“Die heerlikheid wat van ons uitstraal, neem steeds toe. Dit doen die Here wat die Gees is.”
(2 Korintiërs 3: 18b)
Ek hoor hierdie week een van die beste
beskrywings van hoe mense net so maklik hulle lewensdoel mis: “om arm te wees met
baie geld”. Dit is so ‘n natuurlike ding om jou lewe op die verkeerde doelwitte
te fokus, soos rykdom of prestasie of gewildheid of alle daagse probleme. Daar
is soveel meer in die lewe vir ‘n Jesus-mens, wat die diepte element van ‘n
intieme verhouding met Jesus ontdek.
Daar is ‘n drastiese en radikale verskil
tussen die ou mens sonder Jesus in sy lewe en die nuwe mens wat totaal
oorgegewe aan Jesus lewe: dood of lewe; gebind of vry; verlore of gered; donker
of lig; selfgerig of selfloos; aardsgebonde of vol hemelse heerlikheid; blind
of siende; doof of horend; ensovoorts; ensovoorts.
Nou verduidelik Paulus in 2 Korintiërs 3 hoe
die oorgang van die ou mens na die nuwe mens moontlik is: slegs deur “die Here wat die Gees is”. Niemand van
ons kan onsself verander nie. Niemand van ons kan ander verander nie. Let mooi
op hoe dit in Die Boodskap omskrywe word: “Hoe
meer ons die Here se grootheid raaksien, hoe meer word ons lewe verander om sy
ongelooflike heerlikheid te weerkaats. Dis natuurlik die Here self, Hy wat Gees
is, wat ons verander om al hoe meer te lyk en te leef soos Hy dit wil hê.” (2
Korintiërs 3: 18b)
Die antwoord vir ‘n nuutgemaakte lewe, lê in “hoe meer ons die Here se grootheid raaksien”.
En die enigste praktiese manier, hoe elkeen van ons meer van die Here se
grootheid kan raaksien, is dat ons meer tyd met Hom sal spandeer. Hy hou baie
daarvan dat ons Hom soek, na Hom verlang, spesifieke dinge doen om sy
teenwoordigheid te soek, ingestel is om Hom in die alledaagse te belewe, in
gesprek met Hom te bly. Ja, elkeen van ons kan vir die Here baie bly maak, deur
net baie beter agter te kom hoe baie Hy van ons hou.
Die ongelooflike gevolg van hierdie
Here-nabye-leefwyse, is dat Hy deur elkeen wat so leef, ander se lewens nuut
maak en verander “soos Hy dit wil hê.”
Wil jy baie graag “verander om al hoe meer te lyk en te leef soos Hy dit wil hê”?
Die Here self, wat Gees is, is reeds besig om
jou te verander om sy heerlikheid te weerkaats!