Thursday, April 24, 2014

Oordenking 27 April 2014


Om brood wat Lewe gee, uit te deel

“Ek is die brood wat lewe gee. Wie na My toe kom, sal nooit weer honger kry nie ...” (Johannes 6:35)

Daar is waarskynlik baie min van ons wat hier lees, wat ooit werklik honger gely het en nie geweet het waar môre se kos vandaan gaan kom nie. Ek kan my net indink hoe dit moet wees om regtig te voel dat jy wil doodgaan van die honger, en ek praat nie van ‘n besige dag waartydens ons nie tyd gehad het om te eet nie of sulke situasies nie. Aan die ander kant, is daar seker min van ons wat iemand wat vir brood of ietsie te eet vra, sal wegjaag of ten minste ‘n poging aanwend om ‘n regte honger mens te probeer help nie.

Die groot jammerte is dat fisiese honger nie dieselfde is as geestelike honger nie. En die werklikheid is dat ons daagliks met meer geestelik honger mense te doen kry en nie noodwendig dieselfde dringendheid beleef om hulle te help nie. En egte geestelike honger is baie erger as fisiese honger, want dit kan in die uiterste vorm, neerkom om volledig sonder God te lewe. En om sonder God te lewe, is om eintlik “dood’ te wees. Slegs met God is jou lewe, lewe jy werklik.

Maar naas geestelik “dood”-wees, is daar ook ander grade of toestande van geestelike honger: soos om God mis te lewe, veral as daar krisisse in jou lewe is; of om ‘n dieper behoefte aan God te ervaar in jou gewone lewe; of om valslik tevrede te wees met wie God in jou lewe is, dit beteken jy is met minder van Hom in jou tevrede as wat vir jou bedoel is. En so leef baie van ons al te maklik met ‘n geestelike honger wat onnodig is.

Met Jesus in jou hart en in jou lewe, het elke Jesus-mens dan die Lewe – dit is Lewe wat slegs deur Jesus se sterwe en opstanding vir ons moontlik gemaak is. En elkeen wat op hierdie wyse geestelike kos ontvang en so versadig word, kan dit nie vir homself of vir haarself hou nie. Ware Lewe in Christus, is selfloos en wil spontaan en vrywillig gedeel en uitgedeel word.

Jesus het die uitnodiging gerig “Wie na My toe kom, sal nooit weer honger kry nie”. Met Hom in jou as Jesus-mens, word jy self die uitnodiging aan elke geestelik honger mens. Laat jou lewe die brood word wat Lewe beteken vir ander ...

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.