebreërs 10:14)

Ons is besig om onsself gereed te maak vir die herdenking van die grootste gebeurtenis in die geskiedenis van die mensdom, die kruisiging en die opstanding van Jesus, ons enigste Verlosser. Paasnaweek is vir ons belangriker as Kersdag. Ek is bereid om dit elke jaar te herhaal, so belangrik is dit vir my. Hier is die geloofswaarhede uit die heilige Skrif wat dit bevestig:

1.       “... Jesus Christus het één offer vir die sondes gebring ...” (Hebreërs 10:12a) Die eenmalige sterwe van Jesus aan die kruis was vir ewig die volledige offer vir alle sondes van alle mense van alle tye ... JA, DIT IS WAAR!!!

2.       “... Jesus Christus ... het vir altyd aan die regterhand van God gaan sit.” (Hebreërs 10:12b) Met die finale afhandeling van die verlossing van alle sondaars, neem Jesus vir ewig die heerskappyposisie oor die hele mensdom en die ganse skepping in ... JA, DIT IS WAAR!!!

3.       “Nou wag Hy daar totdat sy vyande aan Hom onderwerp is.” (Hebreërs 10:13) Met die kruisiging is die satan finaal oorwin deur Jesus vir elkeen wat glo in Jesus, maar die satan en sy medewerkers het beperkte mag op aarde totdat die wederkoms van Jesus plaasvind ... JA, DIT IS WAAR!!!

4.       “... het Hy dié wat vir God afgesonder word, vir altyd volkome van sonde vry gemaak.” (Hebreërs 10:14) Elkeen wat glo in Jesus se sterwe en opstanding se geloofswaarheid, dit is elke Jesus-mens, leef nie meer onder die las van die sonde nie ... JA, DIT IS WAAR!!!

5.       “Ook die Heilige Gees betuig dit aan ons.” (Hebreërs 10:15) Die Gees van God in elke Jesus-mens maak die verlossingswerk van Jesus ‘n groeiende werklikheid in elkeen ... JA, DIT IS WAAR!!!

6.       “Aan hulle sondes ... sal Ek nooit meer dink nie.” (Hebreërs 10:17) God hou geen rekord van sonde in Jesus-mense se lewens nie ... JA, DIT IS WAAR!!!

7.       “Waar die sondes vergewe is, is geen offer daarvoor meer nodig nie.” (Hebreërs 10:18) Jesus-mense het glad nie nodig om enige bydrae te lewer of enige opoffering te maak om vergifnis vir enige sonde te ontvang nie ... JA, DIT IS WAAR!!!

Glo jy dat Jesus finaal vir al jou sondes gesterwe het? Hy hét! JA, DIT IS WAAR!!!

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.