Thursday, June 27, 2013

Oordenking 30 Junie 2013

Oordenking 30 Junie 2013

Glo jy dat Jesus die lewe is?

“Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe al sterwe hy ook ...” (Johannes 11:25)

Mandela lê op sterwe, ek doen twee begrafnisse in een week ... ek dink diep aan ons elkeen se gedagtes oor die dood: my eie, ander naby aan my en selfs hulle wie ek nie ken nie. Is ek gereed? Is diegene naby aan my gereed? Hoe kan ons weet? Wat gebeur na die dood? Baie vrae en nie noodwendig duidelike antwoorde nie, maar ook groot gevare van verkeerd verstaan.

Byvoorbeeld die Rooms Katolieke Kerk het sewe sakramente, onder andere die laaste oliesel, wat deur die priester by ‘n sterfbed bedien moet word. In die Katolieke Ensiklopedie word hierdie “extreme unction” beskryf as die geestelike hulp en gemak en volmaakte gesondheid, insluitend kwytskelding van sonde en voorwaardelike herstel van liggaamlike gesondheid, aan Christene wat ernstig siek is (vry vertaal). Die priester plaas olie (wat deur die biskop geseën is) op sewe liggaamsdele, met die woorde: "Through this holy unction and His own most tender mercy, may the Lord pardon thee whatever sins or faults thou hast committed by sight, by hearing, smell, taste, touch, walking, carnal delectation". Soms kry ek die aanvoeling dat sommige van ons kerkmense iets soortgelyk verwag as die dominee dringend ontbied word na ‘n siekbed.

Die wyse waarop mense optree by ‘n begrafnis, maak my ook erg bekommerd. Ook die manier waarop mense oor die dood praat, maak my erg bekommerd. Dit voel vir my asof dit algemene kennis behoort te wees dat as ‘n bejaarde persoon, wat ‘n goeie lewe gehad het, te sterwe kom, dit beter is. Net so as ‘n baie siek persoon se lyding beëindig word deur die dood, dit beter is. Moet my nie verkeerd verstaan nie, die hartseer oor ‘n leë plek in die familie, is verstaanbaar. Self Jesus het gehuil by Lasarus se sterfbed voordat Hy hom uit die dood opgewek het. MAAR ...

• Is ek gereed? JA! Jesus ís mý volledige gereed wees.
• Is diegene naby aan my gereed? Vra hulle, maak seker, praat met mekaar oor Jesus, dit ís die belangrikste vraag om oor seker te maak.
• Hoe kan ek weet dat ek gereed is vir die dood? Die werking van die Heilige Gees maak my gereed.
• Wat gebeur na die dood? Elke Jesus-mens wat te sterwe kom, ís bý God! (UITROEPTEKEN, niks meer of niks minder nie).

Glo jý dit?

Doom Charl

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.