Thursday, June 5, 2014

Oordenking 8 Junie 2014


Hoe vertel ek van Jesus?             Geduldig en nooit met dwang

Wat vertel ek van Jesus?             Lewe God raak in die GEWONE LEWE

“... want deur Hom lewe ons, beweeg ons en bestaan ons.” (Handelinge 17:28a)

Elke Jesus-mens dra die sleutel om God se koninkryk vir nie-Jesus-mense oop te sluit: die sleutel is jou tong waarmee jy vir ander van Jesus vertel. Prakties beteken dit dat ons met mense wat ons lewenspad kruis, met vriendelikheid en geduld kan vertel hoe Jesus in ons, vir ons die grootste sekuriteit en rustigheid bied. Natuurlik kan ons nie die werk van die Heilige Gees afdwing nie, en daarom ook nie iemand met dwang Jesus laat innooi in sy lewe nie.

Wat het nie-Jesus-mense nodig om by ons te hoor van Jesus?

·         Jesus het lank gelede volledig betaal vir al ons sonde aan die kruis: dit beteken alle sonde is reeds vergewe!

·         Jesus is die ware God en Hy is die enigste God wat goed is en nooit meer iets teen ons hou nie!

·         Niemand het nodig om enige iets te doen, te gee of op te offer om ‘n Jesus-mens te wees nie – die lewe saam met Jesus is gratis en sonder enige voorskrifte en voorwaardes.

·         Jesus gee ons sy beste, naamlik die Heilige Gees, om ons volledig vol te maak met Homself en vry te maak om werklik te lewe.

·         Jesus-mense is 24/7@365dae in Jesus se teenwoordigheid, en daarom hoef jy nie bang te wees vir enige gevare of probleme nie – Hy is in, by, rondom, onder, bo, langs jou!

·         Jesus is vandag lewendig en kragtig en aktief deur sy Gees besig om jou meer te laat word wat jy reeds vir Hom is.

·         Jy is kosbaar, geliefd, gered, mooi en alles wat jy bedoel is om te wees in God se oë!

Is al hierdie waarhede te teoreties of te veel “kerklike taal”? Dan het dit dringend tyd geword dat ons baie duideliker vir die wêreld sonder Jesus, gaan vertel dat Hy vandag lewe. Gaan vertel hoe jy Hom daagliks raak lewe in klein en groot dinge wat in jou lewe gebeur. Hy is nie ‘n vreemde wese van ‘n ander planeet nie, Hy is planeet aarde se enigste Koning, Hy is steeds in beheer, en Hy wil deel wees van ons daaglikse doen en late op ‘n baie natuurlike en gemaklike wyse.

Ons het nodig om asem te haal om aan die lewe te bly – ware lewe is net so slegs moontlik met God se Gees in jou!

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.