Wednesday, June 5, 2013

Oordenking 9 Junie 2013

Oordenking 9 Junie 2013

Haal asem, dis Lewe!

“... deur Hom lewe ons, beweeg ons en bestaan ons.” (Handelinge 17:28a)

Let op! Elke Jesus-mens let op! Let op, die Ek-is-ware-lewende-God is 24 uur 7 dae in en by jou! Een van die doen-dinge vir ons as gelowiges, is om op te let dat dié “Ek is”, is in jou en by jou en voor jou en agter jou en onder jou en bo jou en weerskante van jou en rondom jou – ja, altyd oral is waar “jy is”!

Vir elke gesonde mens, is dit bedoel om sonder inspanning asem te haal. Om die waarheid te sê, ons haal die grootste deel van elke dag en nag asem sonder om daaraan te dink. Alle mense, Jesus-mense en nie-Jesus-mense, ontvang lewe en asem en alles van God, wat die wêreld met alles wat daarin is, gemaak het. Asemhaal is nie bedoel om enige inspanning, plig of prestasie te wees nie. Asemhaal vind spontaan, outomaties en stilweg plaas, maar altyd met God se direkte en permanente vermoë. So word alle mense aan die lewe gehou deur die vermoë om asem te haal. Met uitblaas van die laaste lewensasem, tree die finale fisiese dood in.

Dit bring ons by die volgende doen-ding vir Jesus-mense, naamlik om asem te haal, nie net fisies nie, maar ook geestelik. Vir ons wat Jesus-mense is, is daar ‘n onontbeerlike gawe van Lewensasem: die asem van die Gees van God wat die ewigdurende lewe deur die opgestane Jesus is! Híérdie Lewe kom slegs in asemhalende mense deur bekering. Om die hoofletter Gees in te asem, is ‘n goddelike werking wat geen inspanning, plig of prestasie vra nie. Dis spontaan, outomaties en stilweg, want só en net só, werk God in Jesus-mense. En eers wanneer jy só asemhaal deur die hoofletter Lewe in jou, lewe jy werklik!

“asemhaal” is verseker ‘n werkwoord, in die Verklarende Woordeboek beskrywe as “die intrek en uitstoot van lug deur die longe”. So is dit ‘n doen-ding vir Jesus-mense. Kom ons oortree die reëls van Bybelverklaring en pas dit allegories toe: die “intrek van lug” is die soeke na God, om gedurig op te let na Hom in jou; en die “uitstoot van die lug” is die sigbaarmaking na buite van Hom in jou, dat ander mense Hom in jou kan sien.

Alles wat deur God van ‘n Jesus-mens verwag word om te doen, is alleen moontlik deur God se innerlike en innige werking van sy Gees in jou. En asemhaal is ‘n akkurate beskrywing van God se werk in jou en jou medewerking: trek die lewe-gewende Gees-asem diep in en blaas die lewens-veranderende Gees-asem uit.

Doom Charl

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.