Wednesday, June 18, 2014

Oordenking 22 Junie 2014

As ek klaar vertel het van Jesus ...

“... hoop ... vestig ... op God wat alles ryklik aan ons gee om te geniet.” (1 Timoteus 6:17)

As ek klaar vir iemand van Jesus vertel het, wat Hom dan ingenooi het in sy lewe, wat dan? Gewoonlik volg daar dan in evangelisasie ‘n lysie van doen-dinge om te kan groei as Jesus-mens, dinge soos bid, Bybel lees, kerk toe gaan en getuig. Die verkeerde gevolge hiervan is dat nuwe Jesus-mense nie altyd so maklik hierdie lysie doen-dinge regkry nie en dan van vooraf met skuldgevoelens lewe. Hierdie lysie word nuwe godsdienstige reëls wat nagekom moet word, anders is jy net weer in die moeilikheid by God.

God verwag niks van Jesus-mense nie, Hy het absoluut niks nodig van ons af nie. Indien Hy wel iets nodig het vir sy koninkryk, dan gee Hy dit – Hy gee en doen alles wat Hy nodig vind, in en deur elke Jesus-mens. Dit is sy hoofaktiwiteit dag en nag! Jy kan as Jesus-mens nooit weer in die moeilikheid kom by Hom vir iets wat jy doen of nie gedoen het nie. Hierdie is die kern-leefwyse wat nuwe en ou Jesus-mense nodig het om raak te lewe met Hom in jou!

Om werklik vry te wees as Jesus-mens, beteken dat Hy ryk is. Ja, skatryk in alles wat goed is en Hy deel dit so graag uit en Hy doen dit in ons. Soos jy jou hart oopmaak dat Hy in jou woon en beheer neem in jou, net so gaan dit elke dag voort. Maak jou hart elke dag (eintlik elke sekonde) oop vir sy goeie alles in jou spesifiek ter wille van wie Hy vir jou wil wees. Hy maak jou wat Hy wil hê jy veronderstel is om te wees in sy oë: mededeelsaam, goedhartig, vergewensgesind ...

... dit is ware genot vir Jesus-mense!

Genot is nie jy wat oulik is deur beter te wees as ander, meer pligsgetrou, ryker, slimmer, mooier – dis alles nie-Jesus-mense se idee van genot. Vir elke Jesus-mens is genot Jesus in jou – Hy is en word jou grootste geluk en geniet en lag!

Gaan vertel van die korrekte prentjie van wie God is, maar veral dan wat elke Jesus-mens van Hom in jou kan verwag. Swaarkry, probleme, spanning, krisis, seerkry ... dit is alles deel van elke mens op aarde se lewe, ook vir Jesus-mense. Vertel dit ook vir nie-Jesus-mense, vir nuwe en ou Jesus-mense!
NS Die volgende Oordenking sal weer op 27 Julie 2014 verskyn.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.